Wednesday, 12 February 2014

DIE HEERLIKE VERLOSSING UIT MENSLIKE GODSDIENS-SISTEME

"En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken."  Jn. 10:4

Die dag wat 'n ware dissipel werklik sien dat hy reeds alles in Jesus ontvang het wat hy ooit sal nodig hê vir hierdie lewe en die volgende, verander alles.  Geen manipulasie of intimidasie kan jou dan geketting hou aan menslike godsdiens-sisteme nie.   Geen dreigement of omkoopgeskenk kan jou meer terughou nie.   Geen skuld of veroordeling van godsdienstige mense kan jou meer gekluister hou in die klooster van ‘n ambisieuse leierskap se individualistiese visie en agenda nie.  Geen humanistiese gepaaiery of slim truuks van die sielkunde kan jou flous of oortuig om te kompromitteer nie.  Jy volg Jesus alleen voortaan in die vryheid van die kinders van God, om Hóm te dien saam met ander dissipels wat net onder Sý juk wil staan.  Jésus se visie en agenda is nou jou een passie.  ‘n Passie wat jy deel met ander dissipels in liefdevolle onderdanigheid aan mekaar onder die heerskappy van Jesus (Efes. 5:20-21).

"STAAN dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."  Gal. 5:1

"Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God."  Jn. 12:42-43


"Want my juk is sag en my las is lig."  Mt. 11:30

1 comment: