"Bedink die dinge
wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.
Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in
God."
Kolossense 3:2-3
Dis is verstommend om te sien hoe konsekwent die skrywers van die Nuwe
Testament aandring daarop dat dit moontlik is vir dissipels van Jesus om te
leef in 'n konstante blydskap in Hom. Blydskap
is nie opsioneel vir 'n dissipel nie.
Dit is 'n integrale deel van ons basiese mondering vir ons lewe in 'n
gevalle en gebroke wêreld. Sonder
blydskap het ons getuienis bykans geen impak nie en sonder blydskap is ons 'n maklike
teiken vir die satan, want sy versoekinge belowe altyd 'n alternatiewe
blydskap.
Daarom is dit so dringend belangrik vir ons om te verstaan dat die
blydskap waarvan die Nuwe Testament praat nie van hierdie wêreld is nie. Ons blydskap is in die evangelie. Ons blydskap is in Christus en in ons
mede-dissipels. Daar is vir seker 'n
blydskap wat altyd sy opwagting maak wanneer ons dankbaar is vir alles wat ons
in hierdie tydelike dimensie van God ontvang.
Maar daardie soort blydskap is net 'n bonus vir die dissipel van Jesus. Dit is eers wanneer ons fokus wegskuif van
die aardse en die tydelike dat ons die onbeskryflike, hemelse vreugde beleef wat die Nuwe Testament so baie oor te sê het.
Hoe meer ons fokus wegskuif van hierdie aarde en ons nou-al begin leef
in die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde wat kom, hoe meer sal hierdie
besonderse soort blydskap 'n konstante in ons lewens word. Hoe lyk dit met jou blydskap? Op en af?
Karig? Afwesig? Skuif jou fokus na die ewige en
onveranderlike nuwe skeppingswerklikhede in Christus en konstante blydskap sal
die heerlike byproduk wees. Gewaarborg!
No comments:
Post a Comment