”Maak vir ons
ruimte in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand
benadeel nie, ons het op niemand voordeel behaal nie. Ek sê dit nie om te
veroordeel nie, want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te
sterwe en saam te lewe. Ek het groot vrymoedigheid
teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor
van blydskap in al ons verdrukking." 2 Kor. 7:2-4
Ons
blydskap "in die Here" (Fil. 4:4) is in die Bybel baie pertinent ook
gekoppel aan ons blydskap in diegene wat saam met ons "in die Here"
is. Die gemeente in Korinthe het vir
Paulus baie probleme gegee, maar hy wou vir
hulle hier laat verstaan dat hy nie sy hart teenoor hulle gesluit het
nie. Hy het in geloof aangehou om hulle "in Christus" te sien. Hy het nie geswig vir die versoeking om hulle
"na die vlees" (5:16) te begin ken en beoordeel nie. En daarom kon hy sê dat hy oorloop van blydskap
te midde van al die verdrukking en swaarkry wat hy beleef het. Sodoende wou hy by hulle verruiming van hart
bring om die vreugde van verhoudings "in Christus" te leer ken. Dit
is so anders as verhoudings in die wêreld.
Hierin is 'n baie groot les
vir almal van ons. In al ons menseverhoudinge
het ons nodig om te volhard in ruimhartige blydskap oor mekaar. Dit sal egter net vir ons 'n teorie bly en die
gevalle werklikheid sal ons aanhou oorweldig as ons nie verstaan dat ons nodig
het om mekaar gedurig "in Christus" te sien nie. Ons moet
gedissiplineerd en gelowig dink binne die kader van die groot verlossing wat
God vir gevalle mense bewerkstellig het in Sy geliefde Seun. Dit is dan ook net "in die Geliefde"
wat ons kan uitstyg bo die gebrokenheid van verhoudings op hierdie aarde na 'n
plek waar ons 'n bonatuurlike vreugde kan begin beleef in en oor mekaar. Hoekom? Want ons begin gló en begin mekaar dan evangelies
oortuig dat hierdie wonderbaarlike verlossing "in Christus" ten spyte
van ons stadige vordering besig is om ons almal te verander en meer soos Jesus
te maak!
No comments:
Post a Comment