Tuesday, 10 March 2020

DIE GODSDIENSMENS OF DIE NUWE MENS


"Mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het..." 2 Timotheüs 3:5a

”Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." 2 Kor. 5:17 

Die godsdiensmens op sy beste is gekultiveerd en ingelig.  Hy het baie jare spandeer in formele of persoonlike studies om seker te maak dat niemand die feite beter as hy ken nie. Die nuwe mens weet dat hy niks weet in en uit homself nie, maar dat dit net die Heilige Gees is wat sy oë kan open om hemelse werklikhede te verstaan, maar meer belangrik om dit uit te leef.  As die Here hom gelei het op die pad van formele opleiding plaas hy geen vertroue in dit nie, maar handhaaf onwrikbaar sy geloof in die innerlike lering wat net die Gees van God kan skenk.

Die godsdiensmens is soms ook hoogs emosioneel en jaag na elke moontllike ervaring en nuwe profeet wat die groot gaping tussen gevoel en geestelike werklikheid kan opvul.  Die nuwe mens is nie gekant teen ervaring nie, maar volhard gelowig en geduldig met albei oë op Jesus in afwagting van die ryke ervaring wat ware kennis van God sonder uitsondering oplewer vir die wat onverstoord op God se volmaakte tydsberekening vertrou.

Die godsdiensmens "raak nie, smaak nie, roer nie aan nie", maar hou sy wil in ysere dissipline onder die reëls, regulasies, instellings  en voorskrifte van die voorgeskrewe kerkprogram wat netjies uiteengesit is deur die voltydse religieuse amptenare.  Die nuwe mens se dissipline word stap vir stap bepaal deur sy liefde vir Jesus en die kosbare innerlike leiding van die Heilige Gees.  Sy liefde vir die Woord van God verdiep jaar vir jaar en hy beleef hoe die volmaakte wil van God die kamers van sy hart binnedring en vul met 'n vreugdevolle en kinderlike gehoorsaamheid.

No comments:

Post a Comment