Monday, 18 February 2019

DIE GEES EN DIE GEMEENTE IN HANDELINGE: DEEL I


Dit is verstommend om te sien hoe absoluut afhanklik van die werking en bediening van die Heilige Gees die eerste gemeentes geleef het.  'n Baie eenvoudige studie van Handelinge maak dit glashelder duidelik.

Met die intrapslag wys Lukas ons dadelik daarop dat selfs Jesus deur die Gees bevele aan die apostels gegee het.

"Tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het." Handelinge 1:2

Jesus beklemtoon weereens dat geen ware bediening moontlik is sonder die doping met die Gees en die aandoening met krag van Bo nie.

"Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie." Hand. 1:5 

"Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. Hand. 1:8

Dit is een honderd persent in lyn met dit wat Jesus die dissipels geleer het voor Sy kruisiging.

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5 

As ons dus bely dat ons niks kan doen sonder Jesus nie moet ons daarmee saam bely dat ons gevolglik totaal afhanklik is van die baie persoonlike en spesifieke bediening van die Heilige Gees.  Die evangelie van Johannes en die boek Handelinge moet saam gelees word om die volle prentjie te kry.

Geen gemeente kan sê dat hulle in eenheid met Jesus leef en werk terwyl hulle die bediening van die Heilige Gees ignoreer of in enige opsig minag nie. 

No comments:

Post a Comment