Die Nuwe Testament se benadering tot heiligmaking (heiliging/lewensverandering) is radikaal anders as die algemene idees wat oningeligte dissipels en soms hele gemeentes dikwels handhaaf.
Ons word nie geroep om net uit dankbaarheid, omdat ons sondes vergewe is, nou ons bes te probeer om beter mense te wees nie. En dan te vertrou dat die Here ons darem net so 'n hupstootjie sal gee om dit bietjie makliker te maak vir ons nie.
Ons word eerder opgeroep om te besef dat ons reeds in Christus gesterf het vir die sonde (Rom. 6:2, 11) en dat ons in daardie oorwinning van Christus sondedade en sondepatrone kan "doodmaak" en "aflê". Heiliging op aarde vind dus plaas vanuit 'n hemelse posisie en 'n stryd wat reeds deur Jesus gewen is (Kolossense 3:1-4).
"Maak dood dan julle lede wat op die aarde is,
naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat
afgodediens is." Kolossense 3:5
"Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik
toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond."
Kolossense 3:8
Hierdie soort
heiligingstaal is egter so vreemd vir ons
as ons nog nooit werklik mooi opgelet het na die werkwoorde in die Nuwe
Testament nie dat dit 'n groot kopskuif verg om dit jou eie te maak en
heeltemal anders te begin dink oor hoe God regtig mense se lewens
verander.
Laat vaar geheel
en al jou eie idees, populêre sieninge, motiveringsfoefies en sielkundige
truuks wat so baie belowe, maar nooit langtermyn verandering kan bring
nie. Omhels daarenteen met jou hele hart
en siel die Bybelse benadering van "dood vir die ou skepping" en
"lewend vir die nuwe skepping" IN CHRISTUS! Dit is die enigste vaste grond; die res is
dryfsand.