Wat 'n onbeskryflike voorreg om
te kan lees oor dit wat die apostel Johannes gesien het in die troonkamer van
God. Lees die hoofstuk en luister dan na die kort lering. Mag die
Heilige Gees ons almal se harte en verbeelding in Christus so aangryp dat ons
hele lewe sal begin gaan daaroor om "die dinge daarbo te bedink"
(Kolossense 3:1-4) en om dan vanuit die troonkamer te begin dink oor ons lewens
op aarde.
Daar is geen ander manier om te
leef vir 'n dissipel van Jesus nie. Die dinge op aarde begin vervaag en
die hemelse werklikhede word al hoe duideliker wanneer ons die opdragte in
Kolossense drie verse een en twee ernstig begin opneem!
"Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n
geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my
hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie
dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon
in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms
gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat
in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. En rondom die troon was daar vier en
twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit,
bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. En daar
het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe
vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor
die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon
en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. En die
eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n
kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde
lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg. En die vier lewende wesens het elkeen
vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle
het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die
Almagtige, wat was en wat is en wat kom! En elke keer as die lewende wesens
heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in
alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die
troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone
voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en
die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is
hulle geskape." Openbaring 4:1-11
No comments:
Post a Comment