Reeds
in die Ou Testament vra God dat die wat sê dat hulle Hom ken se lewens
gekenmerk moet word deur ‘n passievolle, alles-oorheersende liefde vir Hom wat
alle ander liefdes oorskadu. In Deuteronomium 6 vers 5 kry God se mense
van ouds die opdrag jy moet “die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met
jou hele siel en met al jou krag.“ Met
Jesus se koms na hierdie aarde sê Hy dieselfde ding, maar op ander, soms
verstommende, maniere. Soos byvoorbeeld,
“as iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders
en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie
wees nie” (Luk. 14:26). Bedoel Jesus regtig letterlik dat ek diegene
wat die naaste aan my is moet haat? Die
Bybel is die beste verklaarder van die Bybel. M.a.w. ons moet dikwels Skrif met Skrif
vergelyk voor ons regtig kan verstaan wat God vir ons in ‘n spesifieke gedeelte
wil sê. In hierdie geval werp Mattheüs
10:37-39 wonderlike lig op die moeilike teks in Lukas 14. “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie
waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg
nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe
vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.” Jesus maak dit hier duidelik dat selfs ons
mees kosbare en intieme verhoudings op hierdie aarde nooit ons liefde vir Hom
mag bedreig en oorheers nie. As dit
gebeur moet ons daardie liefdes haat sodat ons, ons liefde vir God kan beskerm
en die sentrale plek daarvoor in ons harte kan behou. Hy is God, Hy mag dit eis. Meer nog, Hy moet dit eis, anders is Hy nie
God nie, maar net nog ‘n afgod.
No comments:
Post a Comment