Thursday, 8 October 2015

LEI MEKAAR SE HARTE IN GENADE IN



“Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.”  1 Pet. 4:10  

Petrus praat in hierdie vers spesifiek van ons voorreg en verantwoordelikheid om mekaar te dien met die gawes wat ons elkeen van God ontvang het.  Let wel, elkeen het ‘n genadegawe ontvang, nie net predikante of “voltydse bedienaars” nie!  God se genade is so ryk en “veelvuldig” dat dit nooit ten volle ontplooi kan word in ‘n gemeente as daar net ‘n klein spannetjie is wat bedien terwyl die res maar net ontvang nie.  Dit gaan egter ook hier oor baie meer as bediening in die konteks van gemeentebyeenkomste.  Ons is geroep om mekaar gedurig te bedien met genade.  Genade is God se krag en oorvloed in Christus wat gegee word aan diegene wat weet hoe swak hulle in hulleself is.  Ons moet as’t ware mekaar se harte inlei in die genade van God.  Ons het almal die heerlike voorreg om mekaar gedurig te herinner aan die groot genade wat ons in Jesus ontvang het.  Nee, meer nog, die aard van hierdie gevalle wêreld en die magte en kragte van die bose maak dit absoluut essensieël dat ons sal leer om mekaar te bedien met genade.  Ons het mekaar werklik nodig.  Soos wat jy deur die bediening van die Heilige Gees en jou omgang met die Woord jou eie hart gedurig onder die invloed  van genade hou, maak seker dat dit wat jy beleef van God se genade nie by jouself bly nie.  Deel dit met die mense rondom jou.  Genade moet gedeel word om ten volle geniet te word.  Sodoende sal ons gedurig leef in die lieflike atmosfeer van ons Vader se genade, so ryklik uitgestort in Sy Seun.  Mag die Heilige Gees ons immer dieper inlei in die skatkamers van genade.

3 comments:

  1. Nice post. Thanks for sharing with us. Superb Blog
    www.shiridisaibaba.in

    ReplyDelete
  2. Nice post. Thanks for sharing with us. Superb Blog
    www.shiridisaibaba.in

    ReplyDelete
  3. Nice post. Thanks for sharing with us. Superb Blog
    www.shiridisaibaba.in

    ReplyDelete