Wanneer ons 'n baba sien met 'n doek aan en 'n bababottel in die mond
is dit vir ons 'n mooi gesig, maar wat sou jy sê as jy 'n twintigjarige met 'n
doek en bottel sien? Wat van honderde
sulke "baba's" bymekaar? Die Nuwe Testament maak dit baie duidelik
dat God 'n diepe begeerte het dat ál Sy kinders tot volwassenheid moet kom. 'Totdat ons almal kom tot…’n volwasse man"
(Efes. 4:13).
Ongelukkig is ons gemeentekultuur dikwels vandag as't ware
gepreprogrammeer om mense geestelik in die babastadium te hou. Wanneer ‘n kultuur slegs op getalle gefokus is, gebeur dit maklik dat daar net meer
en meer "baba's" in 'n gebou bymekaar gehou word en dat hulle
afhanklik bly van die leierskap. Mens
moet iets doen met die woelige baba's en daarom bestaan die gevaar om te verval
in programme, eerder as dissipelskap. Soms
lyk so ‘n klomp babatjies bymekaar baie suksesvol, maar ons is geroep om ‘n groeiende
“liggaam”, ‘n lewende tempel van God en ‘n weermag te wees – nie ‘n dagsorg
nie.
Die doel van die evangelie
en gemeentelewe volgens die Nuwe Testament is om ons by geestelike
volwassenheid te bring sodat ons fokus weg kan skuif van onsself en ons
dissipels kan maak "van al die nasies" (Matt. 28:19) en hulle weer by
volwassenheid kan bring. As ons in
dieselfde afhanklike verhouding bly staan met voorgangers en leraars vir
dekades aaneen is daar groot fout! Daar moet 'n plek kom waar ons as volwasse
gelowiges gemeenskap kan hê, gefokus op Christus en met dieselfde doel voor oë.
Ons rolle en verantwoordelikhede sal altyd verskil, maar ons verwantskap moet
beweeg na volwassenheid. Die alternatief is verhoudinge wat stagneer in 'n
statiese en dooie struktuur. Iets wat
beweeg, maar wat nie lewe het nie noem ons 'n masjien. God soek 'n lewende organisme wat groei, nie
'n masjien nie.
No comments:
Post a Comment