Ware
dissipels van Jesus het nie net vir Hom lief nie, maar ook sy Woord. Om die waarheid te sê die twee kan nie van
mekaar geskei word nie. Hulle mag nie
van mekaar geskei word nie! Jesus self
word "die Woord" genoem (Joh. 1:1 en 14; Openb. 19:13) in die Bybel. As ek werk met die Bybel moet ek rekening hou
met Jesus en as ek Jesus wil volg, kan ek net in die Bybel vind wat dit beteken
om 'n ware volgeling te wees.
"En
Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik
my dissipels." Joh. 8:31
Sê jy "ek het Jesus lief en is lojaal aan Hom",
dan moet jy ook terselfdertyd kan sê "ek het sy woord lief en is lojaal
daaraan". So wat dan gemaak met 'n
situasie vandag waar duisende sê hulle het 'n verhouding met Jesus, maar hulle
lees omtrent nooit die Bybel of neem dit enigsins ernstig op nie? Duisende sê hulle is wedergebore, maar het
nog nooit eers een van die 66 Bybelboeke deurgelees of werklik moeite gedoen om
self die Bybel te begin bestudeer en gehoorsaam nie.
Het alle ware dissipels van Jesus 'n aptyt vir sy Woord of
net party van hulle? Dit is nie eers 'n
moeilike vraag om te antwoord nie. Die
Bybel is duidelik dat alle ware dissipels 'n honger vir die Woord het. As jy dit nie het nie is een van drie dinge
waar van jou lewe. Jy is of ongered, of
ongehoorsaam, of ongesteld.
Ongeredde mense het 'n aptyt vir baie dinge in die wêreld,
maar jy kan hulle nooit werklik opgewonde kry oor die Bybel nie. Dit bly iets vaag en verwyder van hulle
daaglikse lewe en prioriteite. Dit is
die pastoor of dominee se domein, nie hulle s'n nie. Ongehoorsame dissipels word van binne gedring
deur die Heilige Gees om erns te maak met die Bybel, maar daar is altyd 'n honderd
en tien ander dinge wat eers aandag moet kry.
Dit is 'n gevaarlike kondisie en as jy volhard daarin word jy
uiteindelik ongesteld. Mense wat fisies
siek is verloor hulle aptyt vir kos. As
jy volhard in ongehoorsaamheid word jy geestelik siek, wat beteken dat jy jou
aptyt vir die Woord verloor. Dan is dit
krities belangrik dat jy dit sal bely en jou bekeer van jou ongehoorsaamheid
met dade wat volg.
So waar staan jy met die Bybel? Is jy ongered, ongehoorsaam, ongesteld, of
koester jy die woord van Jesus soos wat jy Hom koester en liefhet?
No comments:
Post a Comment