Monday, 27 April 2020

GOD SE ENIGSTE PLAN WAS NOG ALTYD VIR CHRISTUS OM JOU HORISON TE VUL


"...maar Christus is alles..." Kolossense 3:11

Soos wanneer 'n mens by die see staan vroeg in die oggend op 'n wolklose dag en jy kyk na die son wat opkom oor die waters en stadig maar seker die hele horison verower, so is dit bedoel om te wees in ons aanskoue van Christus in die innerlike mens. Dit is die hoofdoel van die hele Bybel, van die evangelie, van ons verlossing, van al ons gebede en al ons gemeente aktiwiteite.

As Christus nie jou horison meer en meer vul nie mors jy net jou tyd, al doen jy elke dag op jou eie of saam met ander Bybelstudie, bid vir ure en evangeliseer so dikwels as moontlik. Die wese en karakter van Christus kan nooit verander nie en dit is om almal te vul met Homself. Christus is nie net die instrument van ons verlossing en die sentrale persoon daarvan nie, Hy ís die begin en die einde van die evangelie en alles tussenin. Lees Kolossense 1 verse 15 tot 20 met aandag as hierdie stelling vir jou vergesog klink.

Daarom is énige ander kriterium as 'n lewe gevul met Christus en wat dan oorloop van Christus totaal onvoldoende om die waarde van 'n mens se tyd op aarde aan die einde van sy lewenspad te beoordeel. Is jou lewe hier-en-nou in die proses om toenemend gevul te word met Christus? Indien nie, draai weg van alles en almal en kyk op na waar "die son van geregtigheid" besig is op te kom oor die waters van jou hart en ook onverpoosd in die geskiedenis van die mensdom.

"Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal." Maleági 4:2

Daar is honderde dinge wat vandag nog gaan eis dat hulle belangriker is as Christus op die horison van jou hart. Die uurglas loop leeg. Kyk op.

No comments:

Post a Comment