Met ons wedergeboorte het
God die "hart van klip" verwyder en ons 'n "hart van vlees"
gegee (Eseg. 36:26). En tog het ons vernuwing
van ons denke en geestelike groei nodig om te leer om te leef as mense wat 'n
radikale geestelike hartoorplating gehad het.
Hierdie vernuwing en
geestelike groei het ook baie bepaalde betrekking op ons tong. Ons moet leer om te kommunikeer vanuit die
evangelie. Ons moet leer om woorde te
spreek wat troos, genees en verkwik.
Sulke woorde kan soms baie reguit wees en dit moet altyd strook met die
waarheid, maar dit moet woorde van wysheid wees wat gerig is daarop om te verkwik
en genees. Selfs al is dit woorde van
vermaning is genesing altyd die doel.
Die wêreld is gevalle en
korrup en daarom is dit 'n koue en harde plek.
Ons het nodig om anders met mekaar te praat as wat die wêreld met mekaar
praat. Dit verg fokus en oefening, maar
bowenal die bediening van die Heilige Gees in ons binneste. Dit is Hy alleen wat ons 'n "geoefende
tong" gee om vermoeides te kan "verkwik met woorde".
"Die Here HERE het My ‘n geoefende tong
gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke
môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge." Jesaja 50:4
Dink ook biddend oor die volgende tekste. Mag die Here vir almal van ons 'n rewolusie
van woorde gee; 'n nuwe tong saam met die nuwe hart.
"Die tong van die
regverdige is uitgesoekte silwer..." Spreuke 10:20a
"Daar is een wat
onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is
genesing."
Spreuke 12:18
"As daar dan enige
troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige
gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is." Filippense 2:1
No comments:
Post a Comment