Thursday 22 September 2022

HY'T SY LERING REGGEKRY, MAAR SY HART HET LEEG GEBLY

Reinheid van hart, nederigheid, liefde en 'n diensbare gees is belangriker as om altyd net presies reg te wees in ons leer. Leerstelling is baie belangrik, maar as ons die regte leer het sonder dat "Christus in ons gestalte kry" (Gal. 4:19) in reinheid, nederigheid en liefde, is ons sekerlik op 'n slegte plek.

Dit is moontlik om die letter van 'n leerstelling te hê sonder om die gees van daardie leerstelling te hê. Die "sin van Christus [mind of Christ]" (1 Kor. 2:16) is veel, veel meer as om net jou leerstelling reg te kry.

Die stryd om die waarheid van die evangelie sal altyd daar wees, want die satan is 'n bedrieër wat besigheid doen met vals leringe en daar is baie wat onbruikbaar langs die pad lê weens sy suksesvolle veldtog in hulle lewens. 

Maar 'n mens moet die vraag vra hoeveel ander lê uitgehaal langs die pad vir 'n ander, minder voor-die-handliggende rede, naamlik dat hulle gesonde lering verwar het met gesonde geestelikheid.  'n Mens kan gesonde lering hê  in jou denke en verkondiging, sonder dat daardie lering jou bring by reinheid van hart, nederigheid en liefde.

"Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor." 1 Timotheüs 4:16

Paulus vermaan Timotheüs om op homself én op die leer te let.  Waarvan moet Timotheüs dus seker maak m.b.t. sy lewe.  Sekerlik dat hy heilig en afgesonderd lewe, maar hoe gebeur dit?  Dit begin by 'n rein hart en 'n goeie gewete wat net 'n werklikheid kan wees wanneer Christus heers in ons HARTE deur die krag van die Gees (Efes. 3:16-17), nie net in ons denke nie.  'n Kop soos 'n waatlemoen en 'n hart soos 'n grondboontjie eer nie die Here nie.

"Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof."  1 Timotheüs 1:5

Tuesday 20 September 2022

DINK, LEEF EN WERK IN ‘N ATMOSFEER VAN RUS, VRYHEID EN VREDE

‘n Dissipel van Jesus is nie besig om te beweeg na rus, vryheid en vrede nie, hy begin sy geestelike lewe in ‘n atmosfeer van rus, vryheid en vrede. 

Dit is een van die groot verskille tussen ware Christenskap en die Christenskap van vormgodsdiens. Vormgodsdiens se hele program en agenda het ten doel om rus, vryheid en vrede te bekom en te bewerkstellig.

In Christus het ons reeds van dag 1 van ons wedergeboorte af rus, vryheid en vrede. 

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Mattheüs 11:28

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” Galasiërs 5:1

“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” Romeine 5:1

In hierdie atmosfeer is ons bedoel om te dink, leef en werk, en ook te bid en ly ter wille van die evangelie.  Die oomblik wat ons uitbeweeg uit hierdie posisie in Christus het ons as’t ware uitgestap uit die hemelse dimensie waaruit ons veronderstel is om te leef.  Dan begin ons dink en leef in die wêreld se atmosfeer en ons geestelike lewe begin noodwendig fragmenteer. 

Wat ‘n tragedie dat so ‘n groot deel van die kerk besig is met vormgodsdiens en nie eers besef dat dit die atmosfeer van die wêreld is en dat God nooit bedoel het dat Sy kinders moet leef en dink en werk in daardie dimensie nie.

Laat ons dus begin waar God begin sodat ons die goeie werke kan doen wat Hy vir ons voorberei het (Efes. 2:10), in plaas van die werke van vormgosdiens wat geen ware groei of vrug bring in die finale analise nie.

Tuesday 13 September 2022

HY WORD DIE TROOSTER GENOEM, MAAR HOE TROOS HY?

"En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid." Johannes 14:16

Die Heilige Gees word in die evangelie van Johannes "die Trooster" genoem, Een wat as't ware langs ons inkom om te help en te ondersteun.  Dit is egter krities belangrik vir ons om te verstaan hoe presies Hy troos en help, in die konteks van die Nuwe Testament. 

Oorweeg saam met my die volgende twee tekste in Johannes waar daar ook gepraat word van die Trooster:

"Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het." Johannes 14:26

"Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig." Johannes 15:26

Ons sien hier dat die Heilige Gees troos en help deur te "leer", te "herinner" en te "getuig" en dit alles met betrekking tot die persoon en verlossingswerk van Jesus.  Ons moet dus baie versigtig wees om nie die troos van die Heilige Gees bloot te sien as emosionele ondersteuning in moeilike omstandighede of na tragiese gebeure in ons lewens nie.

Ja, dit is wel so dat die Heilige Gees ons direk in ons binneste kan troos en dit ook inderdaad doen.  Maar ons is in die finale analise en bo alles dissipels van Jesus wat op 'n evangelie-missie in hierdie wêreld is (Mt. 28:19).  Daarom moet ons die troos en hulp van die Gees bedink en verstaan in terme van die openbaring van Jesus. 

Die Heilige Gees is gedurig besig om ons te herinner aan die pre-eminensie van Christus en dat Hý ons lewe, ons hoop, ons vrede, ons wysheid, ons geregtigheid en verlossing is.  Hy herinner ons dat ons gesterf het saam met Christus en dat die Algenoegsame Verlosser nou in ons leef.  Hy herinner ons op 'n duisend verskillende maniere dat hierdie tydelike lewe slegs sin maak wanneer Jesus sentraal bly in ons harte en wanneer ons onthou dat ons besig is met 'n wedloop van geloof en dat daar opofferings is ter wille van die evangelie.

Mag ons nooit die konteks van ons lewens as dissipels vergeet nie en mag ons nooit begin om, soos die wêreld, net binne eksistensiële grense te dink nie.

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3

Wednesday 10 August 2022

EERS KRUIS, DAN KRAG

Indien ‘n gelowige nie die kruis en die koninkryk verstaan nie sal Hy die werkinge en krag van die Heilige Gees op die verkeerde plekke in sy geestelike lewe soek. 

Hy sal nie verstaan dat God se krag volbring word deur swakheid (2 Kor. 4:7 en 12:1-10), m.a.w. identifikasie met die kruis, nie.  Eers kruis, dan krag!

"...My genade is vir jou genoeg.  My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is..." 2 Korinthiërs 12:9

Verder sal hy die krag van God misinterpreteer en misbruik vir sy eie voordeel en nie verstaan dat dit gegee word om God se koninkryk te bou en Hom te verheerlik nie.  

Tuesday 2 August 2022

GELOOF IN DIE NUWE TESTAMENT IS VEEL MEER AS OM NET DIE FEITE VAN DIE EVANGELIE TE GLO

Die hele Nuwe Testament verkondig ‘n wonderlike Persoon (Jesus) en die appél op ons om met ons hele hart en lewe Hom eerste te stel in alles. 

Almal sal sekerlik saamstem dat geloof absoluut sentraal is in die Nuwe Testament en dat daar letterlik honderde tekste is wat mense oproep om te glo in Jesus Christus en Sy verlossingswerk.  Die leer van regverdigmaking deur geloof alleen word nie verniet genoem “die leer waarop die kerk staan of val” nie.  Dit is sekerlik waar om te sê, as jy nie die leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen het nie, het jy nie die evangelie nie.  Dit is egter nie genoeg om net dit te sê en dit dan daar te los nie.   

As ‘n mens die Nuwe Testament in sy geheel ondersoek, vind jy dat die Vader met geen ander reaksie op die evangelie tevrede is nie, as volkome en onverdeelde toewyding aan Jesus. In al die boeke van die Nuwe Testament sien ons dat dít die oorwinning van geloof en hoop is.  Die satan het baie subtiel die betekenis van die woord geloof verskraal tot ‘n blote geloofsbelydenis. 

“Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.”  2 Korinthiërs 11:3

Oor en oor in die Nuwe Testament word ons gemaan om ons toewyding aan Jesus lewend te hou op die altaar van ons harte te midde van al die uitdagings van die lewe en nie onsself te bedrieg met ‘n “geloof” wat net by woorde bly nie. 

Hoekom lees en gehoorsaam ek die Woord?  Want ek het Hom lief.  Hoekom bid ek?  Want ek het Hom lief.  Hoekom wil ek graag saamkom met ander gelowiges in aanbidding?  Want ek het Hom lief.  Hoekom getuig ek van Hom? Want ek het Hom lief. 

In Johannes 21 sien ons hoe Jesus ‘n dissipel (Petrus) herstel in sy geloof deur drie maal vir Hom te vra, “het jy My lief”?  Dit bly die toets van ware geloof.  Moet nooit weer die woord “geloof” of “glo” lees in die Nuwe Testament sonder om dit te verbind aan ‘n onvoorwaardelike toewyding aan Jesus nie.  Dit sal jou bewaar van dosyne slaggate en jou geestelik gesond hou.  Geestelike groei is dan ook niks anders nie as ‘n immer-toenemende toewyding aan Jesus in elke seisoen van ons lewens op aarde.

Tuesday 28 June 2022

DIE JESUS WAT NET TROOS OF NET KONFRONTEER IS NIE DIE JESUS VAN DIE BYBEL NIE

Een van die mees kommerwekkende tendense in die kerk vandag is dat ons so dikwels 'n Jesus sien wat net troos en nooit konfronteer nie.  Soms sien ons egter ook nog 'n Jesus wat net konfronteer en nooit troos nie.  Nie een van die twee is die Jesus van die Bybel nie.  Die Jesus van die Bybel konfronteer en troos/bemoedig heeltyd, na gelang van mense en gemeentes se reaksie op Hom.  Daarom is dit so belangrik om nie die Bybel so te leer en bedien dat die lewende Jesus (die Persoon) as't ware verdwyn agter die dik gordyn van ons dogmatiese teologie nie.

Dit is ook nie akkuraat om te sê dat Jesus net ongelowiges konfronteer en net gelowiges troos nie.  Jesus kan selfs gewete-geteisterde en "repentant" ongelowiges troos met die belofte van die evangelie en Hy konfronteer dikwels gelowiges as hulle onafhanklik van Hom begin leef en verval in sondepatrone.  Dit sou liefdeloos wees van Hom om diesulkes nie te konfronteer nie.  Gaan lees gerus Openbaring hoofstukke 2 en 3 en let op hoe skerp Jesus vyf uit die sewe gemeentes daar konfronteer. 

 

Verder is dit besonders treffend dat die briewe van die Nuwe Testament geskryf word om baie spesifieke dinge te konfronteer in verskillende gemeentes, maar ook om die gemeentes te troos en bemoedig om te volhard as hulle sterk staan in die geloof.  Soms is daar in dieselfde gemeente diegene wat gekonfronteer moet word en ander wat bemoedig moet word (Openb. 2:24, 3:4). 

 

Volgens die Bybel konfronteer Jesus die heeltyd ongelowiges sodat hulle kan deel met hulle staat van sondige onafhanklikheid van Hom (Joh. 16:9).  Die oomblik wat 'n mens se hart egter na Jesus draai en jy begin leef in verhouding met Hom, troos en bemoedig Hy jou met die rykdom van die evangelie sodat jy kan volhard in geloof en liefde.  Wanneer jy egter weer onafhanklik van Hom begin leef (Joh. 15:4-5), sal Hy jou baie gou konfronteer (uit liefde) om jou terug te bring na die geseënde lewe IN HOM.

 

Dit is daarom krities belangrik vir almal van ons om die Bybel aan te hou lees in die "aangesig van Christus" sodat Hy ons kan konfronteer of bemoedig volgens Sy eie volmaakte insig in ons ware kondisie.  Ons moet egter ook bewus wees daarvan dat daar volgens die Bybel vir alle ongelowiges 'n konfronterende Jesus is wat hulle wil bring tot bekering en geloof en vir alle gelowiges 'n bemoedigende Jesus is wat hulle wil herinner aan hulle posisie in Hom, maar wat hulle ook dikwels juis op daardie basis konfronteer om "waardig te wandel" aan die hoë roeping in Hom (Ef. 4:1; Flp. 3:14).

'N TOTALE MISVERSTAAN VAN "SOOS IN DIE HEMEL NET SO OOK OP DIE AARDE"

Die afgelope paar jare kry ek elke nou en dan te doen met 'n baie vreemde interpretasie van Mattheüs 6 vers 10. Kwansuis is die bedoeling dat as daar geen siekte, armoede of enige ander negatiewe omstandighede in die hemel is nie, dit ook nie God se wil is dat daar vandag ooit so iets moet wees op aarde nie.   Ons moet dus uitgaan met hierdie mandaat om oral waar ons kom te verkondig dat alle siekte, armoede en lyding summier en onmiddellik opgehef word wanneer mense die "evangelie van die koninkryk" glo en bely.

Die interpretasie klink baie logies met die eerste aanhoor, totdat mens dit onderwerp aan die toets van onmiddellike konteks en die oorkoepelende boodskap van die hele Nuwe Testament.  Dan kom mens baie gou agter dat dit inderdaad 'n "vreemde" interpretasie is.

 

"Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde." Matt. 6:9-10

 

As ons na die konteks kyk van hierdie gebed wat Jesus aan sy dissipels voorhou, word dit baie gou duidelik dat Jesus ons wil leer dat die NAAM, KONINKRYK en WIL van die Vader ons prioriteit moet wees in ons gebede en in ons lewe.  Die voor-die-hand-liggende interpretasie is daarom dat ons moet bid dat mense hulle sal onderwerp aan God se wil op hierdie gevalle aarde net soos wat almal hulle onderwerp aan God se wil in die hemel.  In hierdie verstaan van die gebed word die tydelike dinge dan 'n bysaak.  Net 'n bietjie verder aan, in vers 33 van dieselfde hoofstuk, word dit glashelder duidelik dat dít die regte interpretasie is:

 

"Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word."

 

Jesus wil Sy dissipels leer dat die groot uitdaging in die lewe is om ons wil deur die evangelie onderworpe te kry aan die wil van die Vader in die hemel sodat ons SODOENDE Sy naam kan verheerlik en Sy koninkryk kan laat deurbreek op aarde soos wat ons ook ander oproep om hulle te onderwerp aan die wil van die Vader IN CHRISTUS.  Die tydelike dinge moet nooit ons fokus wees nie, want die Vader sal dit vir ons "byvoeg" volgens Sy wil en plan vir ons lewens.

 

In die laaste deel van die bergpredikasie word dit so duidelik dat die hele lering van Jesus in hierdie drie hoofstukke in Mattheüs (5-7) ten doel het om ons in te bring (7:13) in die dimensie waar die Wil van die Vader heers.  Die "nou poort" van vers 13 is 'n poort waar my eie wil "besny" word deur die krag van die evangelie en aan die ander kant van daardie nou poort is daar 'n "nou pad" waarop slegs die Vader se wil geld.  En dan net 'n paar verse later volg hierdie skokkende woorde van Jesus:

 

"Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!" Matt. 7:21-23

 

Jesus wil die boodskap baie, baie duidelik oorbring dat ware redding te doen het met ons wil wat besny word deur die kruis.  As ons wil onaangeraak bly (v.23b), is ons nie op die nou pad nie en het ons vir seker nog nie deur die nou poort gegaan nie.  In hierdie konteks sien ons dus dat daardie vreemde interpretasie van "soos in die hemel net so ook op die aarde" nie net die hele punt mis van wat Jesus probeer leer nie, maar dat dit 'n besonderse gevaarlike boodskap oordra vir 'n generasie wat klaar so ingestel is op die tydelike en wat ten alle koste onmiddellike bevrediging soek.  Mag die Here ons genadig wees dat ons nie die Skrifte verdraai en onberekenbare skade berokken aan mense wat die ware oproep van die evangelie so dringend nodig het nie.

Tuesday 17 May 2022

YWER VĺR GOD VERSUS DIE YWER VÁN GOD

Daar is 'n reuse verskil tussen ywer VIR God en die ywer VAN God. Ywer vir God sal nooit genoegsaam wees om die werk van God op aarde te volbring nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat slegs die ywer VAN die Here van die Leërskare God se werk op die aarde kan volbring.

"Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg." Jesaja 9:6  (NAV)

"...Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen." (OAV)

As ons aanhou om menslike ywer te verkondig as die oplossing vir allerhande gebreke en probleme in die kerk, is ons sonder begrip. Slegs God se eie ywer IN die gelowige ("Christus in ons") kan ons dissipelskapmandaat (Matt. 28:19) effektief tot uitvoer bring. Ons ywer vir God het baie definitiewe perke en dit is in die finale analise nie vir God welgevallig nie.

Paulus het van Israel volgens die vlees gesê, "Ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar nie volgens kennis nie" (Rom. 10:2).  Daar is altyd in elke generasie weer die versoeking om in daardie strik te val.  Ons moet vir seker baie ywerig wees in die werk van die Here, maar ware Nuwe Testamentiese ywer is net 'n verlenging van die ywer van die Here in ons.

"Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here." Romeine 12:11

"Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is." 1 Korinthiërs 15:10

"Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." Filippense 2:13

DIE ONONTBEERLIKE WERK VAN DIE GEES IN DIE HART VAN 'N ONGELOWIGE

Geen appél op die afgehandelde werk van Christus of enige dispensasionele argument oor die ongeldigheid van Jesus se evangelisasiepraktyke "voor die kruis" vir ons wat leef "na die kruis" kan ooit die nodigheid vir die voorbereidingswerk van die Heilige Gees in die hart van 'n ongelowige ophef nie.  Alle mense op aarde het 'n inherente en sistemiese hoogmoed, eie-geregtigheid en onafhanklikheid wat ons laat vertrou op onsself en op die gewaande bronne van die self-lewe. 

 

Daarom is dit so gevaarlik om vir ongelowiges 'n subjektiewe werk te verkondig wat kwansuis reeds ín hulle waar is.  Ware evangelieverkondiging is die verkondiging van 'n objektiewe werk van God op grond waarvan almal uitgenooi word om daaraan deel te hê deur geloof.

 

"Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte." 1 Korinthiërs 15:1-4

 

Mense se harte is nie gereinig voordat hulle nie glo nie.

 

"En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof." Handelinge 15:9

 

In 'n sin kan 'n mens sê dat die Heilige Gees die bediening van Johannes die doper oorgeneem het en dat Hy nou die Een is wat uitroep "alle vlees is gras" sodat mense se harte voorberei kan word om die evangelie dan te ontvang in 'n "edele en goeie hart" (Lukas 8:15).

 

" ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!" Jesaja 40:6-7

 

"En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie." Johannes 16:8-9

 

Die oortuiging van die Heilige Gees met betrekking tot sonde wys vir ons so duidelik dat mense nie van nature net in Jesus glo en Hom vertrou met hulle hele lewe en toekoms nie.  Van nature vertrou mense in hulleself en hulle eie bronne en vermoëns.  Mense is van nature tydgebonde en het bykans geen begrip van die ewigheid en die erns van God se heiligheid en die komende oordeel nie.  Die gewigtigheid van lewe en dood en ewigheid is nie net spontaan in mense se verwysingsraamwerk nie.  Ons generasie is werklik arm aan die belangrikheid van die voorbereiding van mense se harte vir die evangelie.  Dit is fataal.

 

Ja, sekerlik is die inhoud van die evangelie self nie die verlorenheid en verdorwenheid van mense nie, maar dit ís onontbeerlike voorbereidingswerk vir die ontváng van die evangelie. Om dus te sê dat ons nie moet praat van sonde wanneer ons die evangelie verkondig nie is onbeskryflik gevaarlik, want mense is van nature altyd reg om die voordeel van die evangelie vir hulleself te eien sonder om aan die debiet kant van die lyn te deel met hulle diep verlorenheid en sondigheid.  Die eerste oproep van die evangelie tot mense se harte is bekering!  As daar nie 'n wegdraai is van alle sélf-vertroue en 'n wegdraai van die dodelike innerlike "wet van die sonde en die dood" (Rom. 8:2) nie, kán daar nie 'n ware draai van die hart wees na totale vertroue in Jesus nie.  Dit is 'n logiese, teologiese en antropologiese onmoontlikheid!

 

Ons sien in Handelinge dat die subjektiewe uitwissing van sondes voorwaardelik is en die voorwaarde is bekering.  Hoekom?  Want die hart van die mens moet eers wegdraai van self om te kan draai na verlossing in Christus alleen.

 

"Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom."  Handelinge 3:19

 

Hierdie teks staan geensins teenoor die objektiewe werklikheid waarvan 2 Korinthiërs 5 vers 19 praat nie.  Dit is eerder 'n subjektiewe toe-eiening van die objektiewe waarheid van Christus se volmaakte en afgehandelde werk.

 

"Naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou."

 

Ek het onlangs gehoor iemand gee 'n boodskap oor hoe waardig ons almal nou is na die kruis.  Dit is 'n ernstige mistasting.  Die woord genade is sentraal tot die hele evangelie en dit voorveronderstel juis ons ónwaardigheid.  Ek kan nie die woord "genade" waardeer of gebruik in my prediking en gesprekke as ek dit nie verstaan in die lig van ons almal se ónwaardigheid nie.  Ons waarde as mense wat geskape is na God se beeld en gelykenis is iets heeltemal anders.  Ons is vir seker waardevol, maar vir seker nie waardig nie!

 

"En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie." Lukas 7:6

 

"Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele." Mattheüs 5:3

 

"En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!" Lukas 18:13

 

"Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees." Romeine 3:19

 

"Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang." Handelinge 2:37-38

Thursday 24 March 2022

DIE EVANGELIEGAWE VAN GEREGTIGHEID IN SEWE PUNTE OPGESOM

 "Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus." Romeine 5:17

Geregtigheid in die Nuwe Testament is eerstens die herstel van ons posisie voor God en tweedens die herstel van ons optrede in die wêreld.  Dit is krities belangrik om hierdie bybelse volgorde te handhaaaf en nooit, maar nooit om te draai nie.  Ongelukkig is daar soveel onkunde in gemeentes oor hierdie begrip dat die meeste mense nie regtig verstaan hoe kosbaar die woord "geregtigheid" is in die konteks van die evangelie nie.  Dit is inderdaad die hart van die evangelie en die voordeur wat lei na al die ander lieflike gawes van die evangelie.

"Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe." Romeine 1:16-17

Hier is kortliks sewe waarhede oor die openbaring van geregtigheid en die implikasies daarvan vir ons geestelike lewe as dissipels van Jesus en ons gesamentlike lewe as die gemeenskap van God op aarde.

1. Die gawe van geregtigheid is gebaseer op Jesus se eie geregtigheid voor die Vader. Daarom sê die Bybel in 1 Korinthiërs 1 vers 30, "Christus het vir ons geword geregtigheid (onder andere) uit God"!  En in 2 Korinthiërs 5 vers 21, "in Hom het ons die geregtigheid van God geword".  Verstommend!  Dit beteken dus dat die gawe van geregtigheid 100% regverdiging skenk en niemand kan daarop verbeter nie.  Niks minder kan God tevrede stel nie, want Hy is 100% heilig en regverdig.

"Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword." Jakobus 2:10

"Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie." Romeine 3:21-22

"Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet." Romeine 3:28


2. Ons kan God net werklik aanskou in geregtigheid en ons groei in verhouding met Hom op dieselfde basis. 

"Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word." Psalms 17:15

"Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid." 2 Korinthiërs 3:9

"En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18

 

3. Wanneer jy nou as kind van God sondig, oortuig die Heilige Gees jou, Hy veroordeel jou nie. Daar is dus 'n deurslaggewende verskil tussen oortuiging en veroordeling en die dissipel van Jesus moet daardie verskil ken as 'n diepe oortuiging, anders leef ons gedurig met onderliggende skuldgevoelens wat 'n goeie en stabiele verhouding met die Vader bykans onmoontlik maak.

"Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie." Romeine 8:1

"Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus." Romeine 5:1

"Laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water." Hebreërs 10:22


4. Sondebelydenis is teenoor 'n Vader, nie 'n Regter nie. Jy is in die huis van jou hemelse Vader, nie meer in 'n geregshof soos toe jy jouself as sondaar in die teenwoordigheid van 'n heilige God gesien het nie. Boonop is sondebelydenis 'n eenvoudige erkenning (saamstem met God) dat iets verkeerd is as die Vader sê dit is verkeerd en sonde.  Dit is nie boetedoening ("penance") nie.  Ons vergifnis is gebaseer op die volmaakte offer van die bloed van Jesus, nie op enigiets wat ons kan doen nie.

"En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word." Lukas 18:9-14

"Wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus." 1 Johannes 1:3

"As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig." 1 Johannes 1:9

"Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees." Hebreërs 10:19-20

 

5. Belydenis herstel gemeenskap, nie verhouding nie. Jou verhouding is onbeweegbaar gevestig in Christus, soos jou geregtigheid in Hom. Sonde onderbreek net die gemeenskap, dit verbreek nie die verhouding nie.

"En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus." Galasiërs 4:6-7

 

6. Die Vader se snoeiwerk (Joh. 15) en dissiplinering (Heb. 12) moet gesien word as baie liefdevolle dade om ons te leer en te skool in godsaligheid, al voel dit ten tyde van die dissiplinering nie soos iets "om oor bly te wees nie".

"En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?" Hebreërs 12:5-7

Die snoeiwerk van die Vader is egter nie dissiplinering vir ongehoorsaamheid nie, maar word juis gedoen wanneer ons vrug dra en die doel is dat ons nog meer vrug sal dra.  Ons het nodig om te onderskei en verstaan waarmee die Vader besig is in ons lewens.  Die belangrikste punt is egter dat ons nooit die liefde in Sy Vaderhart in twyfel sal trek nie.

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra." Johannes 15:1-2

 

7. Ons verhoudinge met mekaar in Christus is 100% gebaseer op die geregtigheid wat ons in Hom ontvang het.

Waarskynlik die moeilikste ding om baas te raak in verhoudinge is om te glo dat daar werklik “geen veroordeling” is “vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1).  Ons hemelse Vader het “die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker” (Kol. 2:14).  Nou verwag Hy van ons om die klagstate wat ons teen mekaar hou ook aan die kruis vasgespyker te sien en om dan sonder veroordeling ons verskille met mekaar in nederigheid en liefde uit te sorteer. 

Solank as wat daar egter 'n klagstaat teen jou in my hart en mond is, is daar altyd veroordeling en in daardie atmosfeer word niks ooit uitgesorteer tussen mense nie!   Inteendeel, dit lei net tot agterdog, twis, vyandigheid, verdeeldheid en weerwraak.  Daarom moet ons aanhou hoor wat die evangelie vir ons wil oordra en bo alles gló dat ons sonder veroordeling sake kan uitsorteer deur die oortuiging wat die Heilige Gees bring in ‘n atmosfeer van wedersydse nederige afhanklikheid van God.

Tuesday 22 March 2022

DIE INISIATIEF VAN GOD: NEEM 'N TREETJIE TERUG

Soms wonder ek of ons nie so verstrengel raak in ons teologiese oortuigings en voorveronderstellings dat ons die effek van die evangelie op 'n dieper en intrinsieke vlak as't ware omseil en sodoende die hoofpunt en die broodnodige hartsversterking mis nie.

"... want dit is goed dat die hart versterk word deur genade... " Hebreërs 13:9

Ons word byvoorbeeld so diep ingetrek in die hele debat rondom Calvinisme versus Arminianisme op 'n dogmatiese, intellektuele vlak dat ons geestelike sintuie verstok en verkalk en ons geestelike hartversaking kry in die proses!

Kan ons nie net 'n treetjie terugstaan en net eers weer oorweldig word deur die groot openbaring van God die Vader se liefdesinisiatief in Sy Seun nie? Is dit nie die hoofpunt van die Nuwe Testament nie?

"Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun. "
Hebreërs 1:1


En dan wanneer ons harte oorweldig is in blydskap, dankbaarheid en liefde kan ons stadig en versigtig en met baie geduld die relevante leringe opneem met die fokus op Christus en onder leiding van die Heilige Gees. Dalk land ons dan iewers nader aan mekaar en kan daar meer sinvolle en minder gepolariseerde gesprekke wees oor hierdie sake.

Ons eie geliefde Andrew Murray het so baie geskryf oor die hart se belewenis van geestelike dinge wat 'n duisend maal ryker en dieper is as die reikwydte van die denke. Miskien moet ons weer 'n slag een van sy boeke opneem en vars ontdek hoekom hy internasionaal so 'n geweldige en lewensveranderende impak op duisende gehad het, en steeds het.

"Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe." Spreuke 4:23

"Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het." 1 Korintiërs 2:12-13

Thursday 10 March 2022

DIE LEWENDE WOORD VAN GOD IS 'N GAWE VIR ALLE DISSIPELS

"En verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei." 1 Petrus 2:2

Ek glo dat ons sonder vrees vir teenkanting kan sê dat God sy Woord as ‘n gawe gegee het vir alle gelowiges; klein of groot, jonk of oud, begaafd of minder begaafd,  intelligent of minder intelligent.  En daardie Woord is bedoel vir die hart.  Hierdie kosbare, lewende Woord van God moet ingang vind in ons harte en wil daar sy werk doen sodat dit dan 'n kragtige woord in ons mond kan word.  Daarom skryf die apostel Petrus in 1 Petrus 2 dat die wat vars bekeer is soos pasgebore babatjies moet verlang na die onvervalste melk van die Woord.  

Slegs die Woord van God kan ons laat groei in die kennis van Christus.  Slegs die Woord van God kan ons getroue dissipels van Jesus maak.  Voorts sê Paulus in Kolossense 3 vers 16 dat die Woord van Christus ryklik in ons harte moet woon en verder dat ons mekaar moet leer, onderrig en vreugdevol bemoedig uit die oorvloed van daardie Woord in ons harte. 

Is dit dalk nie vir ons 'n realiteit nie?  Dan moet ons bid en die Vader vra om dit vir ons 'n realiteit te maak, want dit is Sy geopenbaarde wil!  

Monday 7 March 2022

DIE KONINKRYK IS NIE 'N VOETNOTA BY ONS LEWENS NIE

 "Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel..." Mattheüs 6:33-34   

'n Groot probleem wat ons almal het, is dat ons so gefikseer is op en selfs gefassineerd is met ons eie lewens en lewensomstandighede. Ons bid en beplan rondom ons eie klein wêreldjie in plaas daarvan om wakker te word t.o.v. die werklikheid van die kosmiese koninkryk waarin ons, ons bevind in Christus.  

"Bedink die dinge daarbo [kosmiese koninkryk], nie wat op die aarde is [eie klein wêreldjie] nie." Kolossense 3:2 

Die kosmiese koninkryk het 2000 jaar gelede ingebreek in Christus! Daarom moet ons dink, bid en beplan in terme van ons rol in die koninkryk en nie in die eerste plek ons eie lewens of lewensomstandighede op aarde nie. Dit is juis ín ons lewensomstandighede waar Christus homself deur ons wil openbaar.  

Prakties beteken dit dat ons weer en weer, dag vir dag vir onsself sal moet sê "dink koninkryk", soos wat ons gedagtes afgetrek word na die tydelike, eksistensiële werklikhede en ons daarop begin fokus as iets losstaande van die hemelse werklikhede in Christus.  

Dit klink miskien radikaal, maar volgens die Nuwe Testament is daar geen ander manier vir 'n dissipel van Jesus om te lewe nie. Die koninkryk is nie 'n voetnota by ons lewens nie.  

Thursday 27 January 2022

DIE KONINKRYK VAN GOD IN DIE 27 BOEKE VAN DIE NUWE TESTAMENT

 "En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom." Mattheüs 24:14

In Mattheüs sien ons die outoriteit van die Koning, in Markus Sy diensbaarheid, in Lukas Sy volmaakte mensheid en in Johannes Sy verborge lewe in die "boesem van die Vader" wat manifesteer in 'n onoorwinlike heerskappy van Goddelike liefde op aarde.  In Handelinge sien ons al vier kenmerke van die Koning se lewe sigbaar in Sy dissipels en in heerskappy ten spyte van opposisie. 

Romeine openbaar dat die geregtigheid wat God behaag net in die Koning te vinde is. 1 Korinthiërs wys vir ons dat Sy lewe in ons alle probleme in gemeentes kan oorkom. In 2 Korinthiërs is bedienaars van die evangelie, ten spyte van baie lyding, gewaarborg dat die koninkryk van God uiteindelik sal triomfeer oor alle teenstand.  In Galasiërs heers die geregtigheid van die koninkryk oor wettisisme en in Efesiërs word ons herinner dat ons as liggaam van Christus die volheid is van die Koning wat "alles in almal vervul".  In Filippense is ons blydskap oor die lewe van die Koning in ons die sleutel tot 'n diensbare en oorwinnende wandel tot op die einde van ons lewenspad.  In Kolossense heers die pre-eminensie van die Koning oor sinkretisme, asketisme en mistisisme en word ons opgeroep om met hart en siel en wese te fokus op ons heerskappy saam met Hom in die hemele (3:1-3) sodat ons op aarde 'n heilige lewe kan lei.

In 1 en 2 Thessalonicense is ons visie op die terugkeer van die Koning in volle heerlikheid die sleutel tot 'n oorwinnende koninkrykslewe in die hede.  In 1 en 2 Timotheüs en Titus sien ons dat die liefdesheerskappy van die Koning in 'n "rein hart, 'n goeie gewete en ongeveinsde geloof" (1 Tim. 1:5) altyd sal lei tot 'n ordelike, geseënde en vrugbare bediening en gemeentelewe.  In Filémon sien ons dat barmhartigheid, genade en vergifnis in Christus die basis is van gesonde verhoudings in die koninkryk en dat dit ongekende heerlikheid en blydskap kan bring te spyte van groot foute en sondes.

Hebreërs openbaar weereens die pre-eminensie van die Koning en Sy Nuwe Verbond en roep ons op om nuut te dink oor alles in die lig van die finale woord van God in die Seun (1:1-2).  Jakobus daag ons uit om 'n egte geloof te hê en nie toe te laat dat enige area van ons lewens onaangeraak bly deur die heerskappy van die Koning nie.  1 Petrus leer ons dat die koninkrykslewe in die hier-en-nou baie vervolging en lyding insluit, maar dat ons bemoedig moet word deur die feit dat ons Koning se oorwinning in Sý nederige lewe op aarde oor die opposisie van godsdiens en bose mense ook ons oorwinning kan wees in die hede. 

2 Petrus en die boek Judas leer ons dat baie valse leraars en leringe die Koning en sy koninkryk aanvat, maar dat ons oor dit alles kan heers as ons sterk staan in die suiwer boodskap van die evangelie van die koninkryk.  Die drie briewe van Johannes wys ons dat die lewe, lig en liefde van die Koning in ons onderskei moet word van alle alternatiewe filosofieë en leringe wat kwansuis dieselfde kwaliteite produseer.  En laastens sien ons in die boek Openbaring dat die Lam op die Troon ten spyte van geweldige teenstand van vyande van die kruis steeds heers in die hier-en-nou van ons lewens en dat al Sy vyande goed moet besef dat Hy reg staan om alle rebellie teen Sy heerskappy te verpletter onder Sy voete.

"Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?" Psalms 2:1   

"Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg." Psalms 2:5-6

"Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!" Psalms 2:10-12

Thursday 20 January 2022

DIE EVANGELIE IS NIE MORELE HERVORMING NIE!

 Die evangelie is nie morele hervorming nie. Dit is die koninkryksboodskap wat alleen in staat is om 'n selfsugtige hart te oorwin en te verander. In hierdie radikale koninkryk waar die Koning van die konings heers, is daar geen plek vir ons eie idees of vindingrykheid nie.  

Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat ons op die skerp kant van die evangelie sal bly. Die alternatief is altyd dat ons terugval in morele hervorming. Morele hervorming vir 'n Christen is "om 'n goeie lewe vir Jesus te probeer lei".  In die lig van die evangelieboodskap is daar niks meer pateties as dit nie.

Die aardskuddende openbaring van die evangelie van die koninkryk m.b.t. ons eksistensiële werklikheid is dat ons onsself in 'n wêreld bevind waar niks is soos dit op die oog af blyk te wees nie. Dit is 'n wêreld van illusies. Sielkundig word ons voortdurend in hierdie maalstroom van goed en kwaad ingetrek en word ons verlei om 'n immer-ontwykende "volkomenheid" te bereik deur morele hervorming. Dit is die groot versoeking wat in die tuin van Eden begin het.

Die boom van die lewe is radikaal anders. Dit is 'n uitnodiging om te leef volgens die standaarde en krag van 'n ander lewe, die lewe van God self in die Seun (Gal. 2:20). Hierdie lewe is teen die hoogste prys denkbaar vir ons beskikbaar gestel en daarom moet die radikale aard daarvan ten alle koste erken en toegeëien word. Om dit met morele hervorming te verwar is die grootste belediging moontlik en die gevaarlikste koers wat 'n mens kan inslaan.

Op die morele hervormingsbaan bly ons in beheer en besluit ons hoe ons sal leef en wat die beperkings en grense van ons toewyding is. Op die smal pad van die koninkryk is God in beheer en Hy lei ons verowerde harte waar Hý ookal wil. Daar is geen ander manier om die radikale dissipelskapterme wat deur Jesus in die evangelies neergelê word, te verstaan ​​en te interpreteer nie.  Dit is terme van dood-en-opstanding, nie 'n verheerlikte morele reformasie program nie!

"En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom." Mattheüs 24:14

Tuesday 18 January 2022

'N LIEFDE SO TOTAAL ANDERS AS DIE VAN DIE WÊRELD EN VAN GODSDIENS

"...Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!"  Lukas 22:42

Wat Bybelse liefde so kragtig maak, is dat dit die wil van die mens oorwin het.  Dit is juis die probleem met die wêreld se idee van liefde. Dit laat jou wil ongedeerd.

Enige idee van liefde wat jou wil onaangeraak laat, sodat jy dit kan aanhou gebruik vir die afgodery van jou hart, is nie die liefde waarvan die Bybel praat nie!

Die openbaring van die kruis is bedoel om nie net ons denke en ons emosies te raak nie, maar ten diepste ons wil.  Dit elimineer as't ware die vesting van ons wil en maak ons sodoende gewillig om God se wil met blydskap ons eie te maak. 

Dit is dan ook die fatale swakheid van wettisisme.  Wettisisme probeer die wil bekamp en reglementeer met reëls en regulasies.  Maar genade is anders.  Genade oorwin die wil!

Die hele Nuwe Testament wys vir ons in soveel verskillende gevalle en op soveel verskillende maniere hoe die openbaring van die kruis 'n onoorwinbare liefde in mense laat opstaan wat geheel en al anders is as die wêreld se idee van liefde.  'n Liefde wat opereer vanuit die wil van God, waar die stryd tussen my wil en Syne gewonne is.  Hy het my oorwin! Wat 'n salige toestand.

"Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." Romeine 5:8

"Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God." Handelinge 20:24

Hierdie Bybelse onderskeid tussen die liefde van die wêreld en van godsdiens en die liefde wat die openbaring van genade in ons laat opstaan is dringend belangrik vir die effektiewe verspreiding van die evangelie in ons tyd.

As mense in die wêreld (en in die kerk!) nie verstaan wat Bybelse liefde so anders maak nie, sal hulle aanhou om hulle idees van liefde in een smeltpot te gooi saam met die evangelie en dit sodoende te beroof van sy essensiële krag.

Wat die evangelie so anders maak, is juis dat dit die enigste boodskap op aarde is wat die wil van die mens kan oorwin.  Dit is hoekom Alexander Maclaren gesê het:

“Love is the only fire that is hot enough to melt the iron obstinacy of a creature's will”