“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n
koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te
verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy
wonderbare lig.” 1 Petrus 2:9
In
die Ou Testament het net die stam van Levi priesterdiens verrig en met die
heilige dinge van die tempel gewerk. Die
res van Israel het hulle dag tot dag lewens as’t ware “op ‘n afstand” van die
tempel gelei. In die Nuwe Testament is álle
dissipels van Jesus egter priesters en werk daagliks met die heilige dinge van
die tempel, want ons is “in Christus” en Hy in ons. Ons sit saam met Hom in hemelse plekke en ons
lewe is saam met Hom verborge in God.
Nie net ons diens nie, maar onsself is afgesonder vir God! Daarom word ons “heiliges” genoem in die Nuwe
Testament en het ons ook die onuitspreeklike voorreg om God se tempel te wees
waarin Hy woon (1 Kor. 6:19; Gal. 2:20).
Vir wedergebore mense bestaan daar dus nie meer so iets soos ‘n sekulêre
lewe van Maandag tot Saterdag en ‘n geestelike lewe op ‘n Sondag nie. Elke dag, ja selfs elke oomblik, is ons in
die teenwoordigheid van God en verwag Hy van ons om priesterdiens te verrig in
alles wat ons sê en doen. Al het ons
verslkillende funksies in die gemeente, bestaan daar ook nie vir ons so iets
soos predikante, dominees, pastore en ouderlinge wat op ‘n spesiale manier
priesterdiens verrig nie. Nee, ons is in
werklikheid almal priesters. Die
funksies verskil, maar die werklikheid van ons afsondering vir God in Sy
heilige teenwoordigheid is vir ons almal presies dieselfde onder ‘n Nuwe
Verbond. Dit is tyd dat ons as gemeente
van die Here wakker word en begin leef in ons roeping. Waar jy ookal beweeg is jy ‘n
priester-ingenieur, ‘n priester-besigheidsman, ‘n priester-huisvrou, ‘n
priester-trokbestuurder, ‘n priester-argitek, ensovoorts. Op Sondae vergader ons as ‘n gemeente van
priesters om saam die heerlikheid van God te beleef, nie om terug te sit en te
kyk hoe een “priester” (pastoor/dominee) funksioneer nie. Ons bring almal wanneer ons vergader heilige
offers (Rom. 12:1; Fil. 4:18; Heb. 13:15), hef heilige hande op, en spreek
heilige gebede en woorde in God se teenwoordigheid; indien nie almal hoorbaar
nie, dan wel in ons harte.
No comments:
Post a Comment