Monday, 19 October 2015

DAAR IS ÓÓK GESKRYWE 3: MOENIE OORDEEL NIE



“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.”  Matt. 7:1  

“Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!” 1 Kor. 5:12 (NAV)  

 “Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”  1 Kor. 11:32  

“Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.”  1 Kor. 14:29  

“Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.” Rom. 14:10  (NAV)

In ons tyd en generasie is Jesus se opdrag dat ons nie moet oordeel nie heeltemal skeefgetrek en buite alle proporsie verdraai.  Die meeste mense vandag lees dit as ‘n geïsoleerde stelling wat ons inlei in ‘n leefwêreld van universele toleransie waar ons geen onderskeid durf maak tussen dit wat byvoorbeeld rein en onrein of heilig en onheilig is nie.  Daarom het dit uiters belangrik geword vir ons om vas te stel wat Jesus bedoel het met daardie stelling én wat Hy nie bedoel het daarmee nie.  Hy hét bedoel dat ons nie onsself moet opstel oor ander mense as regters asof ons God is nie.  Hy het ook bedoel dat ons nie ander mense se motiewe moet oordeel asof ons in hulle harte kan insien nie.  Hy het nié bedoel dat ons glad nie ‘n oordeel moet fel oor geestelike sake of dat ons nie mag sê wat die Bybel byvoorbeeld duidelik stel oor sonde, gesonde leerstelling en dergelike dinge nie.  Let byvoorbeeld op dat vers 6 van dieselfde paragrafie in Mattheüs 7 (verse 1 tot 6) sekerlik ‘n beoordeling van verskillende mense en situasies verg om te kan doen wat Jesus daar sê ons moet doen.  Wanneer ons dit doen moet ons egter seker maak dat ons eers onsself onder dieselfde Bybel se vergrootglas bring om te toets of ons eie harte rein is voor God (Matt. 7:5a).  

Ons is bevoorreg om in Afrikaans ‘n verskeidenheid woorde te hê wat die woord “oordeel” as’t ware kwalifiseer.  Wanneer ek “oordeel” maak ek ‘n uitspraak oor iets.  Ek moet dit egter so doen dat ek nie “veroordeel” nie, maar ek moet wel ‘n situasie “beoordeel” sodat ek God se “oordeel” oor iets kan onderskei en toepas.  Anders word die Bybel ‘n afgewaterde boek wat geen duidelikheid oor enigiets kan gee nie!  Om op te som, ons moet “oordeel” oor situasies (sien 1 Kor. 5:12 hier bo), maar ons mag dit nie doen met ‘n “veroordelende” hart nie.  Ons mag (moet!) sê wat die Bybel sê oor sake, maar sonder om onsself as regters op te stel oor ander of mense se motiewe te oordeel.  Verder leer gedeeltes soos Romeine 14 pertinent dat ons ook ‘n duidelike onderskeid moet maak tussen randwaarhede soos wat ons mag eet of drink en kernwaarhede soos die evangelie, die wese  en identifisering van sonde volgens die Bybel, ensovoorts.  Mag God ons help om die dinge te “onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil. 1:10) sodat ons nie aan die een kant in die slaggat van “veroordeling” val of aan die ander kant in die slaggat van ‘n sogenaamde “liefde” wat geen onderskeid tref tussen rein en onrein nie.  Laasgenoemde is nié volgens die Bybel ware liefde nie, maar eerder ‘n sekulêr humanistiese idee van liefde wat geen gronde in die geopenbaarde Woord van God het nie.

1 comment: