Hoe strook die verkondiging van vergifnis van sondes in
die Nuwe Testament met die eis dat ons elke dag ons kruis moet opneem?
Eersgenoemde is sulke verstommende goeie nuus, maar laasgenoemde klink waarlik
soos 'n ander boodskap. Eersgenoemde
spreek my vry, maar laasgenoemde klink soos 'n swaar las wat my weer van voor
af moedeloos maak. Ek kan die oplossing net vind deur alles wat Jesus gesê het oor die kruis onvoorwaardelik
te aanvaar en op te let na die konteks van Sy stellings. Ons is almal geneig om
te gou opinies te vorm voordat ons die “hele raad van God” (Hand. 20:27) in die
Skrif toegelaat het om ons diepliggend aan te spreek.
"In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die
vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade." Efes. 1:7
"EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom,
moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat
sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor,
hy sal dit red. Lukas 9:23-24
Dit is krities belangrik vir jou en my verstaan van die
Bybel en ons geestelike groei dat ons die oënskynlike teenstrydighede daarin
moet kan balanseer in die konteks van die hele Skrif. Anders gaan ons nie vaste grond onder ons
voete hê nie, maar 'n
onderliggende verwarring wat geestelike groei amper onmoontlik maak. Dit lei
dan ook dikwels tot dwaling weens 'n verdraaiing van die Skrifte.
Aan die een kant bring die kruis vir my 'n kosbare
boodskap van genade en vergifnis, maar aan die ander kant vereis die kruis 'n
wegdraai van my ou lewe. Ek moet beide die voordeel en die oordeel (wat ook na
die omhelsing 'n voordeel is!) van die kruis omhels om 'n ware dissipel van
Jesus te kan wees. Bekering beteken dan juis dat ek gedraai het teen my eie
sondige onafhanklikheid en die kruis nou toelaat om te skei en te oordeel. In 'n huwelik kry ek al die voordele van 'n
kosbare verbintenis met my bruid of bruidegom, maar ek moet bereid wees om te
verklaar "ek versaak alle ander en neem jou as my enigste". Jesus vra niks minder nie. As ons hierdie "oordeel" dus reg
verstaan is dit ook verstommende goeie nuus. Vergifnis van die skuld van my
sondes én verlossing van die mag van die sonde. Twee kante van dieselfde
muntstuk. Baie goeie nuus as jy bereid
is om die ou lewe vaarwel toe te roep, maar minder goeie nuus as jy net die
voordeel soek sonder die "oordeel". Pasop vir boodskappe wat die kruis eensydig
verkondig. Dit is een van die
duidelikste tekens van afvalligheid in die moderne kerk .
No comments:
Post a Comment