Wednesday 31 December 2014

EEN DING BLY KONSTANT

Tot 'n sekere mate sal ons altyd vanuit die natuurlike perspektief in hierdie tydelike bestel net die helfte van die prentjie van ons lewens sien. Dit is hoekom dit soms so moeilik is om sin te maak van oënskynlik sinnelose dinge wat met ons gebeur.  Vanuit die geestelike, die geloofsperspektief, is daar egter een oorweldigende faktor wat die hele prentjie radikaal verander: God het sy Seun vir ons gegee! Daarom mag jy wéét dat God jou liefhet, ongeag gevoelens of onverklaarbare gebeurtenisse.  Een ding bly konstant en sal in 2015, net soos al die ander jare, rotsvas bly staan; dat 'geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie' (Rom. 8:38-39). 

Saturday 27 December 2014

CHRISTUS, WAT ONS LEWE IS

"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word..." Kol. 3:4


Christus is nie soos 'n wonderlike bestanddeel in 'n bredie wat jy by al die ander bestanddele kan voeg om dit nog lekkerder te maak nie. Hy is ook nie enigsins beïndruk daarmee dat ons op 'spesiale dae' in die jaar of een dag 'n week baie godsdienstig raak en dan vir 'n rukkie aan Hom dink nie. Hy is eerder soos die suurstof in ons atmosfeer wat oomblik-vir-oomblik vir ons lewe gee en waarsonder ons nie kán leef nie. Christus ís ons lewe, Hy is nie 'n deel van ons lewe of selfs net die beste deel nie. "Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape" en "in Hom hou alle dinge stand" (Kol. 1:16-17).

Thursday 18 December 2014

DIE GROOT OORLOOP

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe." Joh. 5:24


Jesus beklemtoon die gewigtigheid en finaliteit van hierdie verstommende stelling deur dit in te lui met die woorde 'voorwaar, voorwaar'.  Daar is 'n menslik-onoorbrugbare kloof tussen twee groepe in hierdie wêreld. Aan die een kant is die verhoor-afwagtendes wat gedurig leef met 'n swaard oor hulle koppe.  Vir hulle is daar aan die einde van die reis net 'n doodloopstraat wat Jesus 'die oordeel' noem.  Aan die ander kant is diegene wat die knie gebuig het voor Jesus met openlike erkenning dat dit inderdaad die Vader was wat Hom na hierdie aarde gestuur het om te 'soek en te red wat verlore was' (Luk. 19:10).  Die Vader het in Jesus vir ons 'n brug gebou tussen 'die oordeel' en 'n onuitspreeklike saligheid.  Almal wat daardie brug vertrou het en gevolglik oorgeloop het na die ander kant kan reeds in hierdie lewe wéét dat daar nie meer 'n oordeel wag aan die einde van die aardse reis nie, maar 'n Vader met ope arms.  Wat 'n vrede!  Wat 'n vreugde!

Thursday 11 December 2014

SALIGE AFHANKLIKHEID

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Matt. 5:3 (OAV)

 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Matt. 5:3 (NAV)


Jesus skroom nie vir ‘n oomblik om die kernprobleem van die gevalle mensdom direk aan te spreek nie.  Sy woorde is soos ‘n pyl wat reguit en sekuur na die teiken beweeg en dan diep penetreer.  Hy wil dit uit die staanspoor baie duidelik maak dat die gesindheid van ons harte radikaal moet skuif van ‘n sondige ónafhanklikheid na ‘n kinderlike áfhanklikheid wat in alles en in elke situasie instinktief na die Vader gaan om Sy wysheid en krag te verkry.  Later in Sy bediening (Joh. 13-17) maak Jesus dit duidelik dat hierdie afhanklike lewe slegs geleef kan word in ‘n wesenlike eenheid met Hom deur die krag van die Gees.  Sonder Hom kan ons nie ‘n enkele tree in die regte rigting gee nie (Joh. 15:5)!  Hy gee ook nie net hulp en krag nie, Hy ís die krag, lewe en wysheid binne-in ons (1 Kor. 1:30).  

Wednesday 10 December 2014

BLIND VIR ONS EIE BLINDEKOLLE


"Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig." Ps. 36:10

"In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense." Joh. 1:4

"En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê." Joh. 8:12


Ons is almal met dubbele blindheid gebore. Nie net het ons blindekolle wat hardnekkig saam met ons loop op die lewenspad nie, maar ons is ook sonder uitsondering blind vir ons eie blindekolle. Ja sekerlik kan ons in oomblikke van ongewone eerlikheid en deursigtigheid met 'n kwalik verskanste self-bewustheid 'n mate van erkenning gee aan die areas van ons karakter wat so onverklaarbaar ons 'perfekte self-oordeel' onstnap het. Maar wanneer die lig van Christus deur die krag van die Gees 'n slag ons binnewêreld ordentlik verlig, moet ons erken dat ons eintlik maar amper totaal blind is vir ons eie blindekolle. Op die grond en sterkte van die nuwe geboorte in Christus bring ons hemelse Vader stadig maar seker deur die Gees van Christus vir ons 'n ware visie van ons inherente blindheid vir ons eie blindekolle? Hoekom is dit nodig? Kan ons nie maar net leer van ons nuwe identiteit in Christus nie? Nee. Ons Vader is te lief vir ons om ons te laat leef in die waan van self-misleiding wat kleef aan alle vlees op hierdie gevalle planeet. Hy wil ons speen van álle self-vertroue sodat ons in wérklikheid kan leef uit ons nuwe identiteit in Christus, sonder 'n vermenging van die ou en die nuwe. Slegs dan breek die krag van die nuwe skepping volledig deur in die helder lig van God se heerlikheid en kan ons al die kosbare beloftes van God in Sy Seun waarlik in besit neem.  As ons hierdie waarheid glo en onvoorwaardelik omhels, sal dit nie net in ons eie lewe en verhoudings radikale veranderings inlui nie, maar dit sal ook 'n rewolusie in ons gemeentes teweeg bring.

Thursday 4 December 2014

GOSPEL PLUS LAW EQUALS LAW!

When we add law works, law programs, and law initiatives to the gospel we do not enhance the gospel, we destroy it.  The end result is not a stronger gospel, but no gospel at all.  Jesus plus law makes of the gospel just another human program, driven by individuals and glorifying man’s efforts to build man’s empires. The gospel is more than sufficient in and of itself to not only justify us, but also to sanctify and glorify us.  The gospel is the sole motivation needed to create strong and healthy disciples and churches.   We do not need more incentives and brilliant strategies engineered by human ingenuity.  We need a more resplendent view of who Jesus is and what we have already received in Him.

Monday 1 December 2014

JY IS NIE MEER WAT JY WAS NIE

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig." Efes. 5:8


Voor die dag wat ons reageer het op die heerlike evangelie van Jesus Christus was ons 'sonder hoop en sonder God in die wêreld' (Efes. 2:12). Ons was 'dood deur die misdade en die sondes' (Efes. 2:1). Ons het gewandel 'in die begeerlikhede van ons vlees', het 'die wil van die vlees en van die sinne gedoen' en 'ons was van nature kinders van die toorn' (Efes. 2:3).  Ons was 'onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.' (Titus 3:3). Maar ons is nie meer wat ons was nie! Ons is nou 'lig in die Here' en die appél op ons lewens is om te wandel ooreenkomstig die nuwe lewe wat in ons is. Vroeër kon ons lewe as geheel beskryf word as 'duisternis', maar nou as 'lig', en dit alles as gevolg van ons eenheid met Christus.  As jou wandel nog tekens toon van die duisternis van jou vorige lewe, begin dit aan te spreek vanuit die lig van jou núwe lewe in Christus.

Wednesday 26 November 2014

DIE VADER SE PLAN WERK DEUR GELOOF

“Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.” Joh. 16:7


Terwyl Jesus op aarde was, moes mense fisies by Hom wees om Sy heerlikheid te sien.  Die skares kon net van ‘n afstand Sy werke, woorde en teenwoordigheid in hulle midde aanskou en waardeer.  Al het Hy tog ook baie mense aangeraak, genees en verlos in die tyd van Sy bediening op aarde was Hy beperk tot een liggaam.  Vandag leef ons egter in die era van die Gees (2 Kor. 3:8) en kan elkeen wat wil onmiddellike toegang kry tot die heerlikheid van Jesus.  Elke dissipel van Jesus het die Gees van Christus in hulle en daarom is daar geen afstand of verwydering tussen ons en Jesus nie.  Dit is egter ‘n waarheid waarvan ons net in geloof voordeel kan trek.  Die Gees is uitgestort, die afstand is oorbrug, die Seun is teenwoordig, die lewe is nou in jou!  Dit is net met die geloofsoog wat die werklikheid daarvan vir jou tasbaar word.  Terwyl jy nog steun op jou eie menslike pogings om jou verhouding met God te verbeter, staan jy in die pad van die openbaring van Christus in jou.  Terwyl jy nog vertroue het in jou eie wilskrag (gewilligheid is iets anders) om lojaliteit aan Jesus te verseker, misken jy die krag van jou eenheid met Christus in die era van die Gees.  Die Vader se plan werk net deur geloof. 

Monday 24 November 2014

SY GEES ROEP 'ABBA VADER' IN JOU!

"En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!" Gal. 4:6

Al die kinders van Adam dwaal Vaderloos rond op 'n gevalle planeet.  Die woorde van God aan Adam eggo deur die eeue 'die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe' (Gen. 2:17).  Om sonder verhouding met die Vader te leef is om verlore en sonder enige hoop te wees.  Dit is om geestelik dood te wees.  Die dag wat jy egter uit jou diepe verlorenheid en Godsverwydering die naam van Jesus aanroep, word jy oombliklik in Hom geplaas en Hy in jou en ontvang jy die ewige Seun se tydlose verhouding met die Vader as jou grootste geskenk.  Hierdie Seun was altyd by die Vader en Hy leef in Sy boesem (Joh. 1:18).  Hierdie Seun leef in onbeperkte intimiteit met die ewige Vader. Hierdie Seun se Gees is met die wedergeboorte in jou hart uitgestuur en Hy roep binne-in jou 'Abba, Vader!'.  Jy is nie meer Vaderloos nie.  Jy hoef nie te leef soos 'n geestelike weeskind nie.

Moenie as dissipel van Jesus probeer om jou eie verhouding met die Vader na te jaag onafhanklik van die Seun nie.  Dit is futiel!  Jou verhouding met die Vader is in en deur die ewige Seun.  Glo dit en verbly jou daarin!  Kyk weg van jouself na Jesus en jy sal die 'Abba Vader' in jou binneste begin hoor.  Eers saggies en vaag, maar dan al hoe duideliker, totdat dit die refrein van jou hele lewe word.

Wednesday 19 November 2014

AS JY DINK JY WEET, WEET JY NIKS

“As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie.” 1 Kor. 8:2


Hierdie vers sny diep en konfronteer ons met ons inherente begeerte om altyd op hoogte te wees en tog net nooit in ‘n posisie waar ons moet erken ons het nie kennis, of voldoende kennis, oor iets nie.  W.E. Vine parafraseer die teks as volg: “If a man imagines he has fully acquired knowledge, he has not even begun to know how it ought to be gained.”  In hierdie sin kan die gevaarlikste kennis, vreemd genoeg, Bybelkennis wees.  Dit is hoekom Paulus in die vorige vers sê ‘die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.’  Die skrifgeleerdes en Fariseërs het tonne kennis van die Bybel gehad, maar met al hulle kennis het hulle nie raakgesien dat Jesus hulle Messias was nie.  Hoekom nie?  Want God het die ware geestelike kennis en insig oor Sy Seun vir hulle verberg.  Is hierdie waarheid dan van toepassing op mense wat reeds wedergebore is?  Sekerlik!  Die Nuwe Testament is propvol waarskuwings oor die gevare van ‘n kopkennis wat nie deur die Heilige Gees geopenbaar is nie.  Ons teks in 1 Korinthiërs 8 is ‘n goeie voorbeeld.  Pasop vir die afdraaipaadjies van die verstand as hy onafhanklik van die Gees begin funksioneer.  Die Here wil ons vir seker baie dinge leer, maar dit is maklik om ‘n Slimjan te raak met ‘n kop soos ‘n waatlemoen en ‘n hart soos ‘n grondboontjie.  Ons kennis moet ons dieper neem in verhouding met God en laat groei in liefde vir mekaar.  Die beste moontlike kennis is om te weet dat jy niks weet, in terme van die Bybel se definisie van ‘weet’, solank as wat jy dink jy kan alles met jou kop uitredeneer nie.  Dan alleen is jou voete stewig op die pad na die ware kennis van God soos geopenbaar deur die Heilige Gees.  Op hierdie pad is daar baie openbaringe en ‘n vaste sekerheid wat net kom deur die insig wat God gee aan ‘n nederige en leerbare hart.

Monday 17 November 2014

DIE 'KERKMASJIEN'

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” Openb. 3:1 (OAV)

“…Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” Openb. 3:1 (NAV)


Hy soek sy petrol, sy olie, en sy dienste.  Hoe groter hy word, hoe meer tyd neem hy in beslag.  Hy het nie lewe nie en gee nie lewe nie, maar hy belowe so baie.  Hy is gemaak om in gery te word, maar voor jy jou kom kry is hy in beheer en doen hý die rywerk.  Sy slagoffers tel in die duisende.  Sy wiele het al baie dissipels van Jesus raakgetrap.  Pasop vir die 'kerkmasjien'!  Die gemeente van Jesus is ‘n organisme wat gebruik maak van organisasie.  Wanneer die organisasie mense begin misbruik om homself te bevoordeel en laat groei, het dit ‘n gruwel en ‘n onding geword.

Wednesday 12 November 2014

FONTEINE WAT NIE BEVREDIG NIE

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalm 16:11


Dawid het ontdek dat niks op hierdie aarde 'n mens finaal kan versadig nie.  Geen aardse water kan die dieper dors les nie.  Dit is net die water wat Jesus gee wat die dors van die menslike hart totaal kan bevredig (Joh. 4:13-14). Dit is net voor die aangesig van God wat 'n mens se hart werklik kan stilraak en begin rus in volkome tevredenheid en onbeperkte vreugde.  Hoe tragies dat mensekinders by soveel verskillende fonteine drink om finale bevrediging te vind terwyl dit net by God te vinde is.  Hy nooi alle mense uit om verniet te kom drink van die fonteine van heil in Christus.  "En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Openb. 22:17).

Monday 10 November 2014

OORWINNING SLEGS OP DIE WEG VAN DIE LIEFDE

"Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie." 1 Joh. 5:3 (OAV)

"Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie." 1 Joh. 5:3 (NAV)


Ons voel soms oorweldig deur die gevallenheid bo ons, rondom ons, en selfs in ons en boonop die ewige gesukkel om dinge en verhoudings te laat werk in die ou wêreld waar alles so maklik uitmekaar val en ten gronde gaan.  Sulke tye kan die pad van 'n dissipel van Jesus vir ons onmoontlik steil voorkom. Jy het net-net die vorige bult gemaak, dan lê daar nog 'n steiler een voor jou.  Om dan te lees dat God se gebooie 'nie swaar is nie' laat 'n mens se mond oophang en jy wonder heimlik of Johannes op dieselfde planeet as ons geleef het. Let wel, hy sê nie 'die lewe is maklik, want God sorteer alles sommerso in 'n japtrap vir ons uit' nie.  Dit sou op sigself verstommend wees.  Hy sê in teendeel elders jy gaan baie téénkanting kry in die wêreld én dan moet jy nog te midde van alles gehoorsaam wees aan alles wat God van jou vra. Sjoe!  Hoe dan?  Johannes praat van die oorwinning op die weg van die liefde.  As mens iemand liefhet is dit 'n vreugde om hulle hartsbegeertes te bevredig, selfs al verg dit baie opofferings.  Deur die wedergeboorte het ons die bonatuurlike liefde van God ín ons. Ons neem egter so maklik sypaadjies wat ook belowe om ons by gehoorsaamheid uit te bring, maar Johannes sê in effek daar is net een pad wat werk. Dit is die pad van die bonatuurlike liefde van God ín my wat lei tot die bonatuurlike liefde vír God gedemonstreer deur my gewillige gehoorsaamheid aan die begeertes van Sy Vaderhart.

Wednesday 5 November 2014

NET EEN LEWE

 “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.  Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Kol. 3:2-3

 “As ons dan saam met Christus gesterf het...” Rom. 6:8


Solank as wat ons die dood en opstanding van Jesus net sien as historiese gebeure wat iets vír ons moontlik gemaak het, mis ons steeds die groter krag van die evangelie.  Dit is inderdaad ‘n wonderlike dag wanneer ek kan bely Jesus het vír my gesterf en opgestaan.  Die dag wat ek egter sien ek het sáám met Hom gesterf en opgestaan is die dag wat ek besef ek het net een lewe voor God.  Dit verander álles!  Ek is in Christus ‘n nuwe mens wat nog leef in ‘n sterflike liggaam op ‘n gevalle planeet waar daar steeds bose magte en kragte opereer.  Ek is nie ‘n vergeefde “ou mens” wat besig is om ‘n “nuwe mens” te word nie.  Ek is nie een dag ‘n “ou mens” en die volgende dag ‘n “nuwe mens” nie.  Selfs al tree ek soms nog so op!  As dit waar is (en dit is) plaas dit my onder verpligting om anders te begin dink.  Ek moet my “ou mens-nuwe mens” gedagtes eens en vir altyd laat vaar en gló dat my hemelse identiteit nou en vir altyd my onveranderlike “in Christus” werklikheid voor God is, en dan begin lééf daaruit.

Monday 3 November 2014

DIE GROOT TRAGEDIE

"As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is." 2 Kor. 4:3-4 (NAV)


Is die heerlikheid van die evangelie bedoel vir hierdie 'ongelowiges' wat blind is in en deur hulle onkunde?  Ja vir seker!  Anders sou dit nie eers nodig gewees het om hulle te verblind nie, want die evangelie sou t.o.v. hulle eenvoudig irrelevant wees.  Beide godsdienstige ongelowiges (sien 2 Kor. 3) en sekulêre ongelowiges weier om hulle eie 'wysheid' en self-ontwikkelde lewensfilosofie te verloën sodat God die sluier wat oor hulle verstand is, kan lig.  Die Vader het niks anders as heerlikheid in Sy geliefde Seun vir hulle in gedagte nie (1 Tim. 2:3-4), maar hulle verkies die leuen.  Wat 'n enorme tragedie!  Soveel te meer dan die onus op ons om te bid dat mense se oë sal oopgaan om die heerlike afgehandelde werk van Jesus te sien en hulle knie te buig voor Sy heerskappy.  

Wednesday 29 October 2014

DIE MITE VAN SELF-VERBETERING

"Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." Matt. 11:28


Een van die grootste mites wat skuil in die gevalle menslike psige is die idee dat ek myself eers moet verander, om aanvaarbaar vir God te wees, en gevolglik kan ek leef in verhouding met Hom.  Eintlik is dit presies andersom.  As mens mooi dink daaroor besef jy hoe absurd die gedagte is dat ek myself eers moet 'red' en dan sal ek kwansuis waardig wees om die bloed van Jesus vir myself toe te eien.  As ek myself kon verbeter, hoekom het ek nog vir Jesus nodig?  Jy het in elk geval nie die vermoë om jouself te verander nie.  Dit geld beide dissipels van Jesus en die wat nog nie Sy aanbod van lewe aanvaar het nie.  Ons nader God net soos ons is op grond van die bloed van Jesus, maar ons sal vir seker nie blý soos ons is wanneer ons in verhouding met Hom begin leef nie. 

Monday 27 October 2014

ALLEEN DEUR DIE DONKER VALLEI?

"Die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan ’n ander hom nie meng nie." Spreuke 14:10 (OAV)

"Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie." Spreuke 14:10 (NAV)


In tye van erge trauma of smart wanneer ons dieper begrip soek by ander vir die donker vallei waardeur ons beweeg, begin die waarheid van hierdie vers oopgaan en sin maak.  Daar is dieptes in die menslike hart wat geen ander skepsel kan peil nie, en selfs die mees wyse en volwasse mense staan soms verslae voor die gebrokenheid en vreemde weë van hulle eíe hart in tye van oorweldigende en onverklaarbare teëspoed in hierdie lewe.  Dit is net hier waar ons ontdek daar is wél Een wat werklik die diepste smart van die menslike hart ken én kan genees.  1 Konings 8 vers 39 “want U alleen ken die hart van al die mensekinders.“  Dit is nie nodig om alleen deur die 'dal van doodskaduwee' te beweeg nie.  Daar is 'n Herder wat nader aan jou is as enige mens op hierdie aarde en wat jou hart selfs beter ken as wat jyself dit ken.  Gló dit net.  Dit is waar! 

Thursday 23 October 2014

DIE KAR VOOR DIE PERDE 'EVANGELIE'



Ons glo, dáárom het ons lief, daarom is ons ywerig om goed te doen aan ander, daarom bid ons, daarom sing ons, daarom praat ons met mekaar oor Christus en die koninkryk, daarom praat ons met ongelowiges oor die Goeie Nuus van Jesus se vleeswording, kruisiging en opstanding. Dit is geloof wat die 'wandel deur die Gees' moontlik maak en só 'n wandel bring oorwinning, dit ís oorwinning (Gal. 5:16)! Die Bybel sê nie ons moet oorwin en dan kan ons 'deur die Gees wandel' nie, maar juis andersom.  Ons leef soms in 'doen, doen, doen', ómdat ons daardeur die oorwinning van die Gees wil bewerkstellig. Dit is fataal vir jou geestelike lewe.  Pasop vir die kar voor die perde 'evangelie'! Die ware evangelie werk verstommend anders as ons menslike idees. Dit is die evangelie wat die dryfkrag is vir die lading, die lading kan nie die evangelie dra of produseer nie.

Monday 20 October 2014

VAN HEERLIKHEID TOT HEERLIKHEID IN CHRISTUS

"As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word." Kol. 3:1-4


In hierdie kosbare Skrifgedeelte wys Paulus ons op vier dinge wat waar is van elke wedergebore persoon en maak dan 'n appél op ons om op grond daarvan sonder versuim en sonder onderbreking twee dinge te doen. Die vier dinge is die waarheid van jóu stand in Christus, ongeag hoe lank jy al gered is of hoe vêr jy geestelik gevorder het.  Jy ís saam met Christus opgewek, jy hét saam met Hom gesterwe, jou lewe ís saam met Hom verborge in God, en meer nog Christus self ís jou lewe. Dáárom staan jy onder 'n vreugdevolle verpligting om die ervaring van die hemelse werklikhede in Christus te soek met alles wat in jou is en te bedink met die oog op 'n intieme verhouding met God gevul met 'n toenemende hemelse heerlikheid (2 Kor. 3:18). Terselfdertyd moet jy ook bewus bly van die onbeskryflike heerlikheid wat jou deel sal wees wanneer Jesus 'geopenbaar word' (v.4). Toenemende heerlikheid nou en onoortreflike heerlikheid wanneer Jesus verskyn!  Dít is jou erfdeel.  Of jy bewus is daarvan of nie, hierdie vier werklikhede ís voor God die realiteit van jou nuwe identiteit in Christus.  Die vraag is egter of jy dit glo en dáárom die heerlikheid in Christus soek, bedink, en verwag.     

Wednesday 15 October 2014

IEMAND WAT ONREG KAN DRA

"Moenie teen mekaar sug nie, broeders..." Jak. 5:9a (OAV)

"Moenie oor mekaar kla nie, broers..." Jak. 5:9a (NAV)

As gevolg van die sondeval erf ons almal by ons ouers die instink van haastige oordeel. Dit is 'n totaal spontane menslike reaksie op ons omgewing om onsself op te stel as regters en dan alles wat leef en beef onder die loep van ons superieure insig te bring.  Gevolglik is dit so maklik soos asemhaal vir ons om die gewoonte te kweek om bý mekaar te sug en kla óór mekaar.  'Het jy gesien wat hy gedoen het!'  'Het jy gehoor wat sy gesê het!'   Dit is spontaan, natuurlik, en maklik, maar die Woord sê dit is 'vleeslik'.  Jakobus sê ons 'moenie', selfs al voel ons hoe geregverdig in ons oordeel.  Net hier lê die knoop, natuurlik.  Ons oordeel, sug, en kla ómdat ons voel ons is reg en die ander verkeerd.  Maar dissipels moet 'onreg kan dra'.  Waar daar mense is, sal daar onreg wees.  Ons kan of natuurlik reageer en oordeel, kla, en sug, of ons kan ons harte deur die Gees instel om onreg te dra en dan eerder te bid vir ander en hulle gebreke voor die Vader te bring.  Miskien ontdek ons dan sommer in die proses dat ons self nie altyd honderd persent reg optree teenoor ánder nie.

"En ’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra." 2 Tim. 2:24 (OAV)


"'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra." 2 Tim. 2:24 (NAV)

Monday 13 October 2014

NEEM MEKAAR VOLLEDIG EN HARTLIK AAN

"Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God." Rom. 15:7


As ons almal presies dieselfde was en dieselfde smake, voorkeure, afkeure, styl, gawes, en temperament gehad het, sou daar nie eers 'n nodigheid gewees het vir hierdie vers nie. Die waarheid is egter dat ons dikwels uiterlik baie van mekaar verskil, al is ons as dissipels van Jesus innerlik gekonstitueer met die lewe van Christus en daarom wesenlik een.  Daarom is dit nou maar net eenvoudig 'n feit dat daar geen geseënde en vrugbare gemeentelewe kan wees as ons nie leer om mekaar met al ons verskille en skete volledig en hartlik aan te neem net soos Christus in Sy oneindige genade óns aangeneem het en Sy liefde sonder perk op ons uitgestort het nie. Dit beteken geensins dat ons nie op die regte tyd en plek met wysheid relevante kwessies kan aanspreek nie.  Maar leer om aanvaarding van medegelowiges in Christus te kweek in jou hart totdat dit 'n pragtige tuin van genade word wat seën en vrede bring oral waar jy gaan.  Daar is net iets aan ware aanvaarding van mekaar in Chrtistus wat ons harte oopsluit en intieme verhouding moontlik maak soos niks anders dit kan doen nie. 

Tuesday 7 October 2014

VERLOSSING IN PAAIEMENTE?

Ons dink soms oor ons verlossing soos lenings wat ons by ‘n hemelse bank kry. Ons moet net hoop ons vang die bankbestuurder op ‘n goeie dag as daar nou rêrig ‘n krisis is. Dan gebruik ons maar weer die verlossingskrediet (sal later terug betaal) . Die waarheid is egter dat ons IN CHRISTUS alles ontvang het wat ons vir hierdie lewe en die ewigheid nodig sal kry. “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien…” (2 Pet. 1:3). En wat meer is, jy hoef dit nie terug te betaal nie! Jy moet net leef daaruit, uit Hóm in der waarheid. Jesus self is die somtotaal van alles wat die hemel het om te gee en jy is IN HOM en Hy in jou. “In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (Joh. 14:20). Het jy oorwinning nodig? Dit is in Hom. Blydskap? In Hom. Vrede? In Hom. Sagmoedigheid? In Hom. Selfbeheersing? In Hom. Wysheid? In Hom. Die Vader gee nie verlossing in paaiemente nie. Hy het sy Seun gegee en ons het niks meer nodig nie. Ons moet net groei in kennis van Hom en leer om uit verhouding te leef. “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” 2 Pet. 3:18

Thursday 2 October 2014

'N RADIKALE VERANDERING VAN PERSPEKTIEF

"In die begin het God die hemel en die aarde geskape." Gen. 1:1

"Want in Hom [Christus] is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape." Kol. 1:16

"Om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig." Efes. 1:10


Dit is normaal en natuurlik vir ons om na die lewe te kyk vanuit ons eie plekkie op die aarde en binne die ruimte van ons subjektiewe waarnemings en sintuiglike versameling van inligting. Die boodskap van die evangelie maak egter 'n appél op ons om 'n radikale verandering van perspektief te ondergaan.  Die Vader draai as't ware ons oë weg van onsself met die evangelie (soos 'n pa wat met tederheid sy seuntjie se kop in die regte rigting draai) en rig ons visie op Sy Seun wat sentraal staan in die skepping en die nuwe skepping (Kol. 1:15-20).  Ware geloof is nie soseer om Christus deel van mý lewe te maak nie as wat dit is om te sien dat Hý in werklikheid die middelpunt van alles in die geskape heelal is en dan my hoof te buig onder Sy heerskappy en sentraliteit in alles.  Gevolglik is my hele lewe vorentoe as dissipel 'n voortdurende aanpassing van perspektief, om die magte en kragte teë te staan wat heeltyd my eie ek soos die aarde se swaartekrag in die middel van alles wil intrek en dit te vervang met 'n visie van die werklikheid: Jesus op die troon en sentraal in alles! 

DIE WOORD EN DIE HART

Die saad van God se Woord is inderdaad goeie saad en het dieselfde effek op elke hart wat dit met kinderlike geloof ontvang. Daar is niks fout met die saad nie, maar is ons harte sag en ontvanklik? Wat leer die volgende tekste ons oor die regte hartsgesindheid t.o.v. die Woord?

1 Thes. 2:13 “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”

Jesaja 66:2 “Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”


Lukas 8:15 “En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.”

Wednesday 24 September 2014

UIT DIE SKAT VAN DIE HART

"Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn." Matt. 12:35


Met betrekking tot die evangelie is die Bybel duidelik dat álle mense onder die mag van die sonde is (Rom. 3:9-19) en daarom presies dieselfde behoefte het aan redding in Jesus.  Wedergebore mense het 'n nuwe natuur en Christus self leef in hulle.  Maar dit onthef hulle nie van die verantwoordelikheid om wys om te gaan met dit wat in hulle hárte aangaan nie.  Dit wat jy bedink en toelaat om te groei in jou hart word uiteindelik wat Jesus noem 'n 'skat' in jou hart.  Daardie 'skat' bepaal jou gesindhede, jou woorde, en jou dade (Spr. 4:23).  Maak seker dat jy jou gedagtes rig op die waarhede wat betrekking het op jou nuwe lewe in Christus (Kol. 3:1-4), en jy kan verseker wees dat daardie 'goeie skat' binne-in jou veel lieflike vrug sal dra (Gal. 5:22).   

Wednesday 17 September 2014

DIE HEILIGE RUIMTE

"Maar heilig die Here God in julle harte..." 1 Pet. 3:15a

"But have reverence for Christ in your hearts, and honor him as Lord." 1 Pet. 3:15a (GNT)


Daar is 'n heilige ruimte in die wese van elke mens wat deur God self geskep is. Ons is deur God 'kunstig geweef in die moederskoot' (Ps. 139) op so 'n manier dat ons 'n binnewêreld het wat in werklikheid onder ons eie bestuur staan.  In daardie heilige ruimte wat die Bybel 'die hart' noem word al die groot besluite van jou lewe geneem.  God verwag van ons om daardie binnewêreld rein te hou en reg te bestuur onder die invloed van Sy Gees.  Daarom gee Hy ons die opdrag 'Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe' (Spr. 4:23). Pasop wat jy toelaat om in te kom in die heilige ruimte van jou hart!  Jou hele lewe en toekoms hang daarvan af.  Maak seker dat net dit wat 'waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik, en loflik' (Fil. 4:8) is daar 'n tuiste kry.  Onder leiding van die Heilige Gees kán jy jou eie hart bestuur, want Gód sê jy kán.  Lees ook Matt. 12:34-35 en 15:18-20.

Tuesday 16 September 2014

DODELIKE SOSIALE DRUK

"Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.  Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God."  Joh. 12:42-43

Hierdie is van die hartseerste verse in die hele Bybel.  Dit is amper ondenkbaar dat 'n mens jou ewige bestemming kan oorlaat aan die wisselvallige en dikwels skynheilige standaarde van dit wat populêr en aanvaarbaar is in jou gemeenskap.  Hier gaan dit nie net oor die sekulêre wêreld nie, maar veral oor dit wat populêr is in godsdienstige kringe.  Sosiale druk is een van die mees effektiewe wapens wat satan gebruik om mense in sy mag te hou.  Om Jesus te volg beteken dat jy moet sterf vir 'wat sal die mense sê' en doen wat jy in jou hart weet die waarheid is.  "Want elkeen sal sy eie pak dra." Gal. 6:5


Thursday 11 September 2014

WARE OUTORITEIT IN DIE GEMEENTE VAN JESUS CHRISTUS

Die afgewaterde woorde en werke van vormgodsdiens is dikwels totaal gestroop van alle ware outoriteit.  Daarom is dit uiters belangrik vir dissipels van Jesus om die kwessie van outoriteit in gemeentelewe reg te verstaan en onderskei.  Outoriteit in die Nuwe Testament is altyd 'n gedelegeerde kwaliteit wat vloei vanaf dié Outoriteit, naamlik Christus die Hoof van die gemeente (Kol. 1:18). Ware outoriteit gaan nie in die eerste plek oor posisies en titels nie, maar oor leiers se verhouding met Jesus en dit wat hulle dan gevolglik verteenwoordig.  Let net kortliks op vier aspekte van ware outoriteit in die Nuwe Testament.  Die pre-eminensie (‘pre-eminence, not just prominence’) van Christus in my hart, gesindhede, woorde, en bediening, die plek wat sy Woord (die Skrif) in my hart, lewe en bediening beklee, die sensitiwiteit vir sy Gees wat oomblik-vir-oomblik in my werk, en die ruimte wat ek maak vir sý liefde as die praktiese gevolg van die werking van sy Persoon, sy Woord, en sy Gees in my binneste.  Die Persoon van Christus, die Woord van Christus, die Gees van Christus, en die liefde van Christus verleen vir my ware outoriteit in gemeentelewe.  Sonder al vier hierdie kwaliteite toenemend teenwoordig in my lewe en bediening beteken die mees prominente  posisie en titel niks nie en het ek nié ware outoriteit in die koninkryk van God nie, want ek verteenwoordig dan net myself en nie die lewende Christus nie.  

Monday 8 September 2014

DIE GEMEENTE WAT JESUS BOU

In Mattheus 16 vers 18 verklaar Jesus onomwonde dat Hy sélf sy gemeente sal bou.  Al maak Jesus gebruik van mense bou Hy sy gemeente só dat Hy en sy Vader die eer kry en verheerlik word.  Daarteenoor is die gemeentes wat mense bou gebaseer op die beginsel wat ons in Genesis 11 vers 4 sien, “kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak…”  Die 'church growth' beweging wat dikwels ‘n kwalik verskanste self-gesentreerde projek is om ons eie koninkryk te bou en ons eie naam populêr te maak, is 'n gruwel in die oë van die Here.  Een van die duidelikste toetse wat wys of dit Jesus of mense is wat 'n gemeente bou,  is die lojaliteit wat ons toon aan die denominasie of gemeentegroep teenoor lojaliteit aan Jesus en sy ware dissipels.  Die manier wat mense behandel word wanneer hulle gelei voel om na 'n ander groep te beweeg, is ‘n duidelike teken of dit ‘n gemeente is wat Jesus bou of ‘n gemeente wat mense bou.  Dit is maklik om lojaal teenoor mense te wees wat in jou eie groep is terwýl hulle 'in jou groep' is.  Die wêreld gee ook daardie soort erkenning en lojaliteit vir mekaar.    Die toets kom egter wanneer mense nie meer 'in jou groep' is nie.  In werklikheid is alle wedergebore mense tog wél deel van dieselfde Liggaam en dus van die gééstelike gemeente wat Jesus bou.  Juis daarom durf ons lojaliteit aan en liefde vir mekaar nooit beperk te wees tot 'n denominasie of kerkgenootskap nie.  Let wel, leiers wat in Jesus se voetspore volg, sal in hierdie verband die regte gesindheid by dissipels kweek.  Die wat dit nie doen nie wys sodoende hulle ware kleure.  Maak seker dat jy jou krag, energie en gawes belê in die soort gemeente wat Jesus bou. 

Tuesday 2 September 2014

REINHEID VAN HART EN RESPEK VIR ANDER

Dissipels met 'n rein hart in Christus vind dit nie moeilik om ander mense te dien en in die algemeen welwillend teenoor hulle op te tree nie.  Respek vir ander mense wat na God se beeld geskape is, vloei spontaan uit 'n rein hart.  Daarteenoor is 'n onrein hart 'n fabriek van disrespek teenoor ander. Iemand wat nie respek vir ander mense het nie bewys sonder twyfel dat hy dink hy is beter as ander. So 'n persoon verwag respek van ander mense, maar self wil hy dit nie gee vir ander nie.  Ons samelewing raak toenemend 'n plek waar mense net nie meer respek het vir mekaar nie.  Dinge soos vriendelikheid, gasvryheid, beleefdheid, goeie diens in die werksplek, bereidheid om werklik te luister na ander, om nie te gou te oordeel nie, jou woord te hou, nie ander mense lank te laat wag as julle 'n afspraak het nie, is alles tekens dat jy hulle respekteer.  Ons Vader verwag van ons om ander mense suiwer op grond van hulle skepping na Sy beeld en gelykenis te respekteer (Jak. 3:9).  As mense disrespekvol teenoor jóu optree, moenie die hoë grond in Christus en jou reinheid van hart in Hom opgee nie.  Neem die saak liewer na die Vader en kry wysheid by Hom.  

Thursday 28 August 2014

IN DIE HUISGESIN VAN 'N VOLMAAKTE VADER

"Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God." Efes. 2:19


Dissipels van Jesus kom uit verskillende agtergronde en huisgesinne. Sommige van ons het die voorreg gehad om groot te word in baie stabiele en liefdevolle huise. Jý kom dalk uit 'n gebroke gesinslewe en het nie so 'n vaste fondasie vir toekomstige gesinslewe en verhoudings gehad nie. Ongeag wat jou belewenisse van gesinslewe was in jou kinderjare, God wil hê jy moet weet dat jy nou, vandag, in die hede deur die bloed van Jesus 'n lid is van 'n huisgesin met 'n volmaakte Vader. God is jou Vader en Hy wil vir jou genesing, 'n toekoms en 'n hoop gee in hierdie hemelse huisgesin. Glo dit, vernuwe jou denke, en vergeet wat agter jou is.

Wednesday 27 August 2014

THE MISAPPLICATION AND ABUSE OF “KORAH'S REBELLION”

In Jude verse 11 there is a reference to a man named Korah who rebelled against the God-instituted authority given to Moses and Aaron (Numbers 16) under the old covenant where a specific structure of leadership was at the order of the day.  There have been many instances in church history where ambitious leaders have abused and misapplied 'Korah's rebellion' and similar texts in order to maintain their own dominance over the Lord's people and keep discerning believers who question their dubious authoritarian structures under their thumb.   On a sliding scale of abuse they range from outright evil men who dominate, intimidate, and manipulate the flock to semi-ignorant souls who are only marginally aware that they are being ruled by their own lust for power.  Yet they all twist the Scriptures (2 Pet. 3:16) and are either deliberately cunning or blissfully unaware that Jude's real point in verse 11 was that we should not rebel against the apostolic authority of the God-ordained engineers of the New Testament who without exception taught the pre-eminence and headship of Christ, not their own.  Compare 1 John 4:6 and 2 Corinthians 11:2-3.  In the new covenant we stand directly under the headship of Christ through His Word and we should not pay absolute allegiance to any man other than Jesus Himself!  If you doubt this you need to sober up and consider again what Paul as a called apostle was really saying in 2 Corinthians 11 verses 2 and 3.  In the new covenant authority is never ever lodged in the person himself (the Roman Catholic error), but always representatively exercised with a view to exalting the pre-eminence of Christ and His authority.  The terrifying irony is that those who abuse and misapply the teaching about Korah's rebellion are themselves guilty of such a rebellion and sadly multitudes of ignorant believers unwittingly submit to this error and remain under a veil of religion that obscures the face of their true Master, Jesus Christ.

Tuesday 26 August 2014

GENADE VIR DIE GEKNAKTE RIET

"'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie..." Jes. 42:3 (NAV)

Jesus se bediening is by uitstek gerig op mense wat verslae is en nie meer weet watter kant toe nie. Daar is barmhartigheid en genade in oorvloed beskikbaar vir sulkes. Ons Verlosser spesialiseer in die verbryselde hart (Lukas 4v18). Hy is baie naby aan die gebroke mens. Sy belofte staan vas en seker tot vandag toe: 'Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie' (Jos. 1:5). Hy is 'n "held wat verlossing skenk" (Sef. 3:17). Hy is die muur van vuur rondom jou en die heerlikheid daarbinne (Sag. 2:5). Roep Hom net aan en plaas alles in Sy hande. 


"Hy sal nie iemand wat alreeds op sy knieë is, in die grond in trap nie. Hy sal nie iemand se laaste bietjie hoop vernietig nie..." Jes. 42:3 (DB) 

Thursday 21 August 2014

DIE GEHEIME VAN GOD VIR KINDERTJIES

"In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het." Mt. 11:25

Die slim en geleerde mense in Israel kon nie verstaan wie Jesus was of wat Sy missie was nie. Hulle  het nie besef dat al die 'verborge skatte van wysheid en kennis' net in Hom te vinde was nie (Kol. 3:3). Hulle het 'die Skrifte ondersoek' sonder om Jesus, die sleutel tot die Skrifte, raak te sien (Jn. 5;39). Die verborge skatte van die koninkryk word net openbaar aan die wat 'weet hoe afhanklik hulle van God is' (Mt. 5:3) en aan die wat 'rein van hart is' (Mt. 5:8), m.a.w. aan 'kindertjies'. Maar let wel, net aan 'kindertjies' wat honger en dors na die openbaring van God en Sy koninkryk in Christus; aan dissipels wat 'bly in Sy Woord' (Jn. 8:31).  

"Sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God." 1 Kor. 2:5

"Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid." 1 Kor. 2:7 

Tuesday 19 August 2014

DIE GROOT SKEIDINGSLYN

Die groot skeidingslyn in elke dissipel van Jesus se lewe kom die dag wanneer hy die finaliteit van die kruis sien.  Die hele Christenlewe kan vanuit twee perspektiewe bekyk word.  Van die buitekant mag twee gelowiges presies dieselfde dinge doen, maar as ons na hulle innerlike motivering sou kyk, mag daar ‘n reuse verskil wees.  Die een verstaan die finaliteit van die kruis en derhalwe lewe hy op opstandingsgrond en in opstandingskrag vanuit die lewe van Jesus in hom.  Die ander een ken slegs die vergifnis van die kruis en dus lewe hy primêr in die krag van sy eie besluite.   Toe Jesus aan daardie kruis gesterf het, het Hy nie slegs vir jou gesterf nie, maar jy het saam met Hom gesterf (Gal. 2:20).   Jy het gesterf vir die ou, onafhanklike Adamiese lewe.  Dit is nie ‘n wens of ‘n belofte nie, maar ‘n feit.  Glo dit en leef daaruit.  Dit is jou erfdeel in Christus.


Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”  Romeine 6:4

Friday 15 August 2014

GESOEK: GEESTELIKE VADERS EN MOEDERS

As die hemel ‘n advertensie kon plaas in ons koerante sou dit waarskynlik so iets gewees het soos die titel van vandag se stukkie.  Ons hemelse Vader soek mense wat Sy Vaderhart kan verteenwoordig op aarde.  Ons is nie net gered deur die bloed van Jesus om hemel toe te gaan nie, maar om te groei en geestelik sterk te word sodat ons groot harte kan hê wat die evangelie bring aan ander, hulle liefhet, omgee, sorg dra, genesing bring, vrede bewerkstellig, versoening en verhoudingherstel bring, ensovoorts.  Wie kwalifiseer vir dit?  Almal wat die Gees van God in hulle het deur die wedergeboorte.  Ons rolle mag verskil in die kerk en die koninkryk, maar ons kan almal geestelike vaders of moeders wees as ons toelaat dat die Vader verruiming in ons binneste bring.  Geestelike vaderskap is nie net bedoel vir pastore, dominees, evangeliste, en ouderlinge terwyl die res maar vir dekades lank geestelike babas bly nie.  In die lewenssfeer waarin jy beweeg kan jy of een van hulle wees wat maar altyd hulp nodig het, of maar net water trap en neutraal staan teenoor alles, of jy kan vir ander ‘n trooster, bemoediger, waarheidspreker wees wat die Vader se hart verteenwoordig.  Ja dis waar, soms is ons so oorweldig deur omstandighede dat ons liefde en troos van ander nodig het, maar dit beteken nie jy kan nie opstaan in die krag van die Here en dan ander begin help nie.  Wat weerhou jou daarvan om ‘n geestelike vader of moeder te wees?  Miskien is dit net die manier wat jy dink oor jouself.  Die Vader sê jy kán in Christus!


“Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan.  Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.  Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.” Filippense 2:19-21  

Tuesday 12 August 2014

VAN DROOM TOT REALITEIT

God het vir Josef drome gegee oor sy toekoms en oor sy roeping.  Tog het dit baie jare en baie toetse geneem voordat dit wat God vir hom gewys het, gerealiseer is.  Net so is daar in ons lewens toetse wat ons moet deurkom om in die volle krag, seën en vrugbaarheid van God se lewensplan vir ons te begin leef.  Die meeste mense slaag nooit hierdie lewenstoetse om deur te breek in die volheid van hulle roeping in Christus nie.  Die Vader het alles in Sy Seun voorsien vir ons om wel die toetse te slaag.  Die beloning is groot as ons slaag!  Dink bietjie oor Josef se lewe en die seën wat God vir die wêreld kon bring deur een mens wat oorgegee was aan Hom en enduit die pad gestap het totdat die volle heerlikheid deurgebreek het.

Tuesday 5 August 2014

STAAN OP EN BEGIN BEWEEG NA DIE LIG!

Die magte en kragte van duisternis oorweldig selfs ware dissipels van Jesus soms tot so 'n mate dat hulle gaan sit langs die lewenspad.  Sonder motivering en sonder doel vloei die een dag in die ander en liggaam en siel word kwalik bymekaar gehou.  Die boodskap van God in Christus in so 'n situasie is duidelik en ondubbelsinnig; 'Staan op en begin beweeg na die lig'!  Treetjie vir treetjie sal Hy jou lei uit stikke duisternis na 'n altyd-helderder toekoms in Christus.  Moet net nie ophou beweeg nie, en as jy val staan weer op in geloof en hoop en maak net seker jy beweeg vórentoe met albei jou oë op Jesus gevestig!

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte." 2 Pet. 1:19 (OAV)


"Hierdie gebeure daar op die berg [van verheerliking] het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos 'n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste." 2 Pet. 1:19  (DB)

Thursday 31 July 2014

KOMMUNIKASIE OF FRUSTRASIE?!

Baie praat, baie woorde, baie verduidelikings en slim stellings is nie noodwendig kommunikasie nie. Slegs  die goeie nuus van God se liefde vir ons in Christus bring ons by 'n plek van sekuriteit waar ons werklik ons ware gevoelens met mekaar kan begin deel.  Eerlikheid (waarheid) sonder liefde is egter steeds nie kommunikasie nie, maar toon dikwels ernstige disrespek teenoor ander mense wat na God se beeld geskape is.  Liefde sonder waarheid is ook nie kommunikasie nie, maar eerder 'n droomwêreld van fantasie wat weier om die bestaande probleme aan te spreek.  Christus alleen kan ons in staat stel om die balans tussen waarheid en liefde reg te kry.  Sonder Sy wysheid en krag maak ons altyd 'n gemors daarvan en dit lei net tot meer pyn en misverstande, of frustrasie en onopgeloste probleme.  A.g.v. die sondeval is menslike kommunikasie vir die meeste van ons eerder ‘menslike frustrasie’!  Plaas die probleem in Christus se hande en vertrou die Heilige Gees om jou te lei na die plek van wyse en volwasse kommunikasie.

Tuesday 29 July 2014

VERGIFNIS: DIE DEUR TOT VOLKOME GENESING

Genade is 'n kosbare woord vir gebroke mense.  Vir mense wat werklik by die einde van hulleself en al hulle slim planne en projekte vir self-verbetering gekom het.  Vir mense wat geleer het dat niks op hierdie aarde werklik herstel kan word sonder die ontvang van die gawe van vergifnis uit die hart en hand van 'n barmhartige Vader wat Sy Seun in ons plek gestraf het nie.  Dit is eers in die oomblik van 'n totaal afhanklike geloof in vergifnis op grond van die bloed van Jesus alleen wat jou voete stewig geplaas word op die pad na volkome genesing vir jou siel.  Nie voor dan nie, en op geen ander manier nie. 

Monday 21 July 2014

WATTER DAG WAG JÝ VOOR?

“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.”  Joh. 14:20 


‘Dié dag’ wat Jesus hier van praat het reeds aangebreek amper 2 000 jaar gelede met Sy opstanding en meer spesifiek op die dag van Pinkster (Hand. 2:1-2), maar het hierdie dag al ten volle in jou bewussyn aangebreek?  Weet jy dat jy weet dat jy in Christus is (1 Kor. 1:30) en dat Hy in jou is (Gal. 2:20) en dat jou ware lewe daarom saam met Hom verborge is in die Vader (Kol. 3:3)?  Leef jy VANUIT vereniging met en volheid in Jesus of wag jy steeds vir een of ander dag vorentoe wat hierdie dinge vir jou ‘n werklikheid gaan maak?  

Tuesday 15 July 2014

TOTALE VERLOSSING: VERGIFNIS ÉN BEVRYDING

Ons hemelse Vader het nie net voorsiening gemaak vir die skuldlas van ons sondedade nie, maar ook vir bevryding van die mag van sonde.  Soos met elke aspek van ons verlossing is God se antwoord altyd om vir ons meer van Sy Seun te openbaar.  Ons het in die evangelie alles ontvang “wat tot die lewe en godsvrug dien” (2 Pet. 1:3).  Jesus het as plaasvervanger die straf vir ons sondes op Hom geneem toe Hy gesterf het aan die kruis.  Ons moet egter nie dink dat dit die somtotaal van die evangelie is en dat die res nou maar net ons verantwoordelikheid is om uit dankbaarheid te streef om ‘n heilige lewe te lei nie.  Allermins!  Die ander kant van die evangelie is dat God Sy Seun in ons geplaas het met die wedergeboorte en dat Hy nou in en deur ons die enigste lewe leef wat God kan behaag, naamlik die lewe van Jesus self (Gal. 2:20). Watchman Nee het gesê “The Son of God died instead of us for our forgiveness: [now] He lives instead of us for our deliverance.” 

Tuesday 8 July 2014

SO NABY SOOS SUURSTOF

"En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken..." Joh. 17:3


Jesus Christus het nie na hierdie aarde gekom om van ons godsdienstige mense te maak wat net op sekere tye en plekke en slegs deur middel van ons onderskeie unieke kerktradisies se rites en rituele tot God nader nie. Jesus het vlees geword, gesterf, en opgestaan om ons in 'n lewende, oomblik-vir-oomblik, egte, spontane en intieme liefdesverhouding te stel met ons hemelse Vader. Hy is nie ver van ons nie. Hy is nie iewers toegesluit in 'n 'heilige gebou' nie. Hy is so naby soos die suurstof wat ons inasem en waarvan ons elke oomblik leef. Hy praat gedurig met ons harte. Al wat Hy vra is dat ons in geloof die deur oophou vir die werking van Sy Gees in ons binneste.

Tuesday 1 July 2014

MOET HOM NIE VERVANG NIE!

"En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie..." 1 Joh. 2:27

"En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk..." Efes. 4:11-12


Elke ware dissipel van Jesus het met wedergeboorte 'n inwonende Leraar, die Heilige Gees, ontvang. Geen mens op aarde kan, of mag, die intens persoonlike lering van die Heilige Gees vervang nie. Aan die ander kant het God tog ook menslike leraars gegee wat saamwerk met die Heilige Gees om die gemeente van Jesus tot volwassenheid te bring. Daarom moet ons aan die een kant waak dat ons nie die heerlike, persoonlike bediening van die Gees vervang deur te swaar te leun op menslike leraars nie, en aan die ander kant dat ons leerbaar bly en nie die gawes wat God vir Sy gemeente gegee het minag nie. En leraars/bedienaars moet waak dat hulle nie begin dink dat alles in die gemeente staan en val by hulle persoonlike salwing en bediening nie. Daardie plek behoort aan die Heilige Gees alleen!

Tuesday 24 June 2014

OP GODDELIKE BANE VAN VREDE

"..die wysheid wat van Bo kom...is inskiklik.." Jak. 3:17


Twee van die Engelse vertalings vertaal inskiklik onderskeidelik as 'open to reason' en 'ready to yield'. Wysheid van Bo is iets wat God vir ons deur Sy Gees gee. Dit is nie 'n natuurlike kenmerk of bloot 'n ingesteldheid van sekere temperamente nie. Geen mens se 'vlees' is byvoorbeeld werklik inskiklik nie. Die Heilige Gees bring egter 'n sagtheid wat bereid is om na ander mense te luister en na 'n situasie te kyk vanuit hulle perspektief met die oog op ware begrip, versoening, genesing, seën, en vrede.  Soms verg 'n moeilike verhoudingsituasie net hierdie hemelse inskiklikheid om te ontknoop en op Goddelike bane van vrede te begin hardloop.  Sonder die unieke werking van die Gees sal dit egter nooit gebeur nie.

Sunday 22 June 2014

DIE LEWENDE BEDIENING VAN DIE NUWE TESTAMENT

“…dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.”  2 Kor. 3:6


Bediening onder 'n Nuwe Testament is wederkerig, lewend, en ten diepste hartsgerig.  Dit bring 'n wonderlike vertroue wat gebaseer is op die afgehandelde werk van Christus en 'n bekwaamheid wat niks te doen het met ons eie beperkte vermoëns nie. Dit is by uitstek 'n bediening “van die gees” wat van binne af buite toe werk.  Dit staan radikaal teenoor 'n “letter-bediening” wat slegs gefokus is op uiterlike verandering.  Hierdie soort verandering is gewoonlik geskoei op die spesifieke godsdiensgroep se gedragskodes en ongeskrewe reëls. Dit probeer mense met ‘n wettiese inslag almal in dieselfde vorm (eenvormigheid in plaas van eenheid) indwing.

Monday 16 June 2014

OP REIS MET GOD

As ‘n dissipel of gemeente van Jesus te gemaklik raak hier op aarde en nie aanhou vorentoe beweeg om al die beloftes van God in besit te neem nie, stagneer ons baie vinnig en word onvrugbaar.  Ons is ‘vreemdelinge en bywoners’ hier op aarde (Heb. 11:13); tentbewoners wat nie ons tentpenne te diep moet inslaan nie.  Die geskiedenis van die Ou Testament leer ons dat God se plan vir Sy mense nog altyd was om die beloofde land in besit te neem en gedurig meer grond in Sy naam en vir Sy eer te eien.  Hierdie “land” verteenwoordig ons geestelike rykdom in Christus. Ons weet wat met Israel gebeur het toe hulle gaan stilstaan het.  Laat ons verder gaan en die Heilige Gees toelaat om ons na groter oorwinnings te lei.  Lees Hebreërs 11 vir meer insig oor hierdie saak.

“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.”  Fil. 3:12

Sunday 15 June 2014

LIEFDEVOLLE TEREGWYSING IS IETS KOSBAAR

“Laat die regverdige my met liefde slaan en my tugtig—hoofsalf sal my hoof nie weier nie…” Psalm 141:5 (OAV).  As dissipels van Jesus is ons altyd in die leerskool waar God ons karakter vorm na die beeld van Christus wat in ons woon.  Hierdie skool is nie ‘n eenmanpad nie, maar ‘n groepsprojek. Om mense rondom jou te hê wat jy vertrou in Christus en wat met liefde en wysheid en sonder veroordeling reguit met jou kan praat oor gesindhede en gedrag wat nog nie Christus ten volle reflekteer nie, is ‘n groot seën. Robert Murray M’Cheyne het gesê: "A man who loves you the most is the man who tells you the most truth about yourself."

Tuesday 10 June 2014

JESUS SELF IS DIE WAARHEID!

Die gemeente van die Here word in 1 Tim. 3:15 "'n pilaar en grondslag van die waarheid" genoem. In 'n wêreld van leuens, verwarring, verdraaide boodskappe, en 'n massiewe verskeidenheid van uiteenlopende leringe is dit van kardinale belang dat ons styf vashou aan die suiwer waarheid van die evangelie. Die belangrikste van alles is dat ons moet verstaan dat Jesus self 'die Waarheid' is (Jn. 14:6). Daarom moet ons alles oor Sy Persoon, Sy verlossingswerk, en Sy koninkryk verslind en koester.  Maar ons moet ook seker maak dat Hy alleen die middelpunt bly van ons gemeentelewe, en al ons leringe, besluite en aktiwiteite. Kinderlike gehoorsaamheid aan Hom bo alles, selfs al is dit onpopulêr, is die sentrale vereiste van ons Vader. Sodoende sal ons nie net in ons leer nie, maar ook in ons lewe, gesindhede en verhoudings die kosbare vrug van Sy Heerskappy sien.

Thursday 5 June 2014

ENGELE WIL GRAAG WEET, MENSE TOON MIN BELANGSTELLING

“Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.  Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.“ Matt. 13:16-17 

“Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.”   1 Pet. 1:12 

Ons het die onuitspreeklike voorreg om in die ‘aangename jaar van die Here’ (Luk. 4:19) te leef. Vanuit God se perspektief is ons in die era wat die ‘volheid van die tyd’ (Gal. 4:4) genoem word.  God het sy Seun uit die hemel gestuur om ons oë oop te maak.  Die Vader het finaal en volledig gespreek deur sy Seun (Heb. 1:1).  Ons het die Bybel in ons eie taal.  Ons kan vryelik lees en delf in die Woord en ons het ‘n inwonende Leraar wat begeer om die dieptes van God vir ons te openbaar. “Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” (1 Kor. 2:9-10).  Wedergebore mense het ‘n verstommende geeskapasiteit om die dinge van God te verstaan en om onbeperk te groei in begrip en insig m.b.t. die koninkryk van God.  Hoekom is dit dan dat gelowiges vandag so traak-my-nie-agtig is oor dit wat in die hart van God leef oor Sy koninkryk en ons deel daaraan?  Hoekom maak mense stellings soos: “nog ‘n preek, lering of Bybelstudie, ai ek het al duisende gehoor en gedoen!”  Hoekom stel baie gelowiges dikwels min belang in enige lering wat nie hulle “eie lewe” prakties raak en dan sogenaamde “praktiese hulp” vir hulle kan bied nie?  (Let wel die Bybel gee wel baie praktiese lering oor die toepassing van ons rykdom in Christus en praktiese voorbeelde help ons dikwels om beter te verstaan.  Daar is dus geldige vrae oor die praktyk.  Dis nie waarna ek hier verwys nie.).  Is dit omdat ons so baie dinge het wat ons vermaak en ons aandag aflei dat ons nie ‘n honger het vir geestelike insig nie? Is dit omdat daar dalk baie “gelowiges” is vandag wat nie werklik wederbaar is nie, en daarom nie ‘n aptyt vir die dinge aangaande die Koning en Sy koninkryk het nie?  Is dit omdat ons geestelike peil so geweldig laag is vandag?  Miskien soek ons net wonderlike geestelike “ervarings” of dink ons dat lering en dieper insig grotendeels ‘n mors van tyd is en dat ons liewer moet uitgaan en ‘n verlore wêreld gaan bedien?  Is dit dalk omdat ons met baie van ons onskriftuurlike kerktradisies die Bybel die domein gemaak het van predikers, teoloë en die sogenaamde “slimkoppe” onder ons?  Is dit omdat ons te trots of bang is om te sê ‘ek weet nie, leer my asseblief’?  Of dalk te lui en “unteachable” om te leer en nou vaar ons maar uit teen ander wat delf in die Woord, want dis makliker as om te erken ons wil nie die moeite doen om self die Woord te begin ondersoek nie?  Dalk het ons ‘n heel verkeerde idee oor die doel van Bybelse kennis en insig en sien ons dit as ‘n middel tot die wen van debatte teen gelowiges wat anders dink as ons?  Of is dit omdat ons nie verstaan dat Bybelse kennis nie in die eerste plek ‘n kopkennis is nie, maar ‘n verhoudingskennis wat die Heilige Gees deur openbaring skenk aan die wat ‘n honger het vir die dieptes van God?  Die saak onder bespreking is nie een of ander teoretiese “pie in the sky” nie, maar is krities belangrik vir die mense van God.  Wat sou die rede(s) wees vir die huidige stand van sake?  Wat dink julle?


Tuesday 3 June 2014

‘N OMGEDOPTE GENADEBOODSKAP

Daar is ‘n boodskap oor genade en geregtigheid wat vandag verkondig word, wat net mooi die teenoorgestelde is van Bybelse genade.  Hierdie boodskap leer dat God deur die evangelie mense in hulleself sterk maak om te kan heers, oorwin, en wen in hierdie lewe.  Dit leer dat ons as’t ware onafhanklike bemagtigdes in Christus is en dat ons vanuit hierdie identiteit en posisie beheer kan neem oor negatiewe omstandighede.  Dit leer dat ons hierdie ‘vryheid’ ontvang het om nou met outoriteit situasies en omstandighede aan te spreek en kan beveel om te buig voor ons woorde en uitsprake.  Dit is net naby genoeg aan die waarheid om menigtes baie subtiel te mislei.  Bybelse genade is egter altyd iets wat uitgestort word vir die wat in totale swakheid en afhanklikheid in Christus voor God staan en in geloof alles ontvang wat Hy in sy Seun goedgunstiglik vir ons skenk.  Die deurbrake wat God gee in omstandighede is altyd “uit Hom, deur Hom, en tot Hom” (Rom. 11:36) en dit word gegee aan gebrokenes wat uit swakheid krag ontvang.  Dit is ook nie ‘n verskoning vir mislukking en mismoedigheid nie, maar juis die sleutel tot ware oorwinning.  Dit is in lewe, woord, daad, en werklikheid “nie ek nie, maar Christus” (Gal. 2:20).  Pasop vir “nagemaakte genade”!   Dit is ‘n baie algemene produk op die godsdiensmark vandag en dit word ‘verkoop’ teen afslagpryse.  Ware genade is verniet, maar dit kan net ontvang word deur mense wat niks in hulle hande het nie en as leë houers vanuit volheid in Christus leef.  Laat ons ook diegene wat afgedwaal het met liefde, dog met erns, teruglei na die paaie van ware genade.  Daar is baie wat met alle opregtheid onder die invloed van hierdie verdraaide boodskap beland het, maar wat met liefde en gebed dringend gehelp moet word om weer “gesond in die geloof” te wees.  

Tuesday 27 May 2014

KRAG IN SWAKHEID EN GEBROKENHEID

Ons probleem as dissipels van Jesus is nooit dat ons te swak is nie, maar dat ons te sterk is in onsself.  Daarom kry ons die opdrag in Efes. 6:10 "word kragtig IN DIE HERE en in die krag van SY Sterkte”.  Pasop vir boodskappe wat subtiel die idee skep dat God dissipels as’t ware meer en meer self-vertroue wil gee sodat hulle kan oorwin en wenners kan wees in hierdie lewe.  Ons sien ‘n heel ander prentjie in die Bybel.  Ons hemelse Vader se skool van genade werk andersom.  Hy wil ons al hoe meer vry maak van enige vertroue in onsself sodat ons toenemend kan leef uit die algenoegsaamheid van Jesus Christus ons Here.

“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” 2 Kor. 12:9.  Lees gerus die hele gedeelte in 2 Kor. 12:1-10.

Saturday 24 May 2014

DIE LIEFDE DIEN VOOR DIT LEER

Voordat Jesus sy diepste lering oor genade gegee het (Joh. 14-17), het Hy Homself omgord en Sy dissipels se voete gewas. Hier is 'n ontsaglike belangrike les. Die ouer boetie wat sy jonger boetie wil leer, maar nie wil dien nie is besig met 'n 'projek' wat nooit sal werk nie. Die liefde dien voor dit leer. Groter volwassenheid in Christus plaas die onus op die volwasse dissipel om te dien en selfs te ly ter wille van groter begrip by die 'jonger boetie'.

Tuesday 20 May 2014

DIE AANBIDDING VAN SUKSES

Een van die mees subtiele dinge wat dissipels van Jesus dikwels ongemerk laat afwyk van God se koninkryksplan is die manier wat ons dink oor sukses.  Ons waardesisteem is in baie gevalle eintlik maar dieselfde as die wêreld s’n.  Roem, prestasie, finansiële voorspoed, groter en beter is die doel en die maatstaf.  Ons sukkel om uit te styg bo ons tydgees, en in baie gevalle besef ons nie eers dat ons net soos die wêreld ‘n afgod van “sukses” gemaak het nie!  Ware sukses het volgens Jesus baie meer te doen met nederigheid, gebrokenheid, en die oorwinning van die liefde.  Dikwels ongemerk en weg van die oë van die skares speel die drama en die stryd vir ware sukses in families, huwelike, gemeentes, en werksituasies af.  Hoe dink jy oor sukses?  Het jy al vrede gemaak daarmee dat dit dikwels diegene is wat “verloor” in die wêreld se oë wat werklik wen in God se boek, die wat gee wat werklik ontvang en die wat dien wat ryklik deur God beloon word?

Tuesday 13 May 2014

DIE BESTE PRAKTIESE RAAD VIR DISSIPELS VAN JESUS

"Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand." Kolossense 1:17 (NAV)

Die Vader het bepaal dat Sy Seun sentraal moet staan in alles in die heelal. As 'alles deur Hom in stand bly', dan beteken dit ook dat alles buite Hom uitmekaar val.

Daarom kan ons as dissipels van Jesus in elke omstandigheid en by elke geleentheid nie genoeg vir mekaar herinner nie, 'maak seker dat jy onderworpe is aan Jesus se Koningsheerskappy in elke area van jou lewe’. Ons durf dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. As Jesus werklik sentraal is in jou lewe, sal jy deur die Gees van Sy eie wysheid, insig en krag voorsien word om as oorwinnaar uit elke moontlike situasie te stap (Rom. 8:37).  Hou net in gedagte dat oorwinning vir dissipels nie altyd dieselfde lyk as wat oorwinning vir die wêreld lyk nie (sien 2 Kor. 4:7-11). Vir die wêreld mag jy dan dalk nie noodwendig lyk soos 'n oorwinnaar nie, maar volgens God se standaarde wel en al wat saak maak is Sý standaarde!

As jy voel dit is nie vir jou werklik praktiese raad nie, moet jy dalk gaan dink daaroor of jy nie gefokus is op die verkeerde koninkryk nie.  Die koninkryk van God het te doen met geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees in elke omstandigheid van jou lewe nou en vir ewig (Rom. 14:17).  Hierdie koninkryksrealiteite manifesteer egter slegs op die plek waar ons, ons eksklusief onderwerp aan Jesus as absolute Alleenheerser en Koning. 

Monday 5 May 2014

TWYFEL ANDER OOK SOMS?

Die twyfel wat ware dissipels van Jesus soms kan beleef m.b.t. die bestaan van God en die hiernamaals, is een van die 'vurige pyle van die Bose' wat Efesiërs 6 vers 16 van praat.  Hoe vreemd dit ookal vir ons mag klink dat selfs andersins sterk gelowiges soms kan twyfel aan die bestaan van God, dit is 'n werklikheid van die geloofstryd in hierdie gevalle wêreld waarin ons leef en nie iets waaroor ‘n mens jou onnodig hoef te bekommer nie.  Jy weet tog in jou hart wat die waarheid is en bely dit met jou mond (Rom. 10:9-10).  Hou vas aan die wonderlike belofte in Efes. 6:16 dat die skild van geloof al die vurige pyle van die Bose kan uitblus.  Hierdie geloof is 'n produk van ons voortdurende blootstelling aan die kosbare evangelie van ons Here Jesus Christus (Rom. 10:17; 2 Kor. 3:18) wat vlees geword het om 'die onverganklike lewe aan die lig' te bring (2 Tim. 1:10).

Thursday 1 May 2014

JESUS SIGBAAR IN ONS GENERASIE

Jesus stap deur die eeue in verskillende lande, kulture en tale, deur die voete en hande van Sy dissipels.   Stap Hy 'in en deur' jou en my ook, of is Sy invloed deur ons soos die van 'n skim, onsigbaar vir die mense wat leef in dieselfde tyd en ruimte as ons in die geskiedenis?  Ons tyd en geskiedenis is baie belangriker as wat ons soms dink.  Ons lewens tel.  Daarom is daar soveel geslagsregisters in die Bybel.  Dit wys dat ons God en Vader met Sy deurtastende oë baie noukeurig boekhou van die dinge wat op hierdie planeet gebeur.  Kom laat ons Jesus ruimte gee in ons harte sodat Hy sigbaar kan word in ons lewens en vir ons generasie.  

Tuesday 29 April 2014

BOU JOU VERHOUDINGS OP DIE ROTS

Die Bybel leer konsekwent dat ons liefde vir mekaar net kan aanhou floreer wanneer dit op die vaste rots van God se genade staan.  As ons verwysingspunt in ons verhoudings nie die Vaderhart van God is nie, is ons almal geneig om afgode te maak van ons liefde vir ander en ook hulle liefde vir ons.  Jonathan Edwards het gesê ‘when we idolize we will also demonize’.  As my liefde vir iemand dus slegs in my eie gevoelens (onafhanklik van ‘n vaste sekuriteit in God se liefde) gewortel is, het ek geen waarborg dat dit nie onder sekere omstandighede ‘n 180 grade draai kan maak en in ‘haat’ verander nie. Die hoë persentasie egskeidings en gebroke verhoudings in families en gemeentes vertel hierdie verhaal ongelukkig baie beter as wat ek dit hier kan doen.  Tullian Tchividjian het gesê ‘the heart of the human problem is the problem of the human heart’.  Daarom is dit só noodsaaklik dat ons harte gedurig versterk en verruim moet word deur die liefde van God wat vir ons mildelik in Christus uitgestort is (Heb. 13:9).  Dit alleen is vaste grond onder ons voete in al ons verhoudings en dit alleen gee ons die vermoë om ander te vergewe en steeds lief te hê wanneer hulle liefde teenoor ons ‘in haat’ verander het.

Monday 21 April 2014

ONS WARE RYKDOM IS IN CHRISTUS

Al het Paulus in die natuurlike baie gehad om op te roem (Fil. 3:4-6), verklaar hy onbeskaamd in sy briewe dat hy “niks het nie” (2 Kor. 6:10) en “niks is nie” (2 Kor. 12:11).  Hy het werklik geleef soos iemand wat weet hy kan niks behalwe sy geestelike erfenis saamvat die ewigheid in nie (Fil. 1:21).  Paulus was ryk in Christus.  Het ons al by die plek gekom waar ons aanvaar dat God begeer om ons geestelik ryk te sien in Sy Seun of klou ons nog krampagtig vas aan die roem, rykdom, en sekuriteit van die gevalle wêreld?  Het jy al vrede gemaak met die feit dat die Vader dikwels omstandighede gebruik om jou te bring by die plek waar jy niks in jouself is of het nie, sodat jy alles in Christus kan besit?

Sunday 13 April 2014

MOENIE OORDEEL NIE?

Jesus het nie gesê ‘jy mag nie onderskei tussen reg en verkeerd of sonde en gehoorsaamheid, ens.” nie.  In dieselfde gedeelte waar Jesus sê “moenie oordeel nie” (Mt. 7:1) sê Hy net bietjie verder aan “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie …” (v.6a).  Hoe gaan ek weet wie dit is sonder om te onderskei?  Die “oordeel” wat Jesus van praat in vers 1 het te doen met die opstel van myself as ‘n regter oor ander mense i.p.v. om eers myself onder die oordeel van die evangelie te plaas (v.5a) en dan ander te help om dieselfde te doen (v.5b).  Ons moet natuurlik mense liefhê, maar ware liefde poog om mense te help om onder die Woord van Christus te kom staan sonder om jou eie posisie op te gee of te kompromitteer.  

Monday 7 April 2014

IS VREES ALTYD GELYK AAN ONGELOOF?

In 'n sin staan geloof reëlreg teenoor vrees, maar ons moet versigtig wees om nie die afleiding te maak dat vrees in my hart noodwendig gelyk is aan 'n sondige ongeloof nie.  Die perfeksionisme wat leer dat die emosie van vrees nooit weer mag voorkom in dissipels nie doen meer skade as goed. Dit pak skuldgevoelens bo-op die vrees. Die probleem is nie die vrees in my hart nie, maar wat ek daarmee maak. Gee dit vir God (Heb. 4:14-16). Hy sê oor en oor vir ons in die Bybel "moenie vrees nie", juis omdat Hy weet dat ons broos is in hierdie gevalle wêreld. Hy wil hê ons moet ten volle steun op Sy onveranderlike liefde in Christus (1 Joh. 4:18; Rom. 8:31-39).


VREDE EN BLYDSKAP IN SWAARKRY

Hierdie is een van die groot temas in die Bybel.  Gaan lees bietjie Heb. 11 aandagtig en biddend deur.  Maak seker dat jy die werklikheid aanvaar dat dit die normale is vir dissipels van Jesus om moeilike omstandighede te beleef in hierdie wêreld (Joh. 16:33).  Glo absoluut dat dit God se wil is vir jou om binne die omstandighede steeds vrede en blydskap te beleef (Rom. 14:17).  Rus in die afgehandelde werk van Jesus deur die “in Christus” verse in die NT jou eie te maak.  Hou styf vas aan die kosbare beloftes van God vir jou toekoms en die ewigheid saam met Christus (bv. Mt. 28:20). Laastens, onthou dat moeilike omstandighede in ‘n dissipel se lewe altyd ‘n doel het.  Gewoonlik om ons harte te verruim en ons te laat fokus op God se koninkryk en belange in hierdie gevalle wêreld (bv. Mt. 28:19).

Wednesday 2 April 2014

DIE STEM VAN DIE GOEIE HERDER

Sukkel jy om die stem van die Herder te hoor?  Ondersoek jou hart en bring dit in lyn met die volgende kenmerke van Sy Stem:

1.  Dit is uit die groot en liefdevolle hart van ‘n Vader.
2.  Dit is in die Aangesig van ‘n Seun (2 Kor. 4:6).
3.  Dit is in die kosbare en ononderbroke ademings van die Gees.
4.  Dit is op die nou pad van die Kruis, Nederigheid en Onderdanigheid.
5.  Dit is in die onskuldige kamers van ‘n rein en kinderlike Hart.
6.  Dit is in die Bybel; ondersoek, luister en bewe (Jes. 66:2)!
7.  Dit is in die moedige gange van Geloof.
8.  Dit is in die veilige plekke van die Liefde.
9.  Dit is in die helder gange van Hoop.
10.  Dit is in die lieflike Ryk van Barmhartigheid en Genade.
11. Dit is in die onversteurde grotte van Stilte.
12. Dit is in die tuine van volhardende Intersessie.
13. Dit is in die vriendelike oë, woorde en dade van nederige en gebroke mense.
14. Dit is in die Samekoms van gelowiges in Sy Naam, nie hulle eie nie.
15. Dit is in die Manier wat Sy mense mekaar liefhet en vergewe.
16. Dit is langs die lyne van wedersydse Onderdanigheid aan mekaar uit respek vir Christus.

Sunday 30 March 2014

VIR ‘N HART WAT KWYN

My hart het diep gaan wegkruip
in 'n winterbos,
maar soms so ongemerk
kom skyn 'n straaltjie van Gods liefde
weer die woorde in my los.

Dis net die Vaderliefde
wat kan skyn
en dieper deurdring tot die pyn.
Dis net die Seun se wonde wat so fyn

die salf kan wees vir 'n hart wat kwyn.

Wednesday 26 March 2014

DIE HEILIGE GEES SÊ "KOM KYK WEER"

As dit waar is dat die satan se grootste strategie is om mense se oë te verblind sodat hulle tog net nie die heerlikheid van Christus moet sien nie (2 Kor. 4:4), dan volg dit logies dat die 'stryd van geloof' (1 Tim. 6:12) vir die dissipels van Jesus alles te make het met ons heilige vasberadenheid om aan te hou om hierdie heerlikheid te aanskou (2 Kor. 3:18). Die eerste keer wat jy in die krag van die Gees die heerlikheid van Jesus in die evangelie gesien het, het dit reddende geloof in jou hart wakker gemaak en jou onomkeerbaar oorrompel. Nou wat jy 'n dissipel is, moet jy presies net soos daardie eerste keer jou vreugde aanwakker en behou (Kol. 2:6).  Jy moet bly by hierdie eenvoudige benadering tot die Christelike lewe (2 Kor. 11v2-3).  Die satan gebruik sorge, verleiding vd rykdom en begeertes na ander dinge (Markus 4:19) om jou fokus skuif en jou te laat wegsink in ongeloof of 'n sieldodende wettisisme met die doel om die lig van die evangelie in jou lewe te verdoof en jou vreugde en liefde in Christus te steel.   Net so ook gebruik hy teleurstellings in jou verhoudinge in jou gesin, familie, vriendekring, en gemeente om jou af te takel en moedeloos te maak.  Sodoende bring hy jou stelselmatig by 'n plek waar jy nie meer 'n vaste vertroue het dat die krag van die heerlikheid van Christus groter is as al die teleurstellings en kragte en magte van satan nie.  Hy wil hê jy moet heeltemal ophou glo dat God se liefde in Christus oor al die negatiewe dinge in die gevalle skepping kan triomfeer.  Daarom is dit krities belangrik dat jy sal luister na die Heilige Gees wat jou oor en oor, weer en weer, en nog 'n duisend keer roep met 'n dringende appél "kom kyk weer"!  "Aanskou weer die heerlikheid van Christus."  Laat die Gees toe om Jesus weer en weer voor jou af te skilder (Gal. 3v1) op tientalle maniere in die Woord totdat jou hart weer brand met die vreugde van die evangelie en jy jou eie ongeloof en/of wettisisme oorwin het en die liefde van Christus in jou kan deurbreek en begin om al die liefdeloosheid rondom en binne jou te verslind.  En terwyl jy lees, bid, bid en hou aan bid vir openbaring (Efes. 1:15-17).

Thursday 20 March 2014

ONUITSPREEKLIKE BLYDSKAP VIR EWIG

Omdat die heerlikheid van Christus oneindig is, is die potensiaal vir menslike vreugde oneindig.  Dit is die hoofrede waarom ons nie verveeld gaan raak in die hemel nie.  God het ons geskep om die heerlikheid van Christus ononderbroke te aanskou en sodoende reflekteerders te wees van Sy heerlikheid (2 Kor. 3:18).  Hierdie heerlikheid kan egter net gereflekteer word deur ‘n blymoedige hart wat versadig is en dan oorloop van die vreugde van die Here.  Hoe lyk dit met jóu hart?  

“U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” Ps. 16:11  

“Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.” 1 Pet. 1:8

Sunday 16 March 2014

WAT IS HEMEL VIR JOU?

In sy boek “God is the Gospel” vra John Piper die vraag: “If you could have heaven, with no sickness, and with all the friends you ever had on earth, and all the food you ever liked, and all the leisure activities you ever enjoyed, and all the natural beauties you ever saw, all the physical pleasures you ever tasted, and no human conflict or any natural disasters, could you be satisfied with heaven, if Christ were not there?”  Sal jy tevrede wees met so ‘n volmaakte plek vir ewig, maar sonder Christus?  Wat is hemel vir jou?  

Thursday 13 March 2014

JESUS EERSTE IN ALLES

Die Bybel leer nie dat Jesus my eerste prioriteit moet wees, en dan volg my gesin, die gemeente, my beroep, ens. nie.  So asof ek eerste aandag aan Jesus gee en dan het ek die vryheid om in ander domeins van my lewe my eie ding te doen.  Eerder dat Jesus eerste in álles in my lewe moet wees.  Dit beteken dus Jesus is eerste en ten volle betrokke in my gesin, my gemeentelewe, my beroepslewe, ens.  Ek het nie ‘n aparte godsdienstige lewe waar Jesus in beheer is en dan ander lewens waar ek eintlik onafhanklik leef en maar net vir Hom vra om dit asseblief te seën nie.  Ek het net een lewe, en dit is Christus (Kol. 3:4).  

Sunday 9 March 2014

THE HEART OF IDOLATRY

Man was created to find his joy in God in a uniquely intimate-personal way and to thus reflect the glory of God throughout the universe for all eternity.  Therefore God commands us to “Delight yourself in the Lord” (Ps. 37:4) and to “Rejoice in the Lord always” (Phil. 4:4). Anything less than ultimate joy in God, above all other enjoyments in your life, is idolatry! The heart of idolatry is not that we fail to serve and obey God, but that we do not find our ultimate joy in Him.  Obedience is a fruit of joy in God.  It is only as I behold the glory of Christ in the gospel (2 Kor. 3:18) that joy in God increasingly becomes the heartbeat of my entire life. Man was made to be a container and reflector of the infinite beauty of God. But to do so without passion and joy would be the ultimate insult to the glory of God, and would utterly defeat the purpose.

Wednesday 5 March 2014

DIE HOË RISIKO VAN HAASTIGE OORDEEL

Konings, priesters, skrifgeleerdes, geestelike leiers, politici, en selfs Sy eie familie het almal vir Jesus van Nasaret verkeerd gelees. Vandag nog mis ons maklik Sy voetspore en oordeel ons dikwels veels te vinnig in situasies.  Uit tien haastige gevolgtrekkings oor mense se motiewe en die waarheid van ‘n situasie is nege gewoonlik verkeerd.  Pasop vir aannames!  Jesus gee vir ons Goddelike insig hieroor en ‘n opdrag om te gehoorsaam in Johannes 7 vers 24 Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.”  Do not form superficial judgements, but form the judgements that are just." (Weymouth)