Wednesday, 25 October 2017

DIE GEVAAR VAN DIE ONGETEMDE TONG

Daar was 'n versoeker in die tuin van Eden en hy het op 'n baie slinkse manier die mens gelei na ongehoorsaamheid aan God en gevolglike slawerny aan homself. Voortaan sou hierdie verleier en versoeker die kitaar slaan in die mens se binneste, terwyl hy alles in sy vermoë doen om die mens onder die illusie te hou dat hyself in beheer is van sy eie lewe.

"Waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk." Efesiërs 2:2 

Alle ongelowiges wandel "volgens die owerste van die mag van die lug".  Daarom maak Jakobus 3 die verstommende stelling dat die tong "uit die hel aangesteek" word. 

"Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek." Jakobus 3:6 

As dissipels van Jesus in wantroue van hulle eie wysheid "wandel deur die Gees" het hulle die besondere voorreg om die getemde tong te beleef wat as't ware dan uit die hemel aangesteek word wanneer hulle wel spreek.  Indien hulle egter nie waaksaam is en wakker vir die gevaar van die ongetemde tong nie gaan hulle steeds met tye beleef dat daardie ongetemde tong "uit die hel aangesteek" word. 


Mag ons almal wawyd wakker wees vir die gevare van die ongetemde tong.  Op geen ander manier sal ons, ons dringende afhanklikheid van die Heilige Gees in hierdie verband kan insien nie.

Monday, 23 October 2017

DIE WONDERWERK VAN STILSWYE

'n Mens se woorde kan of 'n bron van geweldige seën wees of dit kan onberekenbare skade bring in ander se lewens.  Jakobus sê dat die tong wat buite beheer is fatale gevolge kan bring vir diegene wat deurloop onder dit.

"Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif." Jakobus 3:8

Die implikasie in hierdie vers is dat God alleen die tong kan tem.  Daar is nie 'n mens op aarde wat totale beheer oor sy of haar tong het nie.  Party van ons praat meer as ander, maar almal van ons laat met tye toe dat woorde by ons mond uitkom wat nooit die daglig moes gesien het nie.  Net God kan ons tong tem en daarom is dit so belangrik dat ons onder leiding van die Heilige Gees sal leef.  Ons het daagliks die wonderwerk van stilswye nodig.  D.w.s. ons moet leer om die Here te vertrou om, selfs wanneer die versoeking groot is om die tong soos 'n swaard te gebruik of om kwaad te praat van ander, eers te swyg totdat Hy sê ons kan maar praat en Hy ons die regte woorde gegee het.  Dit verg inderdaad 'n wonderwerk!

Hier is 'n Bybelse gebed wat ons almal sekerlik nodig het om gereeld te bid.


"HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe." Psalm 141:3  

Monday, 16 October 2017

WOORDE WAT TROOS, GENEES EN VERKWIK

Met ons wedergeboorte het God die "hart van klip" verwyder en ons 'n "hart van vlees" gegee (Eseg. 36:26).  En tog het ons vernuwing van ons denke en geestelike groei nodig om te leer om te leef as mense wat 'n radikale geestelike hartoorplating gehad het. 

Hierdie vernuwing en geestelike groei het ook baie bepaalde betrekking op ons tong.  Ons moet leer om te kommunikeer vanuit die evangelie.  Ons moet leer om woorde te spreek wat troos, genees en verkwik.  Sulke woorde kan soms baie reguit wees en dit moet altyd strook met die waarheid, maar dit moet woorde van wysheid wees wat gerig is daarop om te verkwik en genees.  Selfs al is dit woorde van vermaning is genesing altyd die doel.

Die wêreld is gevalle en korrup en daarom is dit 'n koue en harde plek.  Ons het nodig om anders met mekaar te praat as wat die wêreld met mekaar praat.  Dit verg fokus en oefening, maar bowenal die bediening van die Heilige Gees in ons binneste.  Dit is Hy alleen wat ons 'n "geoefende tong" gee om vermoeides te kan "verkwik met woorde".

"Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge."  Jesaja 50:4 

Dink ook biddend oor die volgende tekste.  Mag die Here vir almal van ons 'n rewolusie van woorde gee; 'n nuwe tong saam met die nuwe hart.

"Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer..." Spreuke 10:20a 

"Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing." Spreuke 12:18 


"As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is." Filippense 2:1  

Wednesday, 11 October 2017

ONS BLYDSKAP IS NIE VAN HIERDIE WÊRELD NIE

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.  Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3 

Dis is verstommend om te sien hoe konsekwent die skrywers van die Nuwe Testament aandring daarop dat dit moontlik is vir dissipels van Jesus om te leef in 'n konstante blydskap in Hom.  Blydskap is nie opsioneel vir 'n dissipel nie.  Dit is 'n integrale deel van ons basiese mondering vir ons lewe in 'n gevalle en gebroke wêreld.  Sonder blydskap het ons getuienis bykans geen impak nie en sonder blydskap is ons 'n maklike teiken vir die satan, want sy versoekinge belowe altyd 'n alternatiewe blydskap.

Daarom is dit so dringend belangrik vir ons om te verstaan dat die blydskap waarvan die Nuwe Testament praat nie van hierdie wêreld is nie.  Ons blydskap is in die evangelie.  Ons blydskap is in Christus en in ons mede-dissipels.  Daar is vir seker 'n blydskap wat altyd sy opwagting maak wanneer ons dankbaar is vir alles wat ons in hierdie tydelike dimensie van God ontvang.  Maar daardie soort blydskap is net 'n bonus vir die dissipel van Jesus.  Dit is eers wanneer ons fokus wegskuif van die aardse en die tydelike dat ons die onbeskryflike, hemelse vreugde beleef  wat die Nuwe Testament so baie oor te sê het.


Hoe meer ons fokus wegskuif van hierdie aarde en ons nou-al begin leef in die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde wat kom, hoe meer sal hierdie besonderse soort blydskap 'n konstante in ons lewens word.  Hoe lyk dit met jou blydskap?  Op en af?  Karig?  Afwesig?  Skuif jou fokus na die ewige en onveranderlike nuwe skeppingswerklikhede in Christus en konstante blydskap sal die heerlike byproduk wees.  Gewaarborg!

Monday, 9 October 2017

RUIMHARTIGE BLYDSKAP IN MEDE-GELOWIGES

Maak vir ons ruimte in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het op niemand voordeel behaal nie. Ek sê dit nie om te veroordeel nie, want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te sterwe en saam te lewe. Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking." 2 Kor. 7:2-4 

Ons blydskap "in die Here" (Fil. 4:4) is in die Bybel baie pertinent ook gekoppel aan ons blydskap in diegene wat saam met ons "in die Here" is.  Die gemeente in Korinthe het vir Paulus baie probleme gegee, maar hy wou vir hulle hier laat verstaan dat hy nie sy hart teenoor hulle gesluit het nie.  Hy het in geloof aangehou om hulle "in Christus" te sien.  Hy het nie geswig vir die versoeking om hulle "na die vlees" (5:16) te begin ken en beoordeel nie.  En daarom kon hy sê dat hy oorloop van blydskap te midde van al die verdrukking en swaarkry wat hy beleef het.  Sodoende wou hy by hulle verruiming van hart bring om die vreugde van verhoudings "in Christus" te leer ken. Dit is so anders as verhoudings in die wêreld.


Hierin is 'n baie groot les vir almal van ons.  In al ons menseverhoudinge het ons nodig om te volhard in ruimhartige blydskap oor mekaar.  Dit sal egter net vir ons 'n teorie bly en die gevalle werklikheid sal ons aanhou oorweldig as ons nie verstaan dat ons nodig het om mekaar gedurig "in Christus" te sien nie. Ons moet gedissiplineerd en gelowig dink binne die kader van die groot verlossing wat God vir gevalle mense bewerkstellig het in Sy geliefde Seun.  Dit is dan ook net "in die Geliefde" wat ons kan uitstyg bo die gebrokenheid van verhoudings op hierdie aarde na 'n plek waar ons 'n bonatuurlike vreugde kan begin beleef in en oor mekaar.  Hoekom?  Want ons begin gló en begin mekaar dan evangelies oortuig dat hierdie wonderbaarlike verlossing "in Christus" ten spyte van ons stadige vordering besig is om ons almal te verander en meer soos Jesus te maak!

Wednesday, 4 October 2017

DIE MITE VAN SPESIALE OUTORITEIT EN GESAG

Ons is terug by Paulus, maar vandag praat ons oor die kontroversiële onderwerp van outoriteit en gesag.  Is daar in ons tyd nog iets soos spesiale outoriteit wat ons noodsaak om ons eksklusief aan sekere apostoliese gesag te onderwerp? Kom ons gebruik weer vir Paulus as voorbeeld en dan werk ons van daar af.  Het Paulus spesiale gesag gehad.  Dis weereens goed om te hoor wat sê hy self.

"Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het." Gal. 1:1 

"Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die bevel van God, ons Verlosser, en van die Here Jesus Christus, ons Hoop." 1 Tim. 1:1 

Ek dink nogal ons kan sê Paulus het spesiale outoriteit en gesag gehad.  Maar hoe het hý dit bestuur?

"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil." 2 Kor. 4:5 

Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel." 2 Kor. 11:2 

Hy het nie homself verkondig nie en hy het ook nie mense aan homself probeer verbind nie, maar aan Jesus.  Verder het hy altyd sy gesag uitgeoefen via die Skrif en onder die Hoofskap van Christus, nooit direk asof hy die gesag in sy persoon gehad het nie.  Maak seker jy verstaan die verskil, want dit is krities belangrik. Miskien help dit om te hoor wat Paulus wel van homself as persoon te sê gehad het.

"Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig." Efesiërs 3:8 


So selfs al sou iemand vandag wou aanspraak maak op spesiale outoriteit en gesag móét hulle dit beoefen op die manier wat Paulus dit gedoen het.  Maar is daar nog apostels vandag wat Paulus en die ander apostoliese Bybelskrywers se spesiale en eksklusiewe soort gesag het?  Definitief nie, en as selfs Paulus sy gesag beoefen het via die Skrif en onder Jesus se absolute en direkte Heerskappy oor elke menslike gewete is dit die hoogtepunt van arrogansie en eiewaan vir enigiemand om te dink hulle kan dit op 'n ander manier doen as Paulus.  

Monday, 2 October 2017

DIE MITE VAN SPESIALE EN EKSKLUSIEWE KENNIS

Gestel Paulus het met sy enorme openbaring van al die implikasies wat die vleeswording en die werk van Jesus vir mense inhou, besluit dat hy sy eie denominasie gaan begin. Iets soos "Die Gemeentes van Paulus Internasionaal". As daar een persoon was wat op grond van die openbaring wat hy ontvang het kon voel dat hy die reg gehad het om sy invloed en kennis af te kamp en dit eksklusief te maak, soos ontwerpers klere, dan was dit sekerlik Paulus. Maar was dit wat hy gedoen het? Kom ons laat hom toe om self te antwoord.

"Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God." 1 Kor. 2:9-10

Hy sê eerstens dat God self vir die apostels openbaring gegee het van die verborgenhede van die evangelie. Hierdie stelling kan ons dalk nog laat wonder of Paulus nie miskien tog sy kennis afgekamp en gebottel het nie. Maar kom ons lees verder.

"Dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan." Efesiërs 3:3-4


"As julle dit lees...kan verstaan". Het Paulus "spesiale kennis" ontvang van God? Ja sekerlik. Het hy dit egter vir homself gehou of 'n eksklusiewe Pauliniese denominasie begin op grond daarvan. Nee. Dit is vir ons neergepen en ons kan dit nou lees in ons eie taal. Vandat ons die volledige Bybel het, kan niemand meer aanspraak maak op "spesiale en eksklusiewe kennis" nie. Ons het nie nodig om rang te trek op mekaar of mekaar te probeer beïndruk met ons spesiale openbarings nie. Wat ons wel kan doen is om mekaar gedurig te inspireer om dieper te delf in die "onnaspeurlike rykdom van Christus" wat vryelik beskikbaar is in die Bybel vir almal wat 'n honger het om Jesus werklik te ken.

"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly." 1 Joh. 2:27