Wednesday, 20 February 2019

DIE GEES EN DIE GEMEENTE IN HANDELINGE: DEEL II


Op die dag van die pinksterfees, wat deur die Jode gevier is vyftig dae na die Pasga (Lev. 23:15-16), gebeur dit wat Jesus in Handelinge 1 verse 5 en 8 aan die apostels belowe het.

"En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.  Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.  En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek." Hand. 2:1-4 

Ons sien hier dat hierdie eerste uitstorting  van die Heilige Gees 'n besonderse en fenomenale gebeurtenis is wat onmiskenbaar en onaanvegbaar die bonatuurlike aktiwiteit van God demonstreer.  Almal kon getuig dat hier iets bonatuurlik gebeur het.  Die gebeurtenis was histories uniek, maar dit beteken nie God kan nie steeds so werk vandag byvoorbeeld in tye van herlewing nie.

"En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer." Hand. 2:17-18

Petrus verduidelik aan die skare dat dit wat hulle hier sien die letterlike vervulling is van 'n antieke profesie van Joël (2:28-29). 

"Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor." Hand. 2:33

Die uitstorting van die Heilige Gees is die direkte gevolg van die afgehandelde en volbragte verlossingswerk van Jesus Christus.

"En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang." Hand. 2:38

Een ding is duidelik in hierdie vers en dit is dat bekering, waterdoop en die gawe van die Heilige Gees saamloop en dat ons baie versigtig moet wees om hulle te radikaal van mekaar te skei.  Sekerlik kan ons hulle onderskei, maar nie absoluut skei van mekaar  nie.  Dit is in 'n sin een volledige verlossingsaksie van God en die gevolg daarvan is mees konsekwent die gawe van profesie, wat ten minste insluit om spontaan  en blymoedig deur die direkte werking van die Gees in die menslike hart te getuig van Jesus en sy verlossingswerk (Hand. 1:8 en 2:18; Openb. 19:10).

No comments:

Post a Comment