Thursday, 19 March 2020

ADAM KAN NIE VIR ADAM VERANDER NIE


Menslike godsdiens se groot probleem is dat dit ons heeltyd besig hou met onsself.  Dit bevorder introspeksie en introspeksie is van geen nut vir die geestelike lewe nie. Inteendeel, dit is skadelik, want dit hou my fokus weg van die enigste ware bron van lewe en verandering, Jesus Christus. 

Begin altyd deur weg te kyk van jouself. Dit is slegs in die lig van Christus wat ons onsself werklik kan sien en slegs in Sy aangesig kan ons gelei word na ware bekering.  As ek met 'n "geestelike gereedskapskas" wil inklim en begin karring aan my siel om te sien wat alles verkeerd is, gaan ek baie meer skade doen as goed.

"Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Psalms 36:10

Dit is veel beter om ag te gee op God se oproep om in geloof na Hom te gaan sodat Hy sy lig kan skyn in my binneste.  Hy is die hartekenner en weet nie net presies wat verkeerd is nie, maar ook hoe om herstel te bring.

"Kom na My toe..." Mattheüs 11:28a

"Nader tot God..." Jakobus 4:8a

Kom ons neem kortliks die lewe van die profeet Jesaja as 'n voorbeeld.  Sy roeping begin in die teenwoordigheid van God, nie met introspeksie nie.

"In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het." Jesaja 6:1

"Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!" Jesaja 6:5

Let op dat Jesaja hierdie belydenis van sy verlorenheid eers maak nadat hy in die teenwoordigheid van God homself sien in die lig van die heiligheid van God.  Gevolglik tree God op en bring herstel en dit is eers op daardie punt wat Jesaja sy roeping en bediening ontvang.

"Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen." Jesaja 6:6-7

"Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my." Jesaja 6:8

Is dit nie een van die redes waarom ons relatief min dissipels vandag sien wat in staat is om ander mense te bedien met die krag van die evangelie nie?  Ons is so besig met onsself in die konteks van 'n menslike vormgodsdiens dat ons nie die krities belangrike stap van wegkyk-van-self-na-Jesus neem sodat die proses van ware bekering, genesing, herstel, heiliging en gevolglik bediening geaktiveer kan word nie.

No comments:

Post a Comment