“…het
‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis,
lasteringe, bose agterdog.” 1 Tim. 6:4
Bose
agterdog is die tweelingboetie van bose suspisie en die nefie van afguns (jaloesie). Dit maak deel uit van ‘n bose kringloop in ons
denkwêreld, wat geaktiveer word deur te dink oor ons lewe saam met ander mense buite-om
die heerlikheid van die evangelie. Dit
is soos ‘n virus wat versprei en jou denke later tot so ‘n mate oorheers dat die
hele atmosfeer van jou innerlike agterdog en suspisie word. Hierdie atmosfeer dra jy in hou huis in en
dit versuur al jou verhoudinge. So
oordeel jy van die môre tot die aand ander mense se motiewe asof jy God is wat presies
kan sien en instinktief weet waarom mense dinge sê en doen. Mettertyd word jy ‘n baie moeilike mens om
mee saam te leef, want ander weet nooit waarvan hulle volgende beskuldig gaan word
nie. Die grappie word vertel van die man
wat by ‘n rugbywedstryd baie suspisieus was toe die manne sak in die skrum,
want hy het vermoed hulle soek net ‘n verskoning om oor hom te skinder. Ons kan lekker lag daaroor, maar die
kringloop van afguns, agterdog en suspisie is ‘n wesenlike gevaar as ‘n mens
nie jou hart bewaar nie. Dit is tipies
van wêreldse verhoudinge, maar kan ook maklik deel word van ‘n ware dissipel se
lewe as hy of sy nie waaksaam is nie.
Paulus skryf in Titus 3 vers 3 dat ons vroeër (voor ons wedergeboorte)
ons lewe deurgebring het in “kwaadwilligheid en jaloesie; ons was haatlik en
het mekaar gehaat.” Maar nou in Christus
moet, en kán, ons “vriendelik en geduldig” wees en “mekaar in liefde verdra”
(Efes. 4:2). In Christus kan ons maar,
sonder om naïef te wees, die beste glo van mekaar, bid vir mekaar en as daar dan
werklik kwaadwilligheid is dit in liefde uitsorteer met rein harte wat altyd
begeer om welwillend te wees en in die ander persoon se beste belang op te tree.
No comments:
Post a Comment