“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te
hou na u woord.” Psalm 119:9
“Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie
verkies het nie, van my raad nie wou
weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom
sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.” Spreuke 1:29-31
Watter soort instrukteur sal jy vertrou om jou kind te leer
bestuur en vir hom of haar die padreëls
te leer? Wat van ‘n instrukteur wat al
die belangrike padtekens heeltemal verkeerd interpreteer, omdat hy ‘n immigrant
is van ‘n land met ‘n totaal verskillende verkeerstelsel? Sou dit nie krimineel onverantwoordelik wees
om jou kind oor te gee in die hande van so ‘n instrukteur nie? As jy omgee vir jou kind se fisiese welsyn
sal jy nooit so iets doen nie. En wat
dan van jou kind se geestelike welsyn? Aan
watter soort instrukteurs vertrou jy jou kinders toe om vir hulle die padtekens
van die lewe te leer? “Die hele Skrif is
deur God ingegee” (2 Tim. 3:16) en is bedoel om ‘n mens wys te maak om in gesonde
verhoudings met die lewende God en Sy skepsels te leef. Die gemeente is bedoel om ‘n “pilaar en
grondslag van die waarheid” (1 Tim. 3:15) te wees wat daardie Skrif suiwer leer. Wanneer ‘n gemeente of gemeentes egter
wegdraai van die Skrif en op sand begin bou, het wedergebore dissipels van
Jesus ‘n verantwoordelikheid om hulle rug te keer op sulke gemeentes en
wedergebore ouers om hulle kinders te beskerm teen dodelike geestelike dwaling. Dit is nie eers ‘n persoonlike keuse nie, dit
is ‘n opdrag van God.
No comments:
Post a Comment