Tuesday, 7 April 2020

LEEF JY IN DIE VREUGDE VAN DIE NUWE JERUSALEM?


Die vreugde van die mense van God in die stad van God is 'n kragtige getuienis en uitnodiging vir verlore mense om die tydelike en vlietende vreugdes van "aardse stede" te laat vaar en die alternatief ("volheid van vreugde") in Christus te vind.

"En op dié dag het hulle groot offers gebring en was vrolik; want God het hulle groot vreugde verskaf, en ook die vroue en kinders was vrolik, sodat die vreugde van Jerusalem tot ver weg gehoor is." Nehemia 12:43

Die herstel van die aardse Jerusalem het vir die mense van God in die Ou Testament groot vreugde verskaf.  Die aardse stad is egter net 'n simbool van die hemelse Jerusalem; die ewige stad van God waar ewigdurende vreugde heers in die teenwoordigheid van God.

"Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is." Hebreërs 11:10

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11

Volgens Hebreërs 12 het die mense van God van die Nuwe Testamentiese era reeds gearriveer in hierdie wonderlike, hemelse stad!

"Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges."  Hebreërs 12:22-23

Hierdie waarheid is so verstommend en rewolusionêr dat 'n mens dit kwalik kan glo wanneer jy dit die eerste keer lees of hoor.  Hoe kan dit wees dat ek nog leef in hierdie gevalle en droewige wêreld van sonde en dood en terselfdertyd in 'n hemelse woning kan wees?  Die antwoord is dat my ware lewe vanuit God se perspektief Christus is (Kol. 3:4) en dat Hy my roep om my hart en gedagtes te rig op hemelse werklikhede in Hom selfs terwyl ek 'n bestaan het in die tydelike wêreld.

Ons is in die wêreld, maar nie meer van die wêreld nie.  Ons het dus nodig om vanuit die ewige in die tydelike te leef.  Dit beteken geensins dat ons ongevoelig is vir die verwoesting, pyn en lyding rondom ons nie, maar wel dat ons bo dit kan leef en juis in daardie vreugde van die "ewigheidsvisie" verlore mense kan wakker maak vir 'n ander wêreld.  God roep ons op om mense wakker te maak vir 'n wêreld wat nie nou met die oog gesien kan word nie, maar wat nietemin 'n onverganklike werklikheid is.

"Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig." 2 Korinthiërs 4:18

"As bedroefdes, maar altyd opgeruimd.."  2 Korinthiërs 6:10

"Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" Filippense 4:4

No comments:

Post a Comment