Thursday, 19 March 2015

“WEES NET POSITIEF!?”

Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid.” 2 Kor. 3:9  (NAV)

Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” 2 Kor. 4:7

Daar is baie verwarring by dissipels van Jesus vandag, want hulle hoor aan die een kant ‘n boodskap van heerlikheid en oorwinning wat so positief klink en aan die ander kant ‘n boodskap van gebrokenheid wat op die oog af so negatief klink en ‘n nasmaak van mislukking los as jy dit verkeerd interpreteer.  Hoe moet ons hierdie dinge verstaan?  Ons het die heerlikheid van Christus binne-in ‘n liggaam van swakheid (ook genoem “die liggaam van die sonde” en “liggaam van hierdie dood” – Rom.  6:6 en 7:24); dus heerlikheid binne-in en te midde van gebrokenheid.  Dit is juis hoe God gekies het dat die heerlikheid van Sy genade in Christus soveel te meer moet skyn!  Dit is die heel beste vertoonvenster van die Vader se barmhartigheid en genade!  “Wees net positief” is níe die boodskap van die Nuwe Testament nie.  Die boodskap is dat ek nie moet veg teen gebrokenheid nie, maar dat ek dit juis moet omhels met die vaste vertroue dat Christus in en deur my openbaar gaan word én met die wete dat daar “nuwe hemele en ‘n nuwe aarde” kom “waarin geregtigheid woon” (2 Pet. 3:13).  Daar is niks meer “positief” as Bybelse geloof en hoop nie.  “Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Kor. 12:10b).  God se weg tot oorwinning is radikaal anders as die wêreld s’n!

Wat Beteken dit Prakties vir my?


 ‘n Boodskap van positiwiteit en oorwinning sonder gebrokenheid is ‘n gevaarlike en misleidende boodskap wat ons baie subtiel opgeblase maak, selfs al lyk en klink dit so wonderlik en oorwinnend.  Gaan lees 1 Kor. 1:18-31 en 2 Kor. 12:1-10 biddend om God se weg tot oorwinning eens en vir altyd te vestig in jou hart en denke.  Dit sal jou ook weerbaar maak teen die honderde misleidende boodskappe van “positiwiteit” (sonder gebrokenheid) wat ons weekliks mee gebombardeer word in die Christendom. 

1 comment: