“En
Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal
die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal
maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” Eseg. 36:26-27
Die
belofte van die Nuwe Verbond het alles te doen met ‘n nuwe hart. Uit die hart vloei “die oorspronge van die
lewe” (Spr. 4:23). Daarom is die
wedergeboorte onontbeerlik en godsdiens sonder ‘n nuwe hart nie net dwaas en
geheel en al nutteloos nie, maar sekerlik die gevaarlikste leefruimte op
aarde. Hoekom? Want dit is moontlik vir ons om met al ons godsdiens
rites en rituele totaal mislei te wees en onsself te verbeel dat
godsdiensbeoefening en allerhande godsdienstige aktiwiteite God vreeslik beïndruk
en outomaties Sy guns waarborg. Die
Bybel leer egter duidelik dat God slegs beïndruk is met dit wat Hyself inisieër
en onderhou in en deur Sy geliefde Seun (Rom. 11:36). Daarom is gemeentes, groepe, en bedieninge waar
persoonlike bekering, wedergeboorte, en die nuwe lewe in Christus nie verkondig
en konstant beklemtoon word as die basis van alles wat ons doen nie, gevaarlike
plekke. Daar vind ons gewoonlik groot
getalle mense “wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan
verloën het” (2 Tim. 3:5). Wat dit so
gevaarlik maak is dat hierdie mense gewoonlik salig onbewus is daarvan dat
hulle heeltemal verlore is en ‘n ewigheid sonder God tegemoet gaan. Dan liewer ‘n opperste wêreldling wat bewus
is van sy behoefte aan redding. Mag God
ons ‘n las gee vir verlore godsdienstige mense en ‘n dringendheid in ons gees
om reguit te praat oor wedergeboorte. Om
ons op te hou met allerhande godsdienspraatjies as dit nie gebaseer is op die
nuwe lewe in Christus nie, is dwaas en gevaarlik.
“Jesus
antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer
gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Jn. 3:3
“En
dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons
dan ook blind? Jesus antwoord hulle: As
julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien!
Daarom bly julle sonde.” Jn. 9:40-41
No comments:
Post a Comment