"Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en
laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is,
werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U,
en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp
nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie
versoek nie." Matt. 4:5-7
Die duiwel weet ook hoe om die Skrif aan te haal. Hy het
al begin om God se woorde te verdraai in die tuin van Eden; "MAAR die
slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het. En
hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al
die bome van die tuin nie?" (Gen. 3:1).
Daar het hy Eva probeer uitlok deur God se woorde verkeerd aan te haal.
In Mattheüs 4 haal hy die Skrif reg aan (Ps. 91:11-12), maar probeer Jesus kry
om 'n verkeerde toepassing daarvan te maak. Jesus antwoord hom deur 'n ander teks aan te
haal wat balans bring en begrip gee van God se bedoeling met die eerste
aanhaling. Paulus sê in Handelinge 20
vers 27 vir die ouderlinge van die gemeente in Éfese dat hy aan hulle die "hele raad van God"
verkondig het. Die Skrif is self die
beste verklaarder van die Skrif. Wanneer
ons die Bybel in konteks lees en dit wat die Bybel op een plek sê oor 'n saak
vergelyk met dit wat op ander plekke gesê word, kry ons die volle prentjie en
gaan ons oë oop vir die "hele raad van God". Dit vrywaar ons van menige oorhaastige
interpretasie en onwyse optredes, wat gebore word uit 'n oppervlakkige omgang
met die Woord van God. Mag die Vader vir
ons almal leergierige harte gee wat bereid is om met nederigheid die Skrifte
deeglik te ondersoek om Sý
wysheid daar uit te haal tot seën van baie.
No comments:
Post a Comment