In Lukas 2 word daar op grond van
Jesus se geboorte “vrede” vir die mensdom aangekondig: “Eer aan God in die
hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” Lukas 2:14. Net ‘n ent verder aan in dieselde boek
(Lukas 12) klink dit egter of Jesus presies die teenoorgestelde sê en nie eers
weet van die uitspraak van die engele by Sy geboorte nie! "Dink
julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar
eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees,
drie teen twee en twee teen drie." Lukas 12:51-52
Hoe moet ons dit verstaan? Ons moet dit lees in terme van die konflik
tussen die koninkryk van duisternis en die koninkryk van lig. Dit is die breër
agtergrond van die hele Bybel en verklaar baie oënskynlike teenstrydighede. Hierdie konflik stel ons almal voor ‘n
keuse. Omhels die Prins van Vrede en jy
sal die vrede van die koninkryk van lig beleef, weerstaan Hom en jy bly sit met
die vlietende en onvoorspelbare “vrede” van die wêreld. Terselfdertyd is daar dan ook konflik tussen
die twee koninkryke in huise waar die vrede deur sommige omhels en deur ander
verwerp word (Lukas 12 bo). In Johannes 14 bemoedig Jesus Sy dissipels deur die
belofte van Sy eie vrede wat vir ons as ‘n geskenk gegee word. Hy maak dit egter baie duidelik dat dit nie
die wêreld se soort vrede is nie. In Johannes 16 sê Jesus dat Hy graag vir
ons in Homself vrede wil gee, maar beklemtoon weereens dat dit in kontras is
met die “verdrukking” wat ons in die wêreld sal beleef. "Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My
vrede kan hê." (Joh. 16:33a).
In Romeine 12 kry ons ‘n opdrag om van óns kant af in vrede te leef met
alle mense. "As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met
alle mense." (Rom. 12:18). Dit leer ons weer om sover dit vir ons
moontlik is konflik te vermy, selfs al weet ons dat dit onvermydelik is dat die
twee koninkryke moet bots. Elkeen
van hierdie stellings word in ‘n spesifieke konteks gegee. Saam gee dit vir ons ‘n pragtige balans en
word God se wysheid vir ons deurgegee op ‘n manier wat ons voorberei om in elke
lewenssituasie die vrede van die koninkryk van lig (Rom. 14:17) te behou.
No comments:
Post a Comment