"En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon
— en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene
wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid." Johannes 1:14
Die genade van God in Christus steek niks weg nie. Dit
verdoesel nie sonde nie. Dit smeer dit nie toe of vee dit onder die mat
in nie. Ons sien dit baie duidelik in Jesus se bediening.
Jesus het nooit genade bedien as 'n groot "cover
up", soos wat vandag in so baie kringe gedoen word nie. Jesus
het presies geweet wat in elke mens se hart aangaan. Niemand kon enigiets
vir Hom wegsteek nie. Neem die vrou by die put in Johannes 4 as voorbeeld.
Hy het elke persoon wat Hy mee gewerk het deur die Gees onder oortuiging
gebring van die waarheid van wat werklik in hulle hart aangaan en dan het Hy
hulle gelei na verlossing. Verlossing vir die wat bereid was om saam te stem
met Jesus se diagnose van hulle hart. Dit is verstommend en terselfdertyd
verlossend om te sien hoe konsekwent Jesus met almal was wat oor Sy pad gekom
het. Hy is vandag nog net so konsekwent. Hy laat niemand wegkom met self-bedrog
nie. Hy wys vir jou die waarheid van jou verlorenheid en jou behoefte aan
genade en dan voorsien Hy daardie genade!
Ons moet nooit genade en waarheid teenoor mekaar stel nie.
Hulle loop saam en is niks anders nie as die persoonlike bediening van Jesus.
Vat albei se hande en hulle (Hy) sal jou lei na lewe, vryheid, vrede, vreugde, en
hoop.
No comments:
Post a Comment