Ons is terug by Paulus, maar vandag praat ons
oor die kontroversiële onderwerp van outoriteit en gesag. Is daar in ons tyd nog iets soos spesiale outoriteit
wat ons noodsaak om ons eksklusief aan sekere apostoliese gesag te onderwerp?
Kom ons gebruik weer vir Paulus as voorbeeld en dan werk ons van daar af. Het Paulus spesiale gesag gehad. Dis weereens goed om te hoor wat sê hy self.
"Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus
Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het." Gal. 1:1
"Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die bevel van God, ons
Verlosser, en van die Here Jesus Christus, ons Hoop." 1 Tim. 1:1
Ek dink nogal
ons kan sê Paulus het spesiale outoriteit en gesag gehad. Maar hoe het hý dit bestuur?
"Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus
Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil." 2 Kor. 4:5
”Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het
julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te
stel." 2 Kor. 11:2
Hy
het nie homself verkondig nie en hy het ook nie mense aan homself probeer
verbind nie, maar aan Jesus. Verder het
hy altyd sy gesag uitgeoefen via die Skrif en onder die Hoofskap van Christus,
nooit direk asof hy die gesag in sy persoon gehad het nie. Maak seker jy verstaan die verskil, want dit
is krities belangrik. Miskien help dit om te hoor wat Paulus wel van homself as
persoon te sê gehad het.
"Aan
my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die
heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te
verkondig." Efesiërs 3:8
So
selfs al sou iemand vandag wou aanspraak maak op spesiale outoriteit en gesag
móét hulle dit beoefen op die manier wat Paulus dit gedoen het. Maar is daar nog apostels vandag wat Paulus
en die ander apostoliese Bybelskrywers se spesiale en eksklusiewe soort gesag
het? Definitief nie, en as selfs Paulus
sy gesag beoefen het via die Skrif en onder Jesus se absolute en direkte
Heerskappy oor elke menslike gewete is dit die hoogtepunt van arrogansie en eiewaan
vir enigiemand om te dink hulle kan dit op 'n ander manier doen as Paulus.
No comments:
Post a Comment