Gestel
Paulus het met sy enorme openbaring van al die implikasies wat die vleeswording
en die werk van Jesus vir mense inhou, besluit dat hy sy eie denominasie gaan
begin. Iets soos "Die Gemeentes van Paulus Internasionaal". As daar
een persoon was wat op grond van die openbaring wat hy ontvang het kon voel dat
hy die reg gehad het om sy invloed en kennis af te kamp en dit eksklusief te
maak, soos ontwerpers klere, dan was dit sekerlik Paulus. Maar was dit wat hy
gedoen het? Kom ons laat hom toe om self te antwoord.
"Maar soos geskrywe
is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie
opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit
aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die
dieptes van God." 1 Kor. 2:9-10
Hy sê
eerstens dat God self vir die apostels openbaring gegee het van die
verborgenhede van die evangelie. Hierdie stelling kan ons dalk nog laat wonder
of Paulus nie miskien tog sy kennis afgekamp en gebottel het nie. Maar kom ons
lees verder.
"Dat Hy aan my deur 'n
openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf
het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van
Christus kan verstaan." Efesiërs 3:3-4
"As
julle dit lees...kan verstaan". Het Paulus "spesiale kennis"
ontvang van God? Ja sekerlik. Het hy dit egter vir homself gehou of 'n
eksklusiewe Pauliniese denominasie begin op grond daarvan. Nee. Dit is vir ons
neergepen en ons kan dit nou lees in ons eie taal. Vandat ons die volledige
Bybel het, kan niemand meer aanspraak maak op "spesiale en eksklusiewe
kennis" nie. Ons het nie nodig om rang te trek op mekaar of mekaar te
probeer beïndruk met ons spesiale openbarings nie. Wat ons wel kan doen is om mekaar
gedurig te inspireer om dieper te delf in die "onnaspeurlike rykdom van
Christus" wat vryelik beskikbaar is in die Bybel vir almal wat 'n honger
het om Jesus werklik te ken.
"En die salwing wat
julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand
julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is
dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in
Hom bly." 1 Joh. 2:27
No comments:
Post a Comment