"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek
die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie." Kolossense 3:1-2
Ons moet radikaal
onderskei tussen hemel en aarde as ons geestelik wil groei. Ons moet kyk na die aarde van die hemel af,
nie andersom nie. Ons denke moet as't
ware in 'n "lockdown" in die hemel wees sodat die virus van die korrupte
denke van die gevalle Adam ons nie kan infekteer nie. Niks op aarde is meer aansteeklik as hierdie
gevalle denkwyse ("mindset") nie en dit is letterlik orals.
"Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld
in die mag van die Bose lê." 1 Johannes 5:19
Ongelukkig is dit
nie net in die wereld nie, maar ook in die meeste kerke want die
godsdiens-mentaliteit van Adam is maar net dieselfde virus wat op 'n ander
manier presenteer. Dit is onmoontlik om die stukkende, gevalle wêreld met die
krag van die evangelie te bedien as ons nie eers self 'n radikale verandering
van perspektief kry vanuit "hemelse plekke" (Efes. 2:6) met die
"sin van Christus" (the mind of Christ) nie (1 Kor. 2:16). Lees Kolossense 3 verse 1 tot 4 in hierdie lig.
Dit is niks anders as 'n hemelse "lockdown" nie en dit is verfrissend,
verlossend en vernuwend. Op geen ander
plek kan ons die geestelike toerusting kry om ons generasie effektief te bedien
nie.
"Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne
struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met
vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en
word nie mat nie." Jesaja 40:30-31
No comments:
Post a Comment