Is dit moontlik om soos ‘n dissipel van Jesus te lyk,
maar nie werklik een te wees nie? Jesus
het in Joh. 8:31 gesê: “As julle in my
woord bly, is julle waarlik my dissipels.”
Ware dissipels het ‘n aptyt vir die Woord van Christus en op grond van
die wedergeboorte ‘n innerlike begeerte om dit te gehoorsaam. Ons het onlangs op ‘n plaas by McGregor
gekuier en daar het die boer drie hanslammertjies gehad. Ons was gelukkig om te sien hoe honger en dringend
hulle hul melk leeggesuig het. Dit het
ons herinner aan 1 Petrus 2:2 wat sê “verlang sterk soos pasgebore kindertjies
na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.”
Daarom het bedienaars van die Woord die verantwoordelikheid
om dissipels te voed met die Woord. In
ons bediening aan ander is dit uiters belangrik om te waak daarteen om
gewildheid vir onsself te probeer werf deur sielkundige boodskappe te preek wat
die ore streel of stories en praktiese lesse sonder ‘n leerstellige inhoud,
motiveringsboodskappe sonder die krag van God d.m.v. die evangelie,
ensovoorts. Predikers kom dikwels vandag
in versoeking om agter die massas aan te gaan en die “amper-dissipel” gelukkig
te hou in plaas van om ware dissipels te voed met die Woord. Hierdie benadering maak dit haas onmoontlik
vir ware dissipels om volwassenheid in Christus te bereik (Efes. 4:11-16). Soos iemand gesê het “in plaas van om die
skape te voed, vermaak ons die bokke”.
Verder is dit ononderhandelbaar dat die Evangelie in
gemeentes duidelik en sonder kompromie verkondig word met ‘n appèl op bekering
en wedergeboorte, sodat “amper-dissipels” ware dissipels kan word.
“En Ek sal aan julle gee herders na
my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.” Jer. 3:15
No comments:
Post a Comment