Wednesday, 29 March 2017

DIE ONBEKENDE GOD

"Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.    Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle." Handelinge 17:22-23 

Ek wonder...as Paulus vandag deur ons dorpe en stede moes loop en ons "heiligdomme" sien; geboue gemaak deur mensehande wat ons 'n "kerk" noem, wat sou hy vir ons sê?  Wat sou hy vir ons sê as hy moes praat met ons en agterkom dat baie van ons God net deur hoorsê via 'n hedendaagse priester-orde en geykte godsdienstradisies ken?  Wat sou hy sê as hy sou vind dat daar soveel van ons is wat Jesus se naam formeel en godsdienstig bely, maar wat nie vir Jesus eerstehands en persoonlik ken nie?  As hy sou vind dat baie van ons geen konsep het van die liggaam van Christus wat 'n geestelike entiteit is wat veronderstel is om in die "eenheid van die Gees" te funksioneer nie.  Sou hy nie dalk vir ons sê nie:


" Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle."

Monday, 27 March 2017

VEG OP DIE REGTE FRONT

Na die sondeval het die satan begin heers in die gevalle harte van mense en die tekens daarvan is ooglopend regdeur die geskiedenis.  Die boosheid, moord en doodslag wat gevolg het op die sondeval is skrikwekkend.  Die hele menslike verhaal nadat Adam eet van die verbode vrug word primêr geskryf deur die heerskappy wat mense oor mekaar probeer kry.

Christus het na hierdie aarde gekom om die heerskappy van God te vestig en ons te verlos van die boosheid van ons eie harte.  In Christus het ons 'n koningskap ontvang, maar nie 'n koningskap oor ander mense nie. 

”En ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." Openbaring 1:6
Ons word geroep om te heers oor die gevallenheid in ons harte.  Ons word geroep om die kwaad te oorwin deur die goeie. 

"Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie." Rom. 12:21

Ons word geroep om ons eie "vlees" te oorwin.

"Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie." Gal. 5:16-17 

"Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is." Openbaring 2:7 


Ons moet dringend leer om te veg aan die regte front.  Ons geveg is nie in die wêreld met ander mense nie.  Die groot geveg is binne in ons eie harte!  In Christus kan ons oorwin.

Wednesday, 22 March 2017

JY-KAN-MY-NIKS-VERTEL-NIE

Dissipels van Jesus, insluitend gemeenteleiers (wat ook maar net dissipels is),  het net een groot Leermeester en dit is Jesus self.  Menslike leraars verteenwoordig net die Leermeester Jesus en kan of mag Hom nooit vervang nie. As Jesus dan ons groot Leermeester is en ons is almal dissipels, waarvan nie een al volleerd is nie, waarom het ons dan so dikwels die "jy-kan-my-niks-vertel-nie" gesindheid teenoor dissipels van ander gemeentes as ons eie? Selfs in ons eie plaaslike gemeentes het ons soms hierdie houding teenoor mekaar.

Net hier vind ons die groot oorsaak van soveel verdeeldheid onder gemeentes en dissipels van Jesus.  Dit is so heerlik en geseënd om met ander dissipels (weereens insluitend gemeenteleiers) te gesels oor ons onderskeie roepings in die koninkryk wanneer ons werklik onder Jesus se oomblik-vir-oomblik lering deur Sy Woord en Gees staan.  Maar dit is soos tande trek om te probeer praat met mekaar wanneer daar 'n "jy-kan-my-niks-vertel-nie" gesindheid is.  Sekerlik is die essensiële leringe van ons geloof ononderhandelbaar.  Ware dissipels is reeds een in die essensie van die evangelie.  Maar daar is baie ander sake waaroor ons met mekaar kan, en moet, praat m.b.t. ons bruikbaarheid in die koninkryk en ons praktiese eenheid.  Is ons regtig leerbaar?

Gaan dink weer 'n slag oor die volgende vers in Jakobus wat so pragtig en diepsinnig 'n leerbare gees en gesindheid verwoord.


"Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg." Jakobus 3:17  (NAV)

Wednesday, 15 March 2017

DIE AANTREKKINGSKRAG VAN GOD

"Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar." Johannes 1:18 

Jesus het die onsigbare God kom openbaar en daarom word elkeen wat in Jesus glo met 'n reddende geloof as't ware ingetrek in 'n "geestelike draaikolk" met middelpuntsoekende krag.  Ons blootstelling aan Jesus plaas ons op die buiterand van die draaikolk, maar soos wat ons aanhou om "Christus te aanskou" (2 Kor. 3:18) word ons dieper en dieper ingetrek in die heerlikheid van God.  Die mens se hart is gemaak om onder beheer te wees van 'n allesoorheersende passie en die enigste passie wat ooit ons rustelose harte kan bevredig is God self.  Enige ander passie wat ons beetkry en ons intrek is 'n afgod/verslawing.  Verslawing is in 'n sin niks anders as afgodery nie, want dit is iets wat besit van my hart gekry het en my toenemend aantrek.  Die evangelie is die enigste krag in die heelal wat die gevalle menslike hart kan bevry van afgodery/verslawing, want die evangelie stel  ons bloot aan die grootste aantrekkingskrag in die heelal, die Persoon van God.

"Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien." 1 Thessalonicense 1:9  


Enigiets wat jou nie kan bevry van afgode/verslawings nie, is nie die evangelie van Jesus Christus nie.  Of dalk verstaan jy die evangelie, maar jou fokus is op soveel ander dinge wat onsuksesvol belowe om jou vry te maak. Wie of wat het beheer van jou hart?

Monday, 13 March 2017

OORWINNING IN DANKBAARHEID

Dit is baie moeilik vir sonde om wortel te skiet en te groei in 'n hart wat dankbaar en jubelend is weens die invloed van God se genade in Christus. Vervulling in Christus maak al die versoekinge van satan kragteloos. Is dankbaarheid 'n kenmerk van jou daaglikse lewe?


"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16

Wednesday, 8 March 2017

ALBEI OË OP DIE WARE KONING

Terwyl die "nasies woel en nietige dinge bedink" (Ps. 2:1) is God besig om Sy ewigheidsplan deur twee "onbelangrike" Joodse vrouens tot uitvoer te bring.  Die magtiges van die land hou samesprekings en neem groot besluite.  Intussen gaan God se plan onverpoosd voort en werk Hy deur die nederiges op maniere wat geen mens kan uitdink nie. 

"Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan.  Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet.Lukas 1:39-40 

In die gesprek (profesie) tussen Elisabet en Maria maak Maria die volgende stelling:

"Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog." Lukas 1:52 

God se weë is anders as mense s'n en Maria, wat die Messias (die volledige Plan van God) in haar dra, gee 'n absoluut fantastiese uiteensetting van hierdie anderste weë van God in die lig van die komende geboorte van die Messias.  Lees haar volledige uitspraak in Lukas 1 verse 46 tot 55 en ook Psalm 2 vir agtergrond.  Alhoewel die politiese bestel van nasies steeds voortgaan op die beginsel van die magtiges en invloedrykes weet ons as dissipels van Jesus dat Hy reeds deur God gesalf is as Koning.  Spoedig kom Hy terug na hierdie aarde en dan is dit die nederiges wat verhoog gaan word en die hoogmoediges wat verneder gaan word. Kom ons hou ons oë op die ware Koning.


"Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;  maar ons sien Hom, naamlik Jesus..."  Hebreërs 2:8-9a

Monday, 6 March 2017

SONDER HOM IS ONS NIKS EN HET ONS NIKS

"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word." Kolossense 3:4

"Christus, wat ons lewe is...".  Wat 'n verstommende en heerlike stelling!  Christus gee nie net vir ons lewe nie.  Hy ís ons lewe.  Sonder Jesus kan ons nie lewe nie en sonder Jesus het ons nie lewe nie, maar Jesus is meer as net ons Bron van lewe.  Jesus het nie net vir ons verlossing gebring nie, Hyself het vir ons verlossing geword (1 Kor. 1:30).  Hy is "die weg, die waarheid en die lewe".  Daarom is al die voordele van ons redding onlosmaaklik aan Sy persoon verbind.  Dit is nie net die verlossingswerk van Jesus wat ons red nie, dit is juis ons verhouding met Hom, die Redder, wat al die voordele en seëninge van verlossing binne ons bereik plaas.  Daarom maak Jesus hierdie verstommende stelling tydens Sy aardse bediening:

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie." Johannes 6:53


Ons geloofsverbintenis met Jesus is 'n geestelike werklikheid wat ons so afhanklik maak van Hom soos die suurstof wat ons inasem om biologies te kan bly voortbestaan.  Jesus is in Sy persoon en wese ons geestelike lewe en daarom moet ons baie versigtig wees dat ons nie so besig raak met die dinge van God of die leringe oor Hom dat ons in die proses ons persoonlike en daaglikse verhouding met Jesus verwaarloos nie.

Wednesday, 1 March 2017

DIE KRAGTIGE GETUIENIS VAN DIE EVANGELIE IN 'N MENS SE HART

Die getuienis wat God self in jou hart gee wanneer jy wederbaar word deur die Gees is groter as enige mens se getuienis, selfs die van die oorspronklike apostels. 

Paulus sê selfs al sou hy of een van sy medewerkers 'n ander evangelie verkondig as die oorspronklike een wat wedergeboorte tot gevolg gehad het, durf die dissipels in Galasië nie die getuienis aanvaar nie.  Nie eers 'n bonatuurlike verskyning en verkondiging van 'n engel moet ons laat twyfel aan die oorspronklike getuienis van die Gees in ons binneste nie.

"Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!" Galasiërs 1:8 


Die historiese werklikheid van die dood en opstanding van Jesus wat 'n appél maak op geloof alleen (1 Kor. 15:1-6) is die enigste evangelie wat ware wedergeboorte kan bewerkstellig.  Hoe sterk staan ek en jy in ons oortuiging van die evangelie?  Wat as groot name of jou plaaslike predikante en leraars begin om die evangelie aan te pas of af te water?  Staan jy onwrikbaar op die Woord van God en die getuienis van die Heilige Gees in jou hart of kan mense jou kop swaai?  Ek is bevrees in baie kringe vandag het die leierskap van die kerk die soort mag oor mense se gewetens wat eintlik net die Heilige Gees se prerogatief is.  Dink weer oor die radikale implikasies van Paulus se stelling in Galasiërs 1 vers 8.