"Teenoor
Grieke sowel as nie Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ‘n
skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is,
die evangelie te verkondig." Romeine 1:14-15
"Die
liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir
almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het." 2 Korinthiërs
5:14
Die profete in die Ou Testament het nie openbaringe by God
ontvang om dit net vir hulleself te hou nie.
Dit was altyd openbaring wat bedoel was om by mense uit te kom. Dit is ook niks anders in die Nuwe Testament
met ware dissipels van Jesus nie. In ons
geval is dit natuurlik net die insig wat die Gees ons gee van dit wat reeds
deur die profete en apostels neergepen is.
Die Heilige Gees ontsluit vir ons die Bybel en openbaar
Christus om ons in die teenwoordigheid van die Vader te bring, maar dit is 'n
besonderse kenmerk van die bediening van die Gees dat Hy altyd saam met die
ontsluiting van die Bybel 'n dringendheid in ons plaas om dit te deel met
mense. As jy jouself bevind op 'n plek waar die Bybel vir jou 'n boek geword
het wat jou net intellektueel fassineer en besig hou of skietgoed gee om
teologiese debatte te wen, het jy dringend nodig om te erken dat jy kontak
verloor het met die hoofdoel van die Bybel.
Die Heilige Gees sal ons altyd eers by self-ondersoek bring deur die
openbaring van Christus, sodoende in die teenwoordigheid van die Vader bring, en
dan vir ons 'n dringendheid in ons binneste gee om ménse te bedien.
Vir seker is die Skrif ook bedoel om ons toe te rus om
verkeerde leer te weerlê en verkeerde gedrag te identifiseer (2 Tim. 3:16),
maar as ons nie meer in die Vader se teenwoordigheid gebring word en dan by
mense uitkom deur die Woord nie het ons ver wegbeweeg van die hoofdoel van die
Bybel. Dan is dit tyd om te erken en
bely sodat die Heilige Gees weer vars in ons kan werk op hartsvlak, dieper as
die verstand en intellek.
No comments:
Post a Comment