Annekie Barnard vra:
“Albert, as ek die Woord reg verstaan kom Jesus sy kinders
haal voor die verdrukking.Mense of ek het die kat aan die stert beet wat se ons
is in begin van die 7jr verdrukking. Kan jy dalk daarop vir my antw. Baie
dankie. Blessings.”
Hello Annekie, iemand het eendag gesê: "die vraag is
nie net wanneer Jesus terugkom nie, maar wanneer wil jy HÊ Hy moet
terugkom." Ek dink daardie persoon maak 'n belangrike punt. Die heel
belangrikste, myns insiens, rondom eskatologie is dat ons in ons harte 'n
verwagting moet hê en 'n verlange dat Jesus moet terugkom, terwyl ons
terselfdertyd ons alles moet gee vir die redding van verlore mense. Ons moet
ook natuurlik volgens die Nuwe Testament áltyd reg wees beide om verdrukking te
ondergaan of om te sterf, want ons weet nie of vandag of môre dalk ons laaste
dag is nie.
Daar is pre-tribbers (pre-tribulationists), mid-tribbers,
post-tribbers, en dan ook pre-Millennialiste, a-Millennialiste, post-Millennialiste,
ook "full rapture", "partial rapture" en “no-rapture"
aanhangers. In elkeen van hierdie kategorieë verskil mense dan gewoonlik ook nog
oor die fynere detail van hoe die gebeure van die eindtyd gaan realiseer. So kan ‘n mens dalk dink “aah, hierdie
gelowige praat my taal”, totdat jy bietjie dieper begin delf. Dan kom jy dalk agter hierdie mede
pre-tribber glo nie heeltemal soos jy nie.
Jou vraag verg dus 'n baie lang antwoord en dalk is jy aan die einde van
die antwoord meer verward as voorheen. Of anders weet jy dalk nie meer wát jy
glo as jy al die moontlikhede sien nie. :-) Dalk hét jy al wyd gelees oor die
onderwerp. Soms weer is mense so
dogmaties oor wat hulle glo dat hulle glad nie belangstel in wat ander
gelowiges glo oor die onderwerp nie. Ek
weet nie presies waar jy staan nie.
Die Bybel gee vir ons baie detail oor die eindtye, maar nie
altyd presiese dogmatiese antwoorde nie. Ek sou dus versigtig wees vir presiese
skemas van die eindtye. 'n Beter benadering vir my is om elke gedeelte in die
Skrif wat handel oor die onderwerp op eie meriete toe te laat om met jou te
praat. As daar 'n waarskuwing is neem dit ter harte. Neem die opdragte ernstig
op en vra die Here om jou te wys hoe jy dit in jou eie lewe moet gehoorsaam. Mediteer
oor die beloftes wat gegee word, en maak dit jou eie. Die meeste gelowiges vandag het nie hulle
siening van die eindtye direk in die Bybel gekry nie (al kan hulle waarskynlik
verwysings gee na 'n klompie tekste), maar liewer van predikers, leraars, hulle
denominasie of boeke wat hulle gelees het wat 'n spesifieke skema van
eskatologie probeer verdedig. As daar
mettertyd ‘n basiese oortuiging vorm by ‘n mens oor die moontlike verloop van
die eindtye dink ek dit is belangrik dat jy in nederigheid die deur oop los vir
die Heilige Gees om jou verdere lig te gee oor die saak en ook om nie te
dogmaties te wees teenoor ander dissipels van Jesus nie. Ons gemeenskap met mekaar is gebaseer op ons
eenheid met Christus en ons oortuiging dat Hy wel liggaamlik gaan terugkom na
hierdie aarde en ons gereed moet wees daarvoor, nie op ons spesifieke siening
van die detail rondom tye en historiese gebeure nie.
Bo alles, maak seker dat jy leef in 'n "eerste
liefde" verhouding met Jesus Christus sodat hy met jou eie hart uit die
Skrif kan praat oor Sy wederkoms en hoe jy daarvoor voorbereid moet wees. Dít
is, myns insiens, veel belangriker as om al die argumente reg te hê om 'n skema
te verdedig, terwyl 'n mens se hart dalk nie werklik voorbereid is vir die
wederkoms van Jesus nie. Openbaring hoofstukke 1 tot 3 is 'n wonderlike
gedeelte vir gemeentes en individuele gelowiges om te bestudeer met die oog op
hartstoetsing in die lig van Christus se heerlikheid vandag en vir die toekoms.
Laastens wil ek graag net 'n gedeelte aanhaal wat 'n oorkoepelende waarheid
rondom die implikasies van die Vleeswording van Jesus uitlig. Ongeag wat ‘n mens se siening is van die
eindtye, gee hierdie tekste bemoediging en ‘n vaste versekering dat Jesus op
die Troon is en daar sal bly.
“Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal
heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader,
Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed
bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié
koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir
altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.” Jes.
9:5-6 (NAV)
Of the increase of his government and of peace there will be
no end…now and forevermore.” Isa. 9:7a (ESV)
N.S. Ek probeer nie met hierdie plasing die idee skep dat
dissipels van Jesus nie in liefde en nederigheid kan praat oor die detail van
die eindtye vanuit spesifieke gedeeltes in die Skrif nie. Ek poog eerder om die fokus te plaas op die
kondisie van ons hárte m.b.t. die onderwerp.