Monday, 12 September 2016

DIE GESAG VAN DIE GEES

Jesus het nie ingepas in die gesagstruktuur van Israel se godsdiens-sisteem nie. Hy was nie in hulle teologiese skole nie en het nie die korporatiewe leer geklim om 'n "vername leraar" te word wat offisiële erkenning het nie. Hy het opgetree in opdrag van die Vader deur die gesag en krag van die Heilige Gees.

"En op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan, en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?" Lukas 20:1-2

In lyn met Sy eie geestelike loopbaan en bediening gee Jesus Sy dissipels opdrag om te wag vir die toerusting van die Heilige Gees, die krag uit die hemel (Hand. 1:8), voordat hulle kon bedien met ware gesag.  Weereens is die gesagstrukture van vormgodsdiens geïntimideer:

"Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar, ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was; en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen? Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle..." Hand. 4:5-8a

En so loop die storie konsekwent regdeur die geskiedenis van die kerk en tot vandag toe nog. Wanneer gewone mense begin om in die krag van die Heilige Gees op te tree en te bedien, raak die masjinerie van godsdiens omgekrap en wil dit onder offisiële beheer bring. Vormgodsdiens van watter aard ookal sal altyd probeer om te sentraliseer en beheer om die mag in eie hande te hou. Maar 'n mens kan nie die Heilige Gees sentraliseer en beheer nie. Die Heilige Gees hoef nie toestemming te kry by ons institusies om te werk en op te tree nie. Hy is God en kan maak net soos wat Hy goeddink. Ons is nie die "gatekeepers" vir die werking van die Gees nie. Dit is ontsettende arrogansie om te dink dat ons as mense sulke mag het.

Ware dissipels van Jesus is nie anti-gesag nie, maar hulle ore en oë is akuut ingestel om die gesag van die Heilige Gees in elke situasie te onderskei en gehoorsaam.


"Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is." Johannes 3:8

No comments:

Post a Comment