Friday 29 May 2015

DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 2: VREDE

In Lukas 2 word daar op grond van Jesus se geboorte “vrede” vir die mensdom aangekondig: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” Lukas 2:14.    Net ‘n ent verder aan in dieselde boek (Lukas 12) klink dit egter of Jesus presies die teenoorgestelde sê en nie eers weet van die uitspraak van die engele by Sy geboorte nie!  "Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie." Lukas 12:51-52


Hoe moet ons dit verstaan?  Ons moet dit lees in terme van die konflik tussen die koninkryk van duisternis en die koninkryk van lig. Dit is die breër agtergrond van die hele Bybel en verklaar baie oënskynlike teenstrydighede.  Hierdie konflik stel ons almal voor ‘n keuse.  Omhels die Prins van Vrede en jy sal die vrede van die koninkryk van lig beleef, weerstaan Hom en jy bly sit met die vlietende en onvoorspelbare “vrede” van die wêreld.  Terselfdertyd is daar dan ook konflik tussen die twee koninkryke in huise waar die vrede deur sommige omhels en deur ander verwerp word (Lukas 12 bo).  In Johannes 14 bemoedig Jesus Sy dissipels deur die belofte van Sy eie vrede wat vir ons as ‘n geskenk gegee word.  Hy maak dit egter baie duidelik dat dit nie die wêreld se soort vrede is nie.  In Johannes 16 sê Jesus dat Hy graag vir ons in Homself vrede wil gee, maar beklemtoon weereens dat dit in kontras is met die “verdrukking” wat ons in die wêreld sal beleef. "Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê." (Joh. 16:33a).  In Romeine 12 kry ons ‘n opdrag om van óns kant af in vrede te leef met alle mense. "As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense." (Rom. 12:18).  Dit leer ons weer om sover dit vir ons moontlik is konflik te vermy, selfs al weet ons dat dit onvermydelik is dat die twee koninkryke moet bots.  Elkeen van hierdie stellings word in ‘n spesifieke konteks gegee.  Saam gee dit vir ons ‘n pragtige balans en word God se wysheid vir ons deurgegee op ‘n manier wat ons voorberei om in elke lewenssituasie die vrede van die koninkryk van lig (Rom. 14:17) te behou.  

Monday 25 May 2015

DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 1: INLEIDING

"Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie." Matt. 4:5-7


Die duiwel weet ook hoe om die Skrif aan te haal. Hy het al begin om God se woorde te verdraai in die tuin van Eden; "MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?" (Gen. 3:1).  Daar het hy Eva probeer uitlok deur God se woorde verkeerd aan te haal. In Mattheüs 4 haal hy die Skrif reg aan (Ps. 91:11-12), maar probeer Jesus kry om 'n verkeerde toepassing daarvan te maak.  Jesus antwoord hom deur 'n ander teks aan te haal wat balans bring en begrip gee van God se bedoeling met die eerste aanhaling.  Paulus sê in Handelinge 20 vers 27 vir die ouderlinge van die gemeente in Éfese dat hy aan hulle die "hele raad van God" verkondig het.  Die Skrif is self die beste verklaarder van die Skrif.  Wanneer ons die Bybel in konteks lees en dit wat die Bybel op een plek sê oor 'n saak vergelyk met dit wat op ander plekke gesê word, kry ons die volle prentjie en gaan ons oë oop vir die "hele raad van God".  Dit vrywaar ons van menige oorhaastige interpretasie en onwyse optredes, wat gebore word uit 'n oppervlakkige omgang met die Woord van God.  Mag die Vader vir ons almal leergierige harte gee wat bereid is om met nederigheid die Skrifte deeglik te ondersoek om Sý wysheid daar uit te haal tot seën van baie.  

DIE VOORDEEL VAN DIE KRUIS SONDER DIE OORDEEL VAN DIE KRUIS

Hoe strook die verkondiging van vergifnis van sondes in die Nuwe Testament met die eis dat ons elke dag ons kruis moet opneem? Eersgenoemde is sulke verstommende goeie nuus, maar laasgenoemde klink waarlik soos 'n ander boodskap.  Eersgenoemde spreek my vry, maar laasgenoemde klink soos 'n swaar las wat my weer van voor af moedeloos maak. Ek kan die oplossing net vind deur alles wat Jesus gesê het oor die kruis onvoorwaardelik te aanvaar en op te let na die konteks van Sy stellings. Ons is almal geneig om te gou opinies te vorm voordat ons die “hele raad van God” (Hand. 20:27) in die Skrif toegelaat het om ons diepliggend aan te spreek.

"In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade." Efes. 1:7

"EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Lukas 9:23-24

Dit is krities belangrik vir jou en my verstaan van die Bybel en ons geestelike groei dat ons die oënskynlike teenstrydighede daarin moet kan balanseer in die konteks van die hele Skrif.  Anders gaan ons nie vaste grond onder ons voete hê nie, maar 'n onderliggende verwarring wat geestelike groei amper onmoontlik maak. Dit lei dan ook dikwels tot dwaling weens 'n verdraaiing van die Skrifte.

Aan die een kant bring die kruis vir my 'n kosbare boodskap van genade en vergifnis, maar aan die ander kant vereis die kruis 'n wegdraai van my ou lewe. Ek moet beide die voordeel en die oordeel (wat ook na die omhelsing 'n voordeel is!) van die kruis omhels om 'n ware dissipel van Jesus te kan wees. Bekering beteken dan juis dat ek gedraai het teen my eie sondige onafhanklikheid en die kruis nou toelaat om te skei en te oordeel.  In 'n huwelik kry ek al die voordele van 'n kosbare verbintenis met my bruid of bruidegom, maar ek moet bereid wees om te verklaar "ek versaak alle ander en neem jou as my enigste".  Jesus vra niks minder nie.  As ons hierdie "oordeel" dus reg verstaan is dit ook verstommende goeie nuus. Vergifnis van die skuld van my sondes én verlossing van die mag van die sonde. Twee kante van dieselfde muntstuk.  Baie goeie nuus as jy bereid is om die ou lewe vaarwel toe te roep, maar minder goeie nuus as jy net die voordeel soek sonder die "oordeel".  Pasop vir boodskappe wat die kruis eensydig verkondig.  Dit is een van die duidelikste tekens van afvalligheid in die moderne kerk .


Monday 18 May 2015

WANNEER GOD EIS DAT EK ALLE ANDER LIEFDES MOET HAAT

Reeds in die Ou Testament vra God dat die wat sê dat hulle Hom ken se lewens gekenmerk moet word deur ‘n passievolle, alles-oorheersende liefde vir Hom wat alle ander liefdes oorskadu.  In Deuteronomium 6 vers 5 kry God se mense van ouds die opdrag jy moet “die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.“  Met Jesus se koms na hierdie aarde sê Hy dieselfde ding, maar op ander, soms verstommende, maniere.  Soos byvoorbeeld, “as iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Luk. 14:26).   Bedoel Jesus regtig letterlik dat ek diegene wat die naaste aan my is moet haat?  Die Bybel is die beste verklaarder van die Bybel.  M.a.w. ons moet dikwels Skrif met Skrif vergelyk voor ons regtig kan verstaan wat God vir ons in ‘n spesifieke gedeelte wil sê.  In hierdie geval werp Mattheüs 10:37-39 wonderlike lig op die moeilike teks in Lukas 14.  “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.”  Jesus maak dit hier duidelik dat selfs ons mees kosbare en intieme verhoudings op hierdie aarde nooit ons liefde vir Hom mag bedreig en oorheers nie.  As dit gebeur moet ons daardie liefdes haat sodat ons, ons liefde vir God kan beskerm en die sentrale plek daarvoor in ons harte kan behou.  Hy is God, Hy mag dit eis.  Meer nog, Hy moet dit eis, anders is Hy nie God nie, maar net nog ‘n afgod.

Thursday 14 May 2015

HEILIGE GEWELD

“Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.”  Mattheüs 11:12 


Die Nuwe Testament praat van ‘n heilige geweld wat vir ons baie vreemd klink as ons nie die stryd verstaan om ons harte onder die invloed van die evangelie te hou nie.   In die lig van die nuwe era wat in Christus aangebreek het, kan nie een van ons die nodigheid vir heilige geweld ontvlug nie.  Ons moet radikaal werk met ons eie harte en die dinge wat die geestelike oes in ons lewens bedreig (Luk. 8:14) met geweld weerstaan en verwyder.  Jesus sê byvoorbeeld ons moet vader, moeder, kinders, en selfs ons eie eie lewe haat ter wille van die koninkryk (Luk. 14v26).  Hy sê ons moet ons “oog uitruk” en ons “hand afkap” (Matt. 5:29-30) as ons lewe in die koninkryk daardeur bedreig word.  Paulus brei uit op hierdie lering van Jesus en sê ons moet ons lede wat op die aarde is “doodmaak” (Kol. 3:5).  Hierdie terme spreek almal van ‘n heilige geweld.  Dit is hoe radikaal ons moet werk met ons eie harte in die era van die Nuwe Verbond (Heb. 1v:1-2).  Satan kom elke dag met al sy magte en kragte teen ons om te steel, te slag en te verwoes.  Dit is net deur ‘n vasberade en heilige geweld wat ons, ons harte kan beskerm en sodoende die Heilige Gees toe kan laat om die koninkryk in en deur ons te laat kom d.m.v. die groei van die saad wat met wedergeboorte in ons geplant is (Gal. 3:16; 1 Joh. 3:9).  “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). 

Monday 11 May 2015

JY IS NOU OOK ‘N PRIESTER!

Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” 1 Petrus 2:9


In die Ou Testament het net die stam van Levi priesterdiens verrig en met die heilige dinge van die tempel gewerk.  Die res van Israel het hulle dag tot dag lewens as’t ware “op ‘n afstand” van die tempel gelei.  In die Nuwe Testament is álle dissipels van Jesus egter priesters en werk daagliks met die heilige dinge van die tempel, want ons is “in Christus” en Hy in ons.  Ons sit saam met Hom in hemelse plekke en ons lewe is saam met Hom verborge in God.  Nie net ons diens nie, maar onsself is afgesonder vir God!  Daarom word ons “heiliges” genoem in die Nuwe Testament en het ons ook die onuitspreeklike voorreg om God se tempel te wees waarin Hy woon (1 Kor. 6:19; Gal. 2:20).  Vir wedergebore mense bestaan daar dus nie meer so iets soos ‘n sekulêre lewe van Maandag tot Saterdag en ‘n geestelike lewe op ‘n Sondag nie.  Elke dag, ja selfs elke oomblik, is ons in die teenwoordigheid van God en verwag Hy van ons om priesterdiens te verrig in alles wat ons sê en doen.  Al het ons verslkillende funksies in die gemeente, bestaan daar ook nie vir ons so iets soos predikante, dominees, pastore en ouderlinge wat op ‘n spesiale manier priesterdiens verrig nie.  Nee, ons is in werklikheid almal priesters.  Die funksies verskil, maar die werklikheid van ons afsondering vir God in Sy heilige teenwoordigheid is vir ons almal presies dieselfde onder ‘n Nuwe Verbond.  Dit is tyd dat ons as gemeente van die Here wakker word en begin leef in ons roeping.  Waar jy ookal beweeg is jy ‘n priester-ingenieur, ‘n priester-besigheidsman, ‘n priester-huisvrou, ‘n priester-trokbestuurder, ‘n priester-argitek, ensovoorts.  Op Sondae vergader ons as ‘n gemeente van priesters om saam die heerlikheid van God te beleef, nie om terug te sit en te kyk hoe een “priester” (pastoor/dominee) funksioneer nie.  Ons bring almal wanneer ons vergader heilige offers (Rom. 12:1; Fil. 4:18; Heb. 13:15), hef heilige hande op, en spreek heilige gebede en woorde in God se teenwoordigheid; indien nie almal hoorbaar nie, dan wel in ons harte. 

Monday 4 May 2015

IS DIT GOEIE NUUS VIR GOEIE MENSE?

Die evangelie is 'n boodskap wat ons vertel hoe verlore mense gered word, nie hoe goeie mense beter mense word nie.

"Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." Rom. 5:8


Die goeie nuus van God se verstommende genade vir verlore mense is bedoel om ons innerlik so te reinig en vry te maak van ons knaende self-gerigtheid dat ons spontaan sal begin om met ander te praat van hierdie onverklaarbare liefde in die hart van 'n Vader wat uitdrukking gevind het in die onbaatsugtige self-opoffering van 'n Seun.  Die krag van die evangelie is 'n bonatuurlike kommunikasie tussen die hoogste heerlikheid denkbaar en die diepste verlorenheid wat 'n mensehart ooit kan beleef.  God se liefde is bewys in die nederige kruis en wil ons keer op keer weer oorweldig en die hoogmoed uit ons harte verjaag.