Die ware dissipel weet dat sy lewe onafskeidbaar verbind is met die Persoon van Christus.
Hierdie dissipel weet egter ook dat hy in 'n gevalle wêreld gedurig nodig het om herinner te word aan al die kosbare beloftes m.b.t. tot hierdie wonderlike Persoon en om daaraan vas te hou asof sy lewe daarvan afhang (wat dit wel doen!).
"Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is." 2 Petrus 1:4
Petrus maak dit baie duidelik dat ons "deelname aan die goddelike natuur" onlosmaaklik verbind is met ons waardering vir en vertroue op die "kosbare beloftes" rondom die Messias. Van Genesis tot Openbaring gee ons getroue hemelse Vader vir ons belofte op belofte op belofte om ons geloof te versterk en ons vaste grond onder ons voete te gee. Hiermee anker Hy ons ook in Homself, d.w.s. in Sy "goddelike natuur".
Leef ons nog vandag met 'n onuitspreeklike waardering en dankbaarheid vir die kosbare beloftes van die Woord van God?
"En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt." Genesis 3:15
"Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar." Openbaring 22:7
No comments:
Post a Comment