Tuesday, 6 September 2016

OORVLOEDIGE LEWE VIR OORVLOEDIGE GEHOORSAAMHEID

Ware dissipels van Jesus vra ander vrae in hierdie lewe as mense wat nie wedergebore is nie.  Hulle vrae het primêr te doen met groter gehoorsaamheid aan God, nie meer voorspoed vir hulleself nie.  Die manier wat jy reageer op daardie stelling gaan terloops vir jou iets vertel van wat werklik in jou hart aangaan.

"Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees." 1Thessalonicense 4:1 

Die apostels se hele bediening in Christus het daaroor gegaan om dissipels te leer hoe om 'n gehoorsame lewe te leef op 'n gevalle planeet en om dit so te leef dat dit God se goedkeuring sou wegdra.  'n Pa kry baie plesier uit 'n gehoorsame kind.  Die evangelie het vir ons kindskap gebring.  Dit het ons hier en nou in direkte verhouding gebring met 'n hemelse Vader. 'n Vader wat ook natuurlik die Heerser van die heelal is.  Daarom volg dit logies dat 'n lewe van gehoorsaamheid vir ons 'n absolute prioriteit moet wees.

In Christus het ons oorvloedige lewe ontvang en daardie lewe is die lewe van God self. Dit is die lewe van die Seun en hierdie Seun het sy Vader in alles gehoorsaam.  Wanneer ons leef in en deur die oorspronklike en unieke Seun se gehoorsaamheid (Rom. 5:19) gee dit vir ons Vader groot plesier, maar terselfdertyd seën en verryk dit ons lewens. 


Wat is die vrae wat jy vra oor jou lewe op aarde?  Geseënd is jy as jy kan sê my grootste vraag is, "hoe kan ek nog oorvloediger wees in gehoorsaamheid aan my regverdige en getroue hemelse Vader"? 

No comments:

Post a Comment