"So spreek die
HERE van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die
huis van die HERE gebou moet word nie. So het die woord van die HERE dan gekom deur die diens van die profeet
Haggai en gesê: Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon,
terwyl hierdie huis in puin lê?" Haggai 1:2-4
In 'n sin is hierdie woorde van Haggai verteenwoordigend van alles wat
die profete in die Ou Testament en die apostels van die Nuwe Testament aan God
se mense wou oordra. God se plan is om
op hierdie aarde Sy heerlikheid bekend te maak deur Sy mense, wat Sy huis en
tempel is. God bou vandag mense se lewens tot Sy heerlikheid.
"So is julle dan
nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en
huisgenote van God, gebou op die
fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen
is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg,
verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God
in die Gees." Efes. 2:19-22
God bou ons op as Sy huis en tempel deur ons bedieninge aan mekaar in eenheid en liefde (Efes. 4:1-16). Dit beteken egter dat ons eerstens 'n diepe
besorgdheid moet hê vir die opbou van God se huis en dat ons tweedens
beskikbaar moet wees vir hierdie bouwerk met die gawes en bedieninge wat God
ons gegee het. Is dit nie die boodskap
van die Bybel nie?
Maar wat sien ons vandag? Die
boodskap is totaal verdraai en vervorm.
Nou gaan dit oor die Here wat bestaan om my huis te bou, in plaas van ek
wat bestaan om Sy huis te bou! Nie net
roep ons mense nie op om hulle tyd en gawes te gee vir die bou van God se huis
nie, maar ons gaan verder en leer hulle dat God eintlik net besorg is daaroor
om húlle huise te bou en te seën. Dit is
verkeerde kant om. Hier is God se orde.
"Maar soek eers
die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle
bygevoeg word." Matt. 6:33
God se oordeel rus op daardie verdraaide boodskap. Waar staan ek en
jy? Oor wie se huis is ons besorgd?
No comments:
Post a Comment