Wednesday, 13 February 2019

HELP MEKAAR OM DIE HEMEL SE BLYDSKAP TERUG TE KRY


In 'n sekere sin is die doel van alle bediening om met 'n diepe waardering van die onbeskryflike en kosbare evangelie mekaar se blydskap in Christus aan te vuur en op te wek.

"Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap..." 2 Korinthiërs 1:24a

Die doel van intersessie is ook dan om in gebed te veg vir mekaar se blydskap in Christus.  Wanneer ek voor God en langs jou kom staan en dan bid dat jou blydskap waarlik in Christus sal wees en nie eerstens in aardse en materiële dinge nie is ek besig om die hartklop van die hemel op te tel. 

Alle vreugdes in die hemel vloei vanuit die heerlikheid, lieflikheid en majesteit van die Persoon van God.  Daarom is dit ook ons hemelse Vader se wil vir die aarde dat ons, ons vreugde in Hom sal vind.

Hoe lyk dit met jou gebedslewe? Bid jy vir ander se vreugde in Christus?  As jy werklik lief is vir die mense om jou en naby jou sal jy só bid vir hulle.  Geen gebed is nader aan die hart van die Vader as hierdie gebed vir onuitspreeklike en heerlike blydskap in Christus nie; 'n blydskap wat alle kompeterende vreugdes oorwin en ons laat uitstyg bo dit met die vlerke van 'n arend.

"Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap." 1 Petrus 1:8

No comments:

Post a Comment