Wednesday, 14 September 2016

BLY AFHANKLIK VAN DIE HEILIGE GEES

"Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe."  Johannes 6:63

Regdeur die Bybel en die geskiedenis van die kerk sien ons dat die begin van 'n werk van God in 'n indiwidu of 'n groep mense lewend en kragtig is, omdat die geroepenes nederig en leerbaar is en totaal afhanklik van God. 

Wat egter keer op keer gebeur is dat dieselfde indiwidue of groep mense (of soms die volgende generasie) wat so kinderlik gehoorsaam was in die begin hulle vertroue begin plaas in ander dinge. Of dit nou is in ons oorwinnings van die verlede, ons superieure kennis van die Bybel, ons ervaring, ons gawes of die feit dat "God darem mos Sy seël op ons groep, gemeente of denominasie gesit het"; ons afhanklikheid het ongemerk geskuif en nou vertrou ons nie meer oomblik vir oomblik op die Heilige Gees om te werk en dinge te verander soos Hý wil nie. 

Dalk was ons intiem betrokke by 'n werk van restourasie, vernuwing en herstel en het ons eerstehands gesien hoe die Heilige Gees mense roep uit verouderde godsdiens-sisteme om hulle nuwe impetus, vreugde en hoop in Christus te gee.  Maar nou het óns die status quo geword en inbeweeg onder die waan dat die Heilige Gees outomaties Sy goedkeuring gaan skenk aan alles wat ons doen.  Ons het die "belangrike mense" geword wat die mag in óns hande het. Ons het begin glo dat as God iets gaan doen in die wêreld Hy dit altyd deur ons sal doen, nie deur ander mense of groepe nie.

"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien." Openbaring 3:17-18


Tyd dan om nederig te raak en te bely dat ons die Gees begin ignoreer het en die pad van onafhanklikheid begin stap het.  Dit is vir seker nie maklik om daar om te draai nie, maar die pad van herstel onder leiding van die Gees is 'n wonderlike en geseënde pad. Mag God ons almal die nederigheid én die moed gee om te erken as ons nie meer in werklikheid wandel in die wysheid en krag van die Heilige Gees nie.

No comments:

Post a Comment