Friday, 3 December 2021

DIE MEES ONONTBEERLIKE INENTING IN DIE GESKIEDENIS, GEWEIER DEUR DIE MASSAS

Die mees dodelike virus in die geskiedenis, 100% infeksiesyfer, 100% sterftes, net EEN entstof beskikbaar!

Dit word al hoe duideliker dat selfs al is daar 'n 100% effektiewe inenting met geen newe-effekte vir meer as 2000 jaar al beskikbaar, slegs 'n klein persentasie van die mensdom bereid is om dit te neem.

"Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind." Matteus 7:14

Hierdie entstof is natuurlik die een wat die mensdom teen “die tweede dood” beskerm.

"Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding! Oor sulkes het die tweede dood geen mag nie ..." Openbaring 20:6a

Die grootste deel van die mensdom se weiering om hierdie entstof te neem is des te meer verwoestend as 'n mens in ag neem dat 100% van die mensdom by verstek blootgestel word aan "die tweede dood" vanaf geboorte.

"Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe." Genesis 2:17

"Kyk, ek is gebore in ongeregtigheid, en in sonde het my moeder my ontvang." Psalm 51:5

"Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God." Romeine 3:23

Daarbenewens is dit van die begin af deur alle mense bekend dat daar geen entstof teen die dood van die liggaam (eerste dood) beskikbaar is nie. Ons kan ingeënt word teen elke moontlike siekte waarvoor daar 'n entstof is, maar hierdie entstowwe gee net 'n mate van beskerming teen daardie siektes. Hulle bied geen beskerming teen die onvermydelike verouderingsproses of die duisende ander maniere waarop mense sterf nie.

"En net soos die mens bestem is om een ​​maal te sterwe, en daarna kom die oordeel." Hebreërs 9:27

Ten spyte daarvan dat dit algemeen bekend is, blyk dit dat die meeste mense verkies om die feit te ignoreer dat hulle nie die dood kan vryspring nie. Die goeie nuus is dat daar 'n entstof is wat die angel uit hierdie eerste dood haal en wat jou een honderd persent beskerming bied teen die veel erger en eweneens onomkeerbare tweede dood!

“O dood, waar is jou oorwinning? O dood, waar is jou angel? ” 1 Korinthiërs 15:55

"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe." Johannes 5:24

"Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood." Romeine 8:2

Daar is geen beskerming vir enige persoon wat nie gewilliglik hierdie universeel beskikbare entstof ontvang het nie.

"... sonder bloedvergieting is daar geen vergifnis van sondes nie." Hebreërs 9:22

"En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galileërs erger sondaars was as al die ander Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Ek sê vir julle nee, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom." Lukas 13:2-3

Jesus het Sy lewe gegee om hierdie "entstof" aan almal beskikbaar te stel.

“Toe Jesus die suur wyn ontvang het, het Hy gesê: Dit is volbring, en Hy het sy hoof gebuig en sy gees oorgegee.” Johannes 19:30

"So het Jesus ook buite die poort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig." Hebreërs 13:12

"Toe sê Jesus vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die Seun van die mens se vlees eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek op die laaste dag.” Johannes 6:53-54

Hoekom sal enigiemand hierdie entstof weier? Dit is beskikbaar, dit is 100% effektief, dit is gratis, en al wat jy opgee is 'n lewe waaraan jy in elk geval nie kan vashou nie.

"Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." Matteus 16:25

"Hy is geen dwaas wat opgee wat hy nie kan behou nie, om te verkry wat hy nie kan verloor nie." Jim Elliot

"Geseënd is die wat hul klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en dat hulle deur die poorte in die stad kan ingaan."

“Die Gees en die Bruid sê,” Kom. "En laat die een wat dit hoor sê: "Kom." En laat die een wat dors het, kom; en laat hom wat wil die water van die lewe neem, verniet." Openbaring 22:14, 17

JESUS LAAT GODSDIENS KOPKRAP

Die geheim van Jesus se lewe op aarde was dat Hy nie geleef het uit Sy eie wysheid of krag nie. Die godsdienstiges het probeer verstaan wie of wat hierdie persoon was wat so anders opgetree het en in nie een van hulle bestaande kategorieë ingepas het nie.  Hy het die godsdiensleiers voorwaar laat kopkrap, maar Sy antwoorde op hulle vrae het altyd verwysing gehad na net een geestelike werklikheid.

"Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so." Johannes 5:19

Die benadering van godsdiens is dat God vêr verwyder is van ons en dat ons dan met krag en ywer moet poog om hierdie God te behaag.  Jesus openbaar egter 'n totaal ander soort lewe.

"Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke." Johannes 14:10

Net so is ons lewe na die kruis en opstanding van Jesus 'n lewe in God en vanuit God.  Dit is juis hierdie lewe wat Jesus met alles wat Hy gesê en gedoen het Sy dissipels by wou inlyf.  Sy hele missie op aarde was om dissipels voor te berei vir 'n lewe wat totaal anders is as die benadering van godsdiens.

"In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle." Johannes 14:20

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5

Jare later skryf Paulus:

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galasiërs 2:20

"Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God." Kolossense 3:2-3

Die groot vraag vir elkeen van ons is natuurlik of ons ook met oortuiging kan sê dat ons nie lewe uit ons eie krag of wysheid nie, maar dat Christus in ons werklik die geheim van ons lewens is , net soos die Vader in Jesus die geheim van Sý lewe was.

"Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing." 1 Korinthiërs 1:30

Die enigste alternatief is menslike godsdiens en dit is leeg en onvrugbaar.

Thursday, 11 November 2021

JESUS IS VEEL MEER AS NET ONS VOORBEELD

Daar is soveel wonderlike voorbeelde in die Bybel van oorwinnende en heilige lewens, maar natuurlik is Jesus self die allerbeste voorbeeld van 'n lewe wat God behaag. 

As ons egter dink dat die lering oor heiligmaking (heiliging) in die Nuwe Testament primêr te doen het met die navolging van die voorbeeld van Jesus maak ons 'n reuse fout. Die sleutelteks in die Bybel oor heiliging en die oorwinnende lewe is Galasiërs 2 vers 20. 

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." 

In hierdie vers sien ons baie duidelik dat Jesus veel meer as net ons beste voorbeeld van 'n heilige lewe is. Hy ís die heilige lewe in ons! Dieselfde Jesus wat daardie heilige lewe geleef het in Sy tyd op aarde leef nou ín ons. 

Ons kan dus sê dat die oproep tot navolging van Jesus se voorbeeld goed en reg is. Maar die groot vraag is hóé moet ek Sy voorbeeld volg. Sy voorbeeld wys vir my die wat en waar van oorwinning, maar Sy lewe in my ís die oorwinning. Die hóé van navolging is om op te hou vertrou in my eie vermoë en om dan onwrikbaar te vertrou op Sý vermoë in my. Daardie lewe in my het reeds2 000 jaar gelede al die kragte en magte van duisternis oorwin. 

Tuesday, 9 November 2021

DRAAI WEG VAN DIE IMMER-TEENWOORDIGE HOOGMOED VAN DIE MENSLIKE HART

 "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:4-5

 In werklikheid is alle mense gevalle, broos, swak en onseker en hoe ouer 'n mens word hoe meer besef jy dit. Maar wat is hierdie vreeslike en immerteenwoordige onsigbare ding wat ons laat glo ons is in beheer en dat ons sterk kan wees en teëspoed en die toestande op 'n gevalle aarde met ons eie krag en wysheid kan oorwin?

Dit is 'n trotse en gevaarlike "oormoed" in die menslike hart.  Dit is in ons en om ons. Dit word voortdurend aangevuur deur die magte van die duisternis.  HULLE weet dit is ons ondergang en hulle wil ons onkundig hou oor hierdie feit.

Jesus het die waarheid oor die mens geken en Hy het konsekwent geleer dat ons met ons hele hart moet wegdraai van hierdie eksistensiële "hubris".  Sterkte en sekuriteit is slegs beskikbaar in die Wingerdstok. In homself het die loot geen lewe, geen krag, geen vrug...en geen toekoms nie.

Daarom is 'n lewe van voortdurende afhanklike en nederige waaksaamheid en gebed absoluut onontbeerlik.  Die klimaat en kultuur van ons innerlike mens, ons huise en ons gemeentes moet te alle tye so 'n nederige gebedsafhanklikheid promoveer.  Die profiel van Jesus se afhanklikheid van die Vader in die evangelie van Johannes is die heel beste uiteensetting van hierdie waarheid. 

Thursday, 2 September 2021

MIK HOOG

 Dit is so belangrik om die Woord van God onbevange te lees; sonder ‘n godsdiensbril en ook sonder om ons eie idees na die Skrif te bring.  Wanneer ons die Bybel met 'n onbevange hart lees word ons onvermydelik opgeroep om te beleef wat die Woord van praat en om onder geen omstandighede tevrede te wees met tweede beste nie. 

Derduisende gee hulle heel beste om uit te munt in die wêreld, maar is heeltemal tevrede met ‘n substandaard geestelike lewe.  Geestelike oorlewing is vir diesulkes die hoogste mikpunt, terwyl ons praktiese daaglikse lewe die eintlike realiteit is.  Hierdie benadering het ‘n tragiese geestelike armoede tot gevolg.

Mik hoog t.o.v. jou ervaring van geestelike werklikhede en 'n lewe van gehoorsaamheid, vrede en blydskap sal jou deel wees te midde van al die aardse onsekerhede en veranderlikes.  Die alternatief is 'n voortdurende geestelike onvolwassenheid en 'n aardse lewe van baie spanning, stres en ongelukkigheid selfs al beleef jy sogenaamde "sukses" in die tydelike.

Monday, 16 August 2021

DIE EVANGELIE HET LIEFDE TOT GEVOLG, MAAR VORMGODSDIENS VERWOES VERHOUDINGS

"Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Galasiërs 5:13-14

Die vryheid wat die kruis bring lei tot 'n lewe van liefde en diensbaarheid en vervul sodoende die wet.  Die doel van die wet was dus nie in die eerste plek rituele, spesiale dae en ander godsdienstige aksies en aktiwiteite nie, maar onselfsugtige LIEFDE.  Die rituele en spesiale dae en ander detail was bedoel om skadu's en tipes te wees van die innerlike werking van Christus wat altyd veronderstel is om te lei tot 'n lewe van liefde. 

"Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie."  Galasiërs 5:15

Die gevolg van menslike godsdienstigheid is juis presies die teenoorgestelde van liefde, want dit is self-gerig!  Dit bly net besig met die self en daarom kan mense wat besig is met hierdie "self-godsdiens" nooit in vrede, liefde en diensbaarheid met ander saamleef nie.  Vormgodsdiens is geweldig liefdeloos en dit verwoes verhoudings. 

Dit gebeur so maklik dat ons besig raak met allerhande godsdienstige dinge en leringe wat ons beskou as baie geestelik, maar dan kom ons agter dat ons gesindheid teenoor mense verhard.  Daarteenoor bring die evangelie altyd 'n sagtheid in ons hart teenoor mense, maar sonder om die waarheid van die Woord te kompromitteer.  Die Heilige Gees sal ons altyd dieper inlei in die waarheid van die evangelie, met toenemende onderskeidingsvermoë, maar terselfdertyd met verruiming van hart en groter verhoudingskapasiteit.

"Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling." Filippense 1:9 (NAV)

"En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is." 1 Thessalonicense 3:12

Monday, 9 August 2021

NIE MEER

 Nie meer "die hond wat op die strande draf en dom-allenig teen die aandwind blaf"

Nie meer die leë dop van 'n mens wat leë dae probeer vul met sin

Nie meer die "soeker wat nooit vind"

Nie meer "bitterbessie dagbreek, bitterbessie son" sonder einde

Nie meer die geteisterde, windverwaaide swerweling

Nie meer die eindelose drinker wat nooit sy dors kan les nie

Nie meer "die smorende vuur wat swaarkry en tog nie sy werk kan klaarkry"

Nie meer die "ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste"

Nie meer "die seevoël wat verhongerd daal en dooie nagte opdis as 'n maal"

 Nie meer 'n sinnelose verhaal, vertel deur 'n idioot, sonder rym en sonder noot

Nie meer ... nie.


"Almal wat dors het, kom na die waters..."

Begenadig eenmaal in die Seun, dan weer en weer en weer...

..."in Christus Jesus deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen." 

Wednesday, 21 July 2021

LEWE-STERF-HEMEL OF STERF-HEMEL-LEWE?

 Daar is twee radikaal verskillende perspektiewe op die lewe van 'n dissipel van Jesus en ongelukkig besef die meeste mense nie eers dat dit juis die verkeerde perspektief is wat maak dat hulle nooit heeltemal sin kan maak van die Bybel of hulle lewe op aarde nie. 

Die algemene en populêre siening van Christenskap is dat Jesus vir ons sondes gesterf het en dat ons nou op grond van God se liefde en die vergifnis van ons sondes 'n beter lewe kan hê op aarde en die hemel wanneer ons sterf.  Die volgorde vanuit hierdie perspektief is lewe-sterf-hemel.  Ek het my lewe op aarde wat as't ware deur God geborg word, dan sterf ek een of ander tyd en ek verloor hierdie aardse lewe, maar gelukkig gaan ek darem hemel toe waar ek nou 'n nuwe lewe gaan ontvang.

Die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap is radikaal anders.  Dit begin by dood, nie by lewe nie. Ek het gesterf "saam met Christus" (Rom. 6:1-10; Gal. 2:20; Kol. 3:3), ek is "saam met hom opgewek" (Kol. 3:1), sit nou saam met hom "in die hemele" (Efes. 2:6) en nou wil Hy Sý lewe deur my leef.  Die volgorde vanuit hierdie perspektief is dus sterf-hemel-lewe.  Ek het klaar gesterf, ek bevind myself reeds "saam met Christus" in die hemel en my lewe is nou Christus (Kol. 3:4).  Ek gaan steeds in 'n sin "hemel toe" wanneer ek sterf, maar dit het te doen met my verheerlikte liggaam wat my "oorklee uit die hemel" (2 Kor. 5:1-2) en nie met 'n nuwe lewe wat ek eers by my sterwe gaan ontvang nie.

Die lewe wat ek nou leef op aarde, moet geleef word vanuit die hemelse perspektief en geloof in die feit dat Christus in my woon en my lewe is (Gal. 2:20).  Die geestelike werklikheid is dat ek klaar gesterf het, dat ek klaar in die hemel is en dat ek hier-en-nou op aarde die krag van die nuwe lewe in Christus kan beleef.  Hierdie nuwe lewe het ek egter in 'n "erdekruik" (2 Kor. 4:7) en die krag van hierdie lewe manifesteer deur en vanuit swakheid en gebrokenheid (2 Kor. 12:9-10).

Christus is jou lewe en dit gaan vir die Vader oor jou vereniging met die lewe van die Seun.  Jy hét nie meer 'n onafhanklike lewe nie!  Hierdie waarheid verander die meeste van ons gebede, want nou bid ons nie meer primêr vir die verbetering van 'n aardse lewe nie, maar vir die manifestasie óp aarde van 'n hemelse lewe, Sý lewe. Dit verander natuurlik ook jou siening van heiligmaking, gemeentelewe, bediening, evangelisasie, die eindtye, ensovoorts, ensovoorts.

Dit is net vanuit hierdie perspektief dat die volgende woorde van die apostel Paulus ooit vir ons sin sal maak en vir ons persoonlike en besonderse betekenis kry:

"Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.  Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word." 2 Korinthiërs 4:7-11

Monday, 12 July 2021

MOENIE TERUGDEINS VIR DIE GEVEINS VAN VORMGODSDIENS NIE

"Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is." Galasiërs 2:11-12

Ons sien in hierdie verse dat die waarheid van die evangelie meer belangrik is as persoonlikhede en dat selfs die apostels nie in hulle persoon verhewe was bo die waarheid van die evangelie nie. 

Ons moet altyd 'n nederige gees van onderdanigheid aan mekaar in Christus handhaaf, maar terselfdertyd moet ons moedig wees en opstaan teen die geveinsdheid van vormgodsdiens sodat die evangelie suiwer kan bly onder ons. 

Hoe meer ons groei in die lieflike waarhede van die suiwer evangelie hoe sterker word ons innerlik en dit stel ons in staat om op te staan teen vormgodsdiens en wettisisme.  Alle dissipels van Jesus kan vegters vir die waarheid van die evangelie wees, nie net sekere spesiale persone en bedieninge nie.  Het jy al aangemeld of gaan jy maar saam met die stroom?  Antwoord eerlik in jou hart.

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie." Galasiërs 5:1

Tuesday, 6 July 2021

ONS WARE KRISIS IS DIE KRISIS VAN SELF-VERTROUE

In 'n sin kan 'n mens sê dat die enigste ware krisis wat ons ooit mee te doen kry in ons lewe op aarde, die krisis van self-vertroue is. D.w.s. die alomteenwoordige, verwoestende instink in die gevallenheid van ons siel om te dink dat ons dit op ons eie kan maak.

Is dit nie bietjie radikaal gestel nie?  Oorbeklemtoon ons nie 'n saak wat wel belangrik is, maar sekerlik nie so sentraal nie!?  Ek dink nie so nie en vir die volgende redes:

As ons werklik glo dat God alwetend en almagtig is en dat Hy ons "aangeneem" het in Christus (Gal. 4:5) dan is daar sekerlik niks in ons lewens wat vir Gód 'n krisis kan wees nie.  As ons egter op onsself vertrou in plaas van op hierdie alwetende, almagtige God wat deur ons vereniging met Christus ons Vader is, dan is hierdie sélf-vertroue noodwendig die groot krisis van ons aardse bestaan.  Hoekom? Want ons plaas onssélf sodoende in 'n sin buite die ruimte waarin God aktief werksaam is om ons deur te dra en ware oorwinning te gee in Sy Seun.

Daarom is dit so belangrik om in elke eksistensiële krisis in my lewe diepsinnig te reflekteer oor die feit dat God ook hierin besig is om my te stroop van self-vertroue sodat ek Sy opstandingskrag in Christus na waarde kan skat (Efes. 1:19-20; Rom. 8:11; 2 Kor. 1:8-9).

Neem ook die volgende in ag vanuit die Bybelse rekord:

Die heel eerste gebod wat God vir Israel gegee het was om geen ander gode te hê (te vertrou) nie en die grootste afgod moontlik is die afgod van die self.  "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie." Exodus 20:3

Jesus se heel eerste stelling in Sy bergpredikasie is, “geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel"  (Mattheüs 5:3).

Johannes die Doper verklaar onbeskaamd, "Hy moet meer word, maar ek minder"  (Johannes 3:30).

Paulus maak dit baie duidelik aan die begin van 2 Korinthiërs dat beproewinge en verdrukkinge in die dissipel se lewe juis bedoel is om vir ons te wys dat die ware krisis van ons aardse bestaan altyd self-vertroue is.

"Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, SODAT ONS NIE OP ONSSELF SOU VERTROU NIE (my beklemtoning), maar op God wat die dode opwek."  2 Korinthiërs 1:8-9

My krisis is altyd eerstens dat ek op my self vertrou.  Self-vertroue is eie-geregtigheid en eie-geregtigheid is soos 'n baie diep en sterk stroom wat regdeur die middel van die menslike psige loop.  Die groot vraag is nou, "hoe word ek verlos van hierdie alomteenwoordige innerlike probleem?"  Weereens, op geen ander manier nie as deur "Christus in ons".

Die enigste mens wat ooit ononderbroke op God vertrou het was "die mens Christus Jesus" (1 Tim. 2:5).  Kyk net na twee van vele uitsprake van Jesus oor Sy afhanklikheid van die Vader:

"Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so." Johannes 5:19

"Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het." Johannes 5:30

Hierdie Jesus leef nou in ons.  Sy lewe in ons is 'n lewe van vertroue op God alleen.  Dit is hoekom die boodskap van "nie ek nie, maar Christus" (Gal. 2:20) net werklik kosbaar is vir mense wie se oë oopgegaan het om te sien dat hulle ware krisis self-vertroue is.  Dit is dan ook net vir diesulkes lieflik om te hoor dat dit net Christus in ons is wat ons "hoop op heerlikheid" is (Kolossense 1:27).

In hierdie lewe sal ons nooit op 'n plek kom waar ons nie hoef te waak teen self-vertroue nie en daarom is dit amper onmoontlik om dit te oorbeklemtoon.  Erken dus  jou ware krisis en draai in geloof na Christus sodat jy kan rus in die heerlike Godsvertroue van die Seun in jou.

"Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof..."  Hebreërs 12:2

Tuesday, 29 June 2021

DIE AVONTUUR VAN 'N KONSTANTE GEBEDSLEWE IN CHRISTUS

Ware gebed begin by die spontane ekspressie van my hart voor God, maar dit is maar net soos om jou bootjie in die rivier te loods.  Die krag en vloei van die rivier is die gebedslewe van Jesus self en hierdie bonatuurlike gebedslewe is die plan van God vir alle dissipels van Jesus.

Die verstommende waarheid van Galasiërs 2 vers 20 het ook betrekking op ons gebedslewe as dissipels van Jesus.  Ons "leef" nie meer nie maar Christus "leef" in ons.  Net so kan ons sê ek "bid" nie meer vanuit myself nie, maar Christus "bid" in my.

Die oproep tot volharding en waaksaamheid in gebed in die konteks van die primêre boodskap van die Nuwe Testament is 'n oproep om ook in gebed volledige uiting te gee aan die lewe van Christus in ons. 

"Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging." Kolossense 4:2

Die gebedslewe van Jesus is as't ware geïnstalleer in ons gees soos wat 'n sagteware program op 'n rekenaar geïnstalleer word en dan reg is vir gebruik.  Gaan deur die evangelies en let op na Jesus se lewe van gebed en intersessie.  Besef jy dat dit nou jou lewe is, want jy is in Hom en Hy ís jou lewe (Kol. 3:4)!

Alles wat ons in die Bybel lees oor gebed moet in hierdie konteks gesien en verstaan word.  Prakties beteken dit dat ek na die Vader gaan en bely dat ek dikwels nie weet wat en hoe om te bid nie, maar dat ek volle vertroue het dat die Heilige Gees die gebedslewe van Jesus in en deur my sal ontsluit. 

"En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge." Romeine 8:26

Géé jouself vir so 'n lewe (Rom. 12:1) en aanskou dan hoe God begin om jou te neem na avonture in gebed wat jy nie eers sou kon droom om te realiseer vanuit jouself nie. 

"En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk." Efesiërs 3:20

Wednesday, 2 June 2021

"BEKLEE JOU MET CHRISTUS", NIE "STREEF OM DIE BESTE WEERGAWE VAN JOUSELF TE WEES" NIE!

God probeer nie om Adam te verbeter nie.  Ons is nuwe mense in Christus (2 Kor. 5:17) en daarom is dit belaglik vir ons as dissipels van Jesus om ons te onderwerp aan enige lering wat Adamsverbetering promoveer. 

Die ou mens (Adam) het gesterf "saam met Christus" en die nuwe mens leef vanuit 'n totaal nuwe bron, Christus in ons.  Ons natuurlike instink is om onsself te wil verbeter en juis daarom het ons die "vernuwing van denke" wat die Nuwe Testament van praat (Rom. 12:2) so dringend en voortdurend nodig. 

Ons moderne kultuur is deurdrenk met die sielkunde van die self en dit het die kerk binnegedring.  As ons ware verandering wil sien moet ons hierdie hele wêreld van die self vaarwel toeroep en ons identiteit in Christus met volle oorgawe omhels. Die Nuwe Testament praat van geestelike groei in terme van die "vergestalting van Christus" in ons.

"My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry." Galasiërs 4:19

Die enigste manier wat Christus in ons vergestalt kan word, is wanneer ons in geloof ons hemelse posisie in Hom onvoorwaardelik aanvaar.  Vanuit daardie posisie kan ons dan die werke van die vlees "doodmaak" en "aflê" en ons daarna "beklee met" die persoon en karakter van Christus, ons ware identiteit as nuwe mense. 

"Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie." Romeine 13:14

"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid." Kolossense 3:12

Ons ware identiteit in Christus is lig en liefde en ons word geroep om in die praktyk te wéés wat ons reeds ís in Hom.

"Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig." Efesiërs 5:8

"En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is." Kolossense 3:14

Monday, 31 May 2021

"MAAK DOOD EN LÊ AF", NIE "PROBEER JOU BES EN GOD DOEN DIE RES" NIE!

Die Nuwe Testament se benadering tot heiligmaking (heiliging/lewensverandering) is  radikaal anders as die algemene idees wat oningeligte dissipels en soms hele gemeentes dikwels handhaaf.  

Ons word nie geroep om net uit dankbaarheid, omdat ons sondes vergewe is, nou ons bes te probeer om beter mense te wees nie.  En dan te vertrou dat die Here ons darem net so 'n hupstootjie sal gee om dit bietjie makliker te maak vir ons nie.

Ons word eerder opgeroep om te besef dat ons reeds in Christus gesterf het vir die sonde (Rom. 6:2, 11) en dat ons in daardie oorwinning van Christus sondedade en sondepatrone kan "doodmaak" en "aflê".  Heiliging op aarde vind dus plaas vanuit 'n hemelse posisie en 'n stryd wat reeds deur Jesus gewen is (Kolossense 3:1-4).

"Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is." Kolossense 3:5

"Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond." Kolossense 3:8

Hierdie soort heiligingstaal is egter  so vreemd vir ons as ons nog nooit werklik mooi opgelet het na die werkwoorde in die Nuwe Testament nie dat dit 'n groot kopskuif verg om dit jou eie te maak en heeltemal anders te begin dink oor hoe God regtig mense se lewens verander. 

Laat vaar geheel en al jou eie idees, populêre sieninge, motiveringsfoefies en sielkundige truuks wat so baie belowe, maar nooit langtermyn verandering kan bring nie.  Omhels daarenteen met jou hele hart en siel die Bybelse benadering van "dood vir die ou skepping" en "lewend vir die nuwe skepping" IN CHRISTUS!  Dit is die enigste vaste grond; die res is dryfsand.

Wednesday, 26 May 2021

HEILIGING BEGIN NIE OP AARDE NIE, DIT BEGIN IN DIE HEMEL

  Veranderde lewens in Bybelse terme begin altyd by 'n nuwe fokus.  Dit begin in die hemele waar ons nou-al "saam met Christus sit" (Efes. 2:6).

 In Kolossense 2 vers 20 sien ons die volgende verstommende stelling van Paulus: "waarom...asof julle nog in die wêreld lewe...".  Die ESV sê: "why, as if you were still alive in the world...".  Hy sê in effek: "Waarom onderwerp julle jul aan aardse benaderings tot heiliging (vormgodsdiens) as julle in werklikheid nie meer behoort aan hierdie aardse en gevalle skepping nie"?  En dan gaan hy aan in die volgende hoofstuk om hierdie dringende appél te maak op dissipels:

 "As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie." Kolossense 3:1-2

 Verder aan in die hoofstuk begin hy om te praat oor die detail van heiliging, maar hy praat nooit in sy briewe oor die detail van heiliging (heiligmaking/veranderde lewens/transformasie) voordat hy nie seker gemaak het dat ons fokus geskuif het van die aardse na die hemelse nie.  Dit gaan dus nie oor 'n vergeefde Adam wat probeer om homself te verander nie, maar oor 'n nuwe mens in Christus wat leer om in geloof te leef vanuit die nuwe lewe in Christus.

 Is jy moeg vir al die mislukte pogings om te verander via vormgodsdiens en wettisisme (self-heiliging)?  Miskien is dit tyd om jou hele fokus te verskuif en met die oë van jou hart te sien dat God geen ander plan vir veranderde lewens het as Sy ewige plan "in Christus" nie.

 Gaan lees Kolossense 2 en 3 met aandag en vra die Here om jou oë oop te maak vir Sý meesterplan in Christus om mense, verhoudings, lewens, gemeentes en hele gemeenskappe te verander.

Wednesday, 19 May 2021

GEESTELIKE ROWERS

 'n Geestelike rower is iemand wat nie die genoegsaamheid van Christus vir sy eie lewe aanvaar nie, maar dan gaan hy verder en beroof ook ander mense van hulle vreugde in die volheid van Christus (Kol. 2:9-10).

"Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word." Kolossense 2:18-19

Paulus gee vir die gelowiges in Kolosse 'n opdrag om onder geen omstandighede toe te laat dat enigiemand hulle beroof van die heerlikheid wat 'n eenvoudige geloof in Jesus alleen (Jesus plus niks) bring nie.

"Vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap."  1 Petrus 1:8

Die nederigheid waarvan daar in Kolossense 2 vers 18 gepraat word is natuurlik 'n valse nederigheid. In die konteks verwys dit veral na die godsdienstige houding wat dissipels wat staan op die vrymoedigheid waarmee ons God in Christus mag nader en die volheid wat ons in Hom het, as trots en arrogant beskou. Hierdie godsdienstiges voel dat hulle baie nederig is as hulle nie op die genoegsaamheid van die evangelie staan nie, maar eerder op selfvernedering en 'n mistiese en ongedefinieërde spiritualiteit wat fokus op engele en visioene.

Natuurlik moet ons bely dat ons niks in onsself is nie, maar in Christus hét ons die volheid ontvang.  Dit is vaste grond onder ons voete en ons hoef nie verskoning te vra daarvoor nie.  Die ware arrogantes is diegene wat trots is op hulle eie nederigheid en roem in hulle eie geestelikheid in plaas van op Jesus en Sý verlossingswerk.

"Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem." 1 Korinthiërs 1:31

Daar is geweldig baie geestelike intimidasie vandag. Moenie toelaat dat enigiemand jou intimideer en "ongeestelik" laat voel omdat jy staan op die eenvoud van geloof in Jesus nie (2 Kor. 11:2-3).  Vir seker moet ons nooit ophou om 'n dieper en dieper kennis van Jesus na te jaag nie (Filippense 3:7-10), maar dit bly geloof van begin tot einde; nie self-verbetering via mistisisme, ritualisme, wettisisme, askese (asceticism) of enige kombinasie van die vier nie. 

Tuesday, 18 May 2021

LAAT STAAN DIE SKADUWEE, DIE WERKLIKHEID IS HIER!

"Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus." Kolossense 2:16-17

Vormgodsdiens het 'n eindelose fassinering met skaduwees en uiterlike dinge.  Die wortel van hierdie probleem is waarskynlik die onvermoë om weg te kyk van jouself om die volkomenheid dan in Christus te vind.  Die boodskap van geloof alleen is te eenvoudig vir jou.  "Dit kan nie so ongekompliseerd wees nie!"

Jy bly besig met self-heiligingsprogramme en projekte om jou ervaring op standaard te bring.  Nog 'n ritueel, nog 'n liturgie, nog 'n metodiek; hou net aan probeer en een of ander tyd gaan jy geestelike vervulling en satisfaksie kry wanneer God uiteindelik tevrede is met jou diens aan Hom (godsdiens!).

Daarteenoor, die evangelie.  God het alles kant en klaar afgehandel in Sy Seun.  God is tevrede met Sy Seun. Sy Seun is die vervulling van alle skaduwees en tipes in die Ou Testament.  Wat bly oor?  Geloof.  Glo jy dit of glo jy dit nie? 

As jy werklik glo dat Jesus genoeg is en dat jy verenig is met Sý volheid en volmaaktheid (Kol. 2:9-10), sal al hierdie eksterne dinge van vormgodsdiens van jou afval soos herfsblare van 'n boom.  Dan eers sal jy begin beleef wat die beteken om God in "gees en waarheid" te aanbid (Joh. 4:23) en om deel te hê aan die volmaakte verhouding tussen die Vader en die Seun (Joh. 17:24; 1 Kor. 1:9).

"U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig." Psalms 16:11

Tuesday, 11 May 2021

GLO JY WAT JY GLO?!

Ek het 'n tannie gehad wat lief was om vir mense te vra: "glo jy wat jy glo"?  Daarmee wou sy jou dieper laat dink en jou, indien nodig, skuif van bloot intellektuele en gemakstoel geloofsoortuigings na 'n vaste vertroue in die evangelie wat in staat sou wees om storms te weerstaan en oorwinnend aan die ander kant uit te kom.

"Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging.  Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie."  Kolossense 2:6-8

Die gelowiges in Kolosse het begin om diep te gaan skep by ander fonteine van sogenaamde "wysheid" om hulle geloof in Jesus as't ware aan te vul.  Paulus vermaan hulle om nie weg te beweeg van dit wat hulle aanvanklik geglo en beleef het in Christus nie. Hulle moes eerder hulle geestelike wortels dieper in Hom laat ingroei en toelaat dat die Heilige Gees hulle opbou op daardie vaste fondasie. 

Daar is so 'n groot verskeidenheid lewensfilosofieë, wêreldbeskouings en boonop vals of misplaaste teologieë wat die rondtes doen vandag dat ons meer as ooit vantevore moet glo wat ons glo en staan waar ons staan.   

Moenie dat enigiets jou skuif of beweeg nie.  Geen ander lewensfilosofie het die kruis en opstanding van Jesus (historiese feite) as fondasie nie.  Jy kan maar jou volle gewig en al jou omstandighede swaar laat leun op hierdie fondasie.  Dit sal nooit maar nooit wankel nie.  Hierdie fondasie is ook nie net 'n wêreldbeskouing nie, dis 'n Persoon!

Thursday, 6 May 2021

DIE GEHEIM IS UIT, MAAR IS DIT IN JOU HART GEOPENBAAR?

 "Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort.  God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid."  Kolossense 1:26-27 (NAV)

Hier keer Paulus weer terug na die "hoop" van die evangelie waarvan hy gepraat het in vers 5 van hierdie hoofstuk, maar nou gaan hy dieper en wys vir ons dat die "hoop" nie net iets objektief is nie.  Dit is die definitiewe en persoonlike inwoning van die verrese Christus in elke gelowige. Halleluja! 

Dít is die volheid van die geheimenis.  Die geheimenis is dus nie net die pre-eminensie van Christus (1:15-20) en dat Hy die volledige vervulling van al die profesieë en beloftes van die Ou Testament is nie, maar ook die verstommende waarheid dat hierdie pre-eminente Christus nou woon in elke ware gelowige. Het jy al 'n openbaring gekry van hierdie onbeskryflike waarheid wat die essensie is van die evangelie?  

Tuesday, 4 May 2021

SOUT EN LIG VIR 'N WÊRELD IN DUISTERNIS EN VOL KORRUPSIE

 "Julle is die sout van die aarde..."   Mattheüs 5:13a

"Julle is die lig van die wêreld."  Mattheüs 5:14a

Dit is verstommend dat Jesus vroeg in sy bediening al vir sy dissipels sê dat hulle die "sout van die aarde" en die "lig van die wêreld" is.

Hierdie dinge het Jesus nie vir sy dissipels gesê omdat hulle beter mense was as al die ander nie, maar juis omdat hulle deur Jesus te volg erken het dat hulle verlore was en dat Hy alleen hulle geregtigheid en hoop was.

In Johannes 8 vers 12 sê Jesus "Ek is die lig van die wêreld".  In onsself het ons geen lig nie en as ons probeer lewe uit ons eie geregtigheid sal ons nooit sout of lig vir enigiemand kan wees nie (Rom. 10:2-4).  Christus in ons is die sout en die lig wat hierdie wêreld so nodig het.

Dit is nie godsdienstige mense wat dink hulle is beter as ander wat die lig vir die wêreld kan bring nie, maar mense wat weet dat hulle niks in hulself het wat enige ander mens werklik kan help nie.  Slegs mense wat 'n onwrikbare geloof in die meriete van Jesus se verlossingswerk en sý karakter en persoon het, kan sout en lig wees. 

Wanneer gaan ons wegdraai van ons self-gerigte vormgodsdiens en besef dat net Christus in ons die antwoord vir die wêreld is.  Dit is nie ons wilskrag, werke, kerke, programme of projekte wat die verskil sal maak nie, maar Jesus alleen. 

Wanneer ons swak is in onsself is Hy in en deur ons die krag tot redding vir ander (2 Kor. 12:9-10).  Wanneer ons niks is in onsself nie kan Hy alles in ons wees; d.w.s sout en lig vir 'n wêreld in duisternis en vol korrupsie.

Thursday, 29 April 2021

BARMHARTIGHEID EN GENADE IS JUIS VIR ELLENDIGE MISLUKKINGS

 Voel jy soos 'n ellendige mislukking as 'n dissipel van Jesus?  Moenie alleen voel nie en moenie te gou moed opgee nie. 

As die Bybel sê dit hang nie af van "die een wat wil of van die een wat loop nie", maar van die "barmhartigheid van God" (Rom. 9:16), dan volg dit logies dat hierdie barmhartigheid gegee word aan ellendige mislukkings, nie aan Christen superhelde nie.

Die radikale kontras wat Paulus verder aan in dieselfde blok lering (Romeine 9 tot 11) stel tussen genade en werke is werklik verstommend.

"En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie." Romeine 11:6 

Daar is geen gronde vir roem in die lewe van dissipels nie.

"Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem."  1 Korinthiërs 1:30-31

Dit is geen probleem vir God as jy sê "ék kan nie".  Inteendeel, dit is 'n voorvereiste vir barmhartigheid en genade.  Solank jy net nie in wanhoop verval a.g.v. hierdie erkenning van jou eie onvermoë nie. Wanhoop sê in effek "Gód kan nie".  Daarom het F.W. Myers gesê "God sal jou alles vergewe, behalwe jou wanhoop".  Die Bybel sê honderde kere en in verskillende kontekste vir ons "moenie vrees nie", "hou moed", "wees sterk".  Maar hoe moet ek sterk wees? 

"Eindelik, my broeders, word kragtig IN DIE HERE en in die krag van SY STERKTE."  Efesiërs 6:10

Die "positiwiteit" van die Bybel is 'n positiwiteit van geloof.  Daar is 'n fyn lyn tussen die hedendaagse "positiewe denke" benadering en die positiwiteit van bybelse geloof.   Die "positiewe denke" benadering sê "jy kan!"  Die Bybel leer baie duidelik "jy kan níe"!  Niemand kan nie.  Daarom juis die barmhartigheid wat vergifnis skenk en die genade wat Christus in jou plaas sodat Hý die Christelike lewe in en deur jou kan leef.

So dink nou weer mooi en rustig oor Galasiërs 2 vers 20:

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het."  Galasiërs 2:20

Net Christus in jou kan die Christelike lewe leef.  Dít is ware Bybelse positiwiteit!  Jy hoef nie 'n superheld te wees nie.  Geloof en kinderlike vertroue in Jesus en die evangelie het die potensiaal om jou ellendige mislukkings te omskep in die oorwinning wat Christus in jou alleen kan bewerkstellig. Wie jy is in Christus is inderwaarheid wie Hý is in jou.  As jy dit nie so verstaan nie word selfs die lering van "wie ék is in Christus" 'n gevaarlike misleiding wat jou weer terugplaas op die uiteindelik vernietigende pad van vertroue in JOUSELF!

Moenie die duiwel se leuens oor die oorwinningslewe sluk nie.  En daai leuens is volop in vandag se populêre prediking. "Nie ek nie, maar Christus in my".  Dít is die antwoord.  En dit is die enigste antwoord.

Wednesday, 21 April 2021

GELOOF VERSUS GODSDIENS

 Ons moet vir ons kinders geloof leer, nie godsdiens nie.  Daar is 'n reuse verskil tussen die twee.  Ongelukkig is dit 'n verskil wat die meeste kerke en predikers vandag nie duidelik sien of verstaan nie en dit is so 'n belangrike saak dat dit 'n mens se hele Christelike lewe beïnvloed.

"Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is." Romeine 9:16

Godsdiens leer (subtiel of blatant) dit is ons wilskrag en ons strewe om goed te wees en goed te doen wat van ons goeie dissipels van Jesus maak.  Godsdiens gebruik tekste uit konteks om hierdie benadering te rugsteun.

* Daarteenoor leer die Bybel dat God van ons verwag om te glo dat Hy barmhartig is en dat Hy volledig voorsiening maak (in Christus) vir die heilige en regverdige lewe wat ons moet leef op aarde. 

"Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Romeine 11:35

Godsdiens leer dat ons goed moet wees en goeie dinge vir die Here moet doen ("wees mooi soet seuntjies en dogtertjies") en dan beloon Hy ons daarvoor. 

Daarteenoor leer die Bybel dat God net geloof beloon, want geloof leef uit God se hand (Heb. 11:6).  Geloof verstaan dat ons net kan ontvang van God (ons reageer op SY inisiatief), want alles is "uit Hom, deur Hom en tot Hom" (Romeine 9:36). 

Geloof voel ook nie bedreig deur swakheid en gebrokenheid nie.  Swakheid en gebrokenheid is nie 'n probleem as ons bly in afhanklikheid van God nie.  Inteendeel, dit is wanneer ons swak is (in onsself) wat ons sterk is (in Christus).

"Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk." 2 Korinthiërs 12:10

Miskien voel jy dit is nie regtig so belangrik nie.  Dat al wat saak maak ons optrede is in hierdie wêreld.  Dat die motief en oorsprong van ons gesindhede en dade grootliks irrelevant is.  As dit jou siening is, misverstaan jy die Bybel se boodskap en is jy besig met godsdiens, nie geloof nie.  God is die gewer en ons as mense die ontvangers.  Dit is die oorkoepelende boodskap van die hele Bybel.

* Romeine 9 leer nie, myns insiens, dat God net lukraak barmhartig is teenoor sekere mense en nie teenoor andere nie.  Dit leer eerder dat God se barmhartigheid nie beskikbaar is vir mense wat hulle lewe wil rig volgens hulle eie "wil" en "strewe" nie.  Dit is eie-geregtigheid en God haat dit (9:13).  Die konteks van Romeine 9 is die godsdienstige mens (histories hier die Jode) se hardkoppige weiering om te aanvaar dat God nooit tevrede sal wees met ons eie pogings tot geregtigheid nie (sien Romeine 10:1-4).  Kain se gesindheid in Genesis 4 is waarskynlik die beste voorbeeld hiervan.

Thursday, 15 April 2021

ELKE OGGEND BESOEK HY ONS MET VARS GENADE EN NUWE LERING VIR DIE DAG

 Dit is aangrypend om te dink dat God ons regdeur die dag, maar veral in die oggende besoek om te kyk of ons gees (hart) gaan reageer en of ons in hierdie dag op Hom gaan fokus in liefde en aanbidding.

"Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?  En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?"  Job 7:17-18  (OAV)

“What  is man, that You should exalt him, That You should set Your heart on him, That You should visit him every morning, And test him every moment?"  Job 7:17-18 (NKJV)

Elke oggend sonder uitsondering "soek" Hy ons, kom kyk Hy of ons hart hierdie nuwe dag op Hom gerig gaan wees. 

"Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die Here. Daarom vertrou ek op Hom.”  Klaagliedere 3:23-24 (NLB)

'n Nuwe dag bring nuwe genade en ontferming en 'n nuwe kans om te fokus!  Hoe kan daar ooit iets of iemand beter wees om op te fokus as die almagtige, lewende God; Skepper van hemel en aarde en die Een wat ons lewe letterlik elke oomblik in Sy hande hou.

"U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. Vertrou deurgaans op die Here, want die Here God is vir altyd ’n veilige toevlug."  Jesaja 26:3-4 (NLB)

Hy soek ook elke môre ons aandag sodat Hy ons geestelik kan voed met die oog op bediening aan andere.

"Die oppermagtige Here het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ’n leerling betaam." Jesaja 50:4 (NLB)

Thursday, 8 April 2021

CHRISTUS IS LETTERLIK JOU LEWE, NIE NET IN 'N GEESTELIKE SIN NIE

 Die opstanding van Jesus uit die dode het alles op aarde vir altyd verander.  Daarom is die sentrale tema van die boek Handelinge die opstanding van Jesus. 

Ons is geneig om ons begrip van ons nuwe lewe in Christus te verskraal tot iets wat net betrekking het op die geestelike.  Die realiteit is egter dat ons vanuit God se perspektief letterlik net lewe het a.g.v. die opstanding van Jesus. 

"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word."  Kolossense 3:4

Christus ís ons lewe!  Dit is nie net 'n mooi cliché wat ons op Sondae teenoor mekaar uitspreek nie.

Sonder die opstanding het ons geen hoop nie.

"As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof."  1 Korinthiërs 15:13-14

"Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie." 1 Korinthiërs 15:50

Paulus se stellings oor ons eenheid met Christus moet dus tot 'n groot mate verstaan word in die lig van die opstanding van Jesus. 

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galasiërs 2:20

"Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins."   Filippense 1:21

Ons "geloof in die Seun van God" is ten diepste geloof in Sy opstanding en dat hierdie opstandingslewe in ons onverganklik is.

"En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon."  Romeine 8:11

Daarom is ware geestelike groei altyd in die Nuwe Testament verbind aan 'n groeiende vertroue in die lewe van Christus in ons en dit staan direk teenoor 'n vertroue in ons eie lewenskrag, energie en vermoëns; ja selfs vertroue in ons eie fisiese lewe!

"Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek." 2 Korinthiërs 1:8-9

Vir baie gelowiges vandag is die boodskap van Christus in ons wat ons enigste lewe is 'n soort van 'n opsionele ekstratjie by die boodskap oor vergifnis deur Sy bloed.  Vir die gelowiges in die Nuwe Testament, wat geleef het in die werklikheid van gedurige vervolging, was dit die enigste boodskap van hoop en die mees kosbare waarheid denkbaar.

Wednesday, 24 March 2021

WANNEER HET ONS ASSOSIASIE MET JESUS BEGIN?

Een van die belangrikste vrae wat ons ooit kan vra is wanneer ons assosiasie met Jesus begin het, want dit verhelder en verryk nie net ons kennis van onsself nie maar ook ons kennis van Jesus.  Die antwoord op hierdie vraag los ten diepste die mens se identiteitsprobleem op. So wanneer het hierdie assosiasie begin?

  • Was dit by die skepping van Adam?
  • Was dit by die belofte van verlossing in Genesis 3 vers 15?
  • Was dit in die vele profesieë oor Hom in die Ou Testament?
  • Was dit by die vleeswording van Jesus?
  • Was dit by sy kruisiging, of sy opstanding, of toe Hy gaan sit het aan die regterhand van die Vader?
  • Of was dit nog verder terug in die ewige verlede?

Een groep in die kerk sê net sekere mense het 'n assosiasie met Jesus en daarom is hierdie mense die uitverkorenes met wie Jesus eksklusief geassosieer het en steeds assosieer.  Jesus het daarom ook net vir hulle gesterf en die res het geen gronde vir assosiasie met Hom nie.  'n Mens kan nie help om dan te wonder na wie se beeld en gelykenis hierdie hopeloses geskape is nie?  Miskien moes Paulus dan eerder in Handelinge 17 vir die Atheners gesê het:

"Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. [D.w.s 'n sekere groep van ons].  Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘['n Klompie van] ons stam ook van Hom af."  Handelinge 17:28

'n Ander groep sê dat daar geen assosiasie met Jesus is voor iemand nie kies vir Jesus deur in Hom te glo nie.  D.w.s. assosiasie met Hom is alles van ons kant af.  Sy dood en opstanding was dus net historiese feite in die geskiedenis wat eers die mens in die prentjie bring die dag wat hy glo. 

'n Derde groep glo dat alle mense op so 'n wyse met Jesus geassosieer is dat daardie assosiasie alle mense in die hemel sal bring, ongeag of hulle glo in Hom of nie.

Ek glo dat die Bybel leer ons assosiasie met Jesus het in die ewige verlede begin, dat Jesus as't ware die bloudruk van die mens is en dat die mens vir hierdie rede geskep is na Sy beeld en gelykenis.  Dit is hoekom Jesus vlees kon word en ons verlossing kon bewerkstellig as die "Seun van die mens".  Dit is ook die primêre rede vir die identifikasie-taal ("saam met Hom") van die Nuwe Testament.  Dit is ook hoekom Hy kom bly in elkeen wat in Hom glo en hoekom ons Sy bruid word wanneer ons glo.  Want dit was van die begin af die Vader se plan toe Hy die mens geskep het na die beeld van Sy Seun.

Om in Jesus te glo beteken vir seker dat ek nodig het om te glo Hy is die beloofde Messias van die Ou Testament en dat Hy gesterf het vir my sondes (1 Kor. 15:3) en opgestaan het vir my regverdigmaking (Rom. 4:25). Alle dissipels glo addisioneel dat Hy die Verlosser en die Here is wat weer sal kom om Sy kinders te kom haal.

Maar om in Jesus te glo volgens die volle openbaring van die Nuwe Testament beteken ook dat ek glo dat Hy alleen die waarheid is (en nog altyd was) oor die mens; oor alle mense, nie net die wat in Hom glo nie. 

"Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie." Johannes 1:9-10

Die groot hartseer en tragedie is dat party mense weier om hierdie assosiasie te erken en daarom sal diegene wat volhard in ongeloof vir ewig verwyder leef van hierdie Een wat alleen die geheimenis van menswees kan ontsluit.

"Naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie." 2 Korinthiërs 4:4

"In vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte." 2 Thessalonicense 1:8-9

As Jesus nie die waarheid is oor ons lewens nie het ons nie veel van 'n evangelie nie.  Die waarheid oor die mens is nie sy gevallenheid nie.  Dit ís waar en dit ís die feite van die praktyk, maar DIE waarheid oor die mens se lewe en identiteit word gevind in 'n Persoon en in ons ewige assosiasie met Hom.  Sy naam is Jesus.

As jy dit glo begin jy anders kyk na God, die mens, die val, verlossing, evangelisasie, die Bybel en die lewe.

Thursday, 18 March 2021

DIE EEN ENKELE FOKUS WAT ALLE ANDER DINGE INTEGREER

Kan ons in die liggaam van Christus 'n enkele fokus hê waaruit al die ander dinge voortspruit?

Die antwoord is 'n dawerende, "Ja"!  Die hele Nuwe Testament is 'n verhandeling en behandeling van hierdie Een Ding.  Kolossense 1 verse 15 tot 20 gee vir ons die lens waardeur ons as't ware alles in die Bybel en in die skepping moet sien.

"Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele."

Die wese van God, die evangelie, verlossing, genade, geregtigheid, werke, regverdiging, heiliging, eskatologie, gebed, die gemeente, leierskap, gawes, bedieninge, evangelisasie, familielewe en alle ander teologiese temas is nie ontkoppelde en aparte dinge of sake nie. Hulle is vanuit God se perspektief van nature en in wese gekoppel aan Christus. Paulus en die apostels het nie net gaan sit en oor hierdie sake geskryf as 'n legio onverwante dinge op hul eie nie. Hulle het daaroor geskryf IN DIE AANGESIG VAN CHRISTUS (2 Kor. 4:6). Hulle het geskryf in die lig van die openbaring van Kolossense 1 verse 15 tot 20, en hulle het verwag dat hulle geskrifte "in die aangesig van Christus" gelees sou word.

Hulle het nooit bedoel dat hierdie sake goue kalwers sou word wat gelowiges se aandag ván Christus sou afneem nie! Nooit nie!  Dit is net wanneer ons leef, lees, studeer, praat, bedien, evangeliseer, uitreik, preek, ontspan, en gemeentelewe, gesinslewe en vriendskap beleef IN DIE AANGESIG VAN CHRISTUS dat ons God se Koninkryk bevorder. Want God se Koninkryk funksioneer vanuit een enkele fokus, die pre-eminensie van Jesus.  Dit kan op niks anders as CHRISTUS ALLEEN gesien, gebou of gemanifesteer word nie!

Monday, 15 March 2021

MOENIE VAN JESUS 'N VOETNOTA VIR PROFESIE MAAK NIE

Ons leef in 'n tyd waarin mense persoonlike woorde van profesie vir hulle eie lewens najaag en die boodskap oor Jesus as't ware sien as 'n voetnota van profesie.  Die hoofvertelling (main narrative) is wat jy my alles kan vertel van myself en "ja, ons ken mos die storie oor Jesus; ek soek nou iets persoonlik".  Dit is op sy beste 'n totaal verkeerde verstaan van hoe profesie funksioneer in die Nuwe Testament en op sy slegste 'n resep vir die ruïnering van 'n lewe.

"En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie." Openbaring 19:10 (OAV)

Then I fell down at his feet to worship him, but he said, “No, don’t worship me. I am a servant of God, just like you and your brothers and sisters who testify about their faith in Jesus. Worship only God. For the essence of prophecy is to give a clear witness for Jesus.” Revelation 19:10 (NLT)

Then I fell down at his feet to worship him, but he [stopped me and] said to me, “You must not do that; I am a fellow servant with you and your brothers and sisters who have and hold the testimony of Jesus. Worship God [alone]. For the testimony of Jesus is the spirit of prophecy [His life and teaching are the heart of prophecy].” Revelation 19:10 (Amplified)

Jesus is die vervulling van al die profesieë van die Ou Testament en Hy is daarom ook die sleutel tot die uitrol van God se plan vir jou en my lewe.  Kyk maar net in die evangelies wat gebeur wanneer mense Jesus ontmoet en hulle knieë buig voor hom.  Skielik verander alles.  Hoekom? Want jy sien jou verlede, hede en toekoms oombliklik in 'n totaal ander lig.  God se plan vir jou lewe gaan vir jou oop wanneer jy Jesus sien met die oë van jou hart.

Kyk na die volgende tekste en voeg hulle saam.  Moet hulle nie in isolasie lees nie.

"Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien." 1 Petrus 1:10-12

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte." 2 Petrus 1:19

"Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here." Kolossense 3:16

"Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging." 1 Korinthiërs 14:3

Vir seker is prediking wat nét fokus op 'n leerstellige, objektiewe en historiese verkondiging van Jesus nie die norm van die Nuwe Testament nie en dis miskien hoekom mense so jaag na wat hulle noem " 'n persoonlike en spesifieke woord vir my lewe".  Daar het 'n vakuum in die kerk ontstaan a.g.v. 'n prediking wat nooit die evangelie persoonlik maak nie en daardie vakuum word gevul deur 'n verkeerde verstaan van profesie.

Die norm van die Nuwe Testament is daarteenoor die verkondiging van die historiese Jesus, ja vir seker, maar op so 'n manier dat dit ons moet bring by die "sien" van Jesus in die innerlike mens.  En dit beteken ook dat ek Hom moet sien as die totale antwoord van God vir álles in my lewe! So nie het ek Hom nog nie GESIEN nie.

"En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is." 2 Korinthiërs 3:18

Die oomblik wat ons Jesus só sien begin alles sin maak en sien ons ook ons eie lewe as't ware in kleur en met dimensie en diepte en ons begin verstaan hoe lyk 'n lewe onder die heerskappy van hierdie wonderlike Jesus.  Daarteenoor is wat ons noem "persoonlike woorde" van profesie slegs 'n voetnota wat dalk die groter prentjie bietjie duideliker maak, maar die openbaring van Jesus en my reaksie op Hom bly die hoofvertelling (main narrative) van my lewe.

As my openbaring van Jesus vaag en as't ware vervelig raak vir my, begin my toekoms ook vaag raak en geen "persoonlike woorde" van watter "profeet" ookal kan dan die narratief van my lewe herstel en terugplaas op die regte baan nie.  Tensy daardie profeet my terugroep na die persoonlike openbaring van Jesus en 'n lewe in lyn met daardie openbaring! Dan word alles weer helder, lieflik en doelgerig.

"En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand." Kolossense 1:17

Jesus self is die mees wonderlike "profetiese woord" wat jy ooit kan ontvang!  Moenie van Hom 'n voetnota maak nie.  Die ware profete vandag is diegene wat ons terugroep na ons almal se behoefte aan 'n persoonlike en aanhoudende innerlike openbaring van die Algenoegsame Jesus.

Thursday, 11 March 2021

VERVULLING IS IN DIE WYNSTOK, NIE IN DIE LOOT NIE

As ek na jou toe kom en ek sê: "Leef vanuit vervulling, nie ná vervulling nie", m.a.w. "wees vervuld" hier-en-nou, kan jy dalk antwoord dat ek nie jou lewe en omstandighede ken nie.  "Hoe kan jy dit vir my sê as jy nie weet wat in my lewe aangaan nie?" 

Die rede hoekom ons dit kan doen, is omdat ons die wynstok (Jesus) ken en weet wat die Bybel van Hóm sê.  Ons identiteit is nie in die loot (onsself) nie, maar in die wynstok. 

Jesus is volkome, die evangelie is volkome (kant-en-klaar) en daarom kan ons sê ons is volkome (vervuld) "in Hom".

"Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag." Kolossense 2:9-10

"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." Johannes 15:5

Die loot se vervulling is nie in homself nie, maar in die wynstok.  Die loot het onmiddellike toegang tot die volheid van die wynstok.  Om in Jesus te "bly" is om in vervulling te bly.  Dit is om gedurig te leef met die bewussyn dat jy in die wynstok is en dat jou identiteit en lewe net in hierdie wynstok te vinde is.

'n Loot wat eenkant lê en afgesny is van die wynstok het vir seker goeie rede om bekommerd te wees oor "sy omstandighede".  Maar die evangelie verkondig dan juis ons verbintenis met Christus (die wynstok)!  Tensy jy dit nie glo nie en dán het jy 'n groot probleem.  Ongeloof laat die loot aan homself oor en omdat hy nie in homself lewe het nie gaan hy verdor en sterf.

"As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand." Johannes 15:6

Die hele Nuwe Testament roep ons op tot geloof!  Geloof dat volheid en vervulling net in Jesus te vinde is en geloof dat die Vader ons voor die grondlegging van die wêreld uitverkies het om ons lewe en identiteit "in Hom" te vind (Efes. 1:4).

Tuesday, 9 March 2021

IS JOU SIEL 'N "BIG BLACK HOLE" OF 'N "TUIN VAN EDEN" VIR ALMAL RONDOM JOU

Ons ken almal mense wat altyd onvergenoegd is.  Dit asof hulle siele 'n "big black hole" is wat alles intrek en nooit teruggee nie.

"Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie!" Spreuke 30:15

Sulke mense het die wonderbaarlike vermoë om selfs 'n feestelike geleentheid te omskep in 'n beproewing.  En tog leef die meeste van ons so iewers tussen vervulling en onvergenoegdheid. Wat het die Nuwe Testament hieroor te sê?

"Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God." 1 Korinthiërs 3:21-23

"Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle."  1 Thessalonicense 5:16-18

Ongeag jou omstandighede kan jy leef in vervulling omdat Jesus in Sy heerlike volheid in jou woon.  Vervulling is 'n daaglikse geloofsbesluit.  Vervulling is ook 'n opdrag in die Bybel.

 "Moenie dronk word van wyn nie [valse vervulling] — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul." Efesiërs 5:18

Hierdie opdrag mag dalk vir jou so abstrak klink dat jy nie weet hoe om dit te gehoorsaam nie.  Maar let op die woordjie "vervul".  Dit ontsluit die vers.  Die Heilige Gees stimuleer ons geloof in Jesus, veral via die Bybel, maar Hy reageer ook op ons geloof in Christus.  Die oomblik wat ons glo wat Hy ons wil leer, nl. dat daar net in Christus volledige vervulling is, gee Hy vir ons die BELEWENIS van vervulling.  Om  vervul te wees met die Gees is dus om in geloof te reageer op Sy bediening aangaande die algenoegsame Jesus!

"Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig." Johannes 16:14

Miskien is daar verskeie dinge in jou lewe wat jou frustreer en is jou omstandighede ver van ideaal.  Maar jy hoef nie in onvergenoegdheid te lééf nie! Luister in geloof na die Heilige Gees se boodskap oor totale vervulling in Jesus hier-en-nou en jy kan dadelik die grootste moontlike verandering in jou daaglikse lewe beleef. 

Wat 'n reuse verskil tussen 'n vreugdevolle lewe vanuit vervulling en 'n lewe van onvergenoegdheid en murmurering.  Nie net vir jouself nie, maar ook vir die mense rondom jou.  Dit is 'n leuen dat vervuldheid net te vinde is in daai wonderlike, maar ontwykende stel omstandighede wat jy dalk al vir jare najaag.  'n Beter huis, beter motor, meer geld, beter liggaam, of beter man of vrou of kinders.  Nee.  Vervuldheid is 'n Persoon.  Sy naam is Jesus.

THE MYSTERIOUS CLOSENESS OF GREATNESS

 

The great moments of life are right in front of you in the people who will surround you today and when you give expression to the love of God shed abroad in your heart (Rom. 5:5) it becomes a special day filled with grace. 

Instead of trying to do great things spectacularly, do small things with great love and heaven will register that as great and special.

Wednesday, 3 March 2021

DIE KOPSKUIF WAT ALLES VERANDER

Die grootste verskil tussen die Christenskap van die Nuwe Testament en Christenskap vandag is dat ons Jesus sien as 'n middel tot 'n doel, terwyl die N.T. Hom openbaar ás die doel.

Hy gee nie net geregtigheid nie. Hy ís geregtigheid. Hy gee nie net wysheid nie. Hy ís wysheid. Hy gee nie net waarde nie. Hy ís waarde. Hy is nie net die middel tot beter kinderopvoeding nie, Hy is die Alfa en Omega van my kinders se opvoeding. Hy gee nie net 'n beter huwelik nie, Hy is die DNA van my huwelik en alle menseverhoudings.

Hy is nie net die middel tot my verlossing nie. Hy ís my verlossing. Hy is my vrede, my vreugde, my waarde en my welvaart. Hy is my begin en my einde. Vir een of ander rede kan mense vandag oor en oor die boodskap van  "Christus-ons-alles" hoor en dit steeds interpreteer as 'n "Jesus-die-middel-tot-goeie-dinge" boodskap. Dis verstommend!

Maak die kopskuif. Gaan lees Johannes, Efesiërs, Kolossense en Filippense 'n honderd maal totdat dit die lens word waardeur jy die hele Bybel sien...en dan waardeur jy die hele lewe sien. Dit moenie net jou filosofie of lering wees nie, maar jou enigste werklikheid. Dan sal jy nie meer Jesus wil gebruik om dinge te verander nie, maar jy sal Hom beleef AS die verandering van alle dinge.

Monday, 1 March 2021

NUWE DENKE, NUWE LEWE: NOU OF LATER?

 Die meeste mense het geen probleem daarmee om te glo dat hulle eendag in die hiernamaals in 'n ander dimensie met 'n splinternuwe identiteit gaan leef nie. Die Nuwe Testament leer egter ons het hier-en-nou reeds 'n nuwe identiteit in 'n ander dimensie en dat ons moet begin dink en leef vanuit daardie identiteit en dimensie (Kolossense 3:1-3; 2 Kor. 5:17).

Die massas sluk maar swaar aan laasgenoemde, maar tensy jy jou aardsgebonde denke laat vaar gaan jy nie die mas opkom en in oorwinning kan staan teen die diaboliese planne van die duisternis van ons tyd nie.

Wednesday, 24 February 2021

DIE SKEMERGEBIED VAN GODSDIENS

"As jy leef in die skemergebied (twilight zone) tussen godsdiens en die krag van die evangelie kan jy vir jare die boodskap van "nie ek nie, maar Christus in my" (Gal. 2:20) hoor en steeds glo dat jou eie wilskrag en pogings eintlik maar die deurslaggewende faktor is vir oorwinning. Wat 'n tragedie!"

Thursday, 11 February 2021

JOU BYBEL BEGIN NIE IN GENESIS 1 VERS 1 NIE

Wanneer dinge moeilik raak, gaan terug na die begin.  Die heel begin.  Jou Bybel begin nie in Genesis 1 vers 1 nie maar in Johannes 1 vers 1 en Efesiërs 1 vers 4. 

"In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie." Johannes 1:1-3

"Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees." Efesiërs 1:4

Paulus skryf sy brief aan die Efesiërs tydens Romeinse gevangenskap. Johannes skryf sy evangelie eweneens in baie moeilike tye vir die dissipels en gemeentes; tye van vervolging en afvalligheid. Beide Johannes en Paulus neem ons terug na die heel begin (voor die skepping) sodat ons kan dink vanuit die ewige verlede. Niks gee vir 'n ware dissipel van Jesus soveel rigting en niks gee meer troos in moeilike omstandighede as om die ewige voorneme van God in Sy Seun te bedink nie.

"Volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here."  Efesiërs 3:11

"This was according to the eternal purpose which He purposed in Christ Jesus our Lord." Ephesians 3:11

Die probleem is egter dat dit vir ons dikwels so teenproduktief skyn te wees om in moeilike omstandighede weg te kyk van die dinge rondom ons en die onstuimigheid in ons binneste en werklik te fokus op iets wat vir ons miskien esoteries klink en ver verwyder van ons daaglikse lewens.

Maar onthou, niks kan tog meer sin maak vir 'n dissipel van Jesus as om dinge vanuit die Vader se perspektief te sien nie!  Sy perspektief is die Seun en ons assosiasie met die Seun, selfs voor die skepping.  Dit is die essensie van ware geloof; om te sien dat God die Vader van die begin af beplan het dat ons sou lewe in, deur en vanuit die Seun.  Dit gee ons weer ankers, vleuels en nuwe moed om IN CHRISTUS uit te styg bo ons omstandighede.

Tuesday, 2 February 2021

'N KOEI WAT STAAR NA 'N NUWE PLAASHEK

 Jy het 'n gees en dit is nie jou siel nie!

Al ooit gewonder hoekom dit so moeilik is vir jou om rus te vind in jou binneste?  Al ooit gewonder hoekom jy kan glo en bely dat die werk van Jesus afgehandel en volmaak is, maar in jou binne-wêreld beleef jy nie veel daarvan nie?  Dit kan wees omdat jy nog nooit 'n openbaring gekry het van die feit dat jou gees iets anders is as jou siel nie.

"Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom."  1 Korinthiërs 6:17

"Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart." Hebreërs 4:12

"En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 5:23

Dit is 'n glashelder en onaanvegbare leer van die Nuwe Testament dat die objektiewe en uiterlike verlossingswerk van God in Christus bedoel is om vir dissipels 'n subjektiewe en innerlike belewenis te wees.  Een van die grootste redes (nie die enigste rede nie) hoekom die werklikheid van hierdie "groot saligheid" (Heb. 2:3) nie 'n plek kry om as't ware te land in dissipels se ervaring nie is omdat so baie amper geen insig het in die verskil tussen die siel en die gees van die mens nie. 

Ja, ek is deeglik bewus van al die teologiese argumente wat die twee (siel en gees) wil saamgooi asof daar geen verskil is nie.  Daar is net sulke goeie teologiese argumente aan die ander kant, maar natuurlik nie in die hoofstroom van die populêre teologie nie.  As ons egter vir 'n oomblik die saak minder direk benader, d.w.s. nie net m.b.t. die manier wat die woorde "siel" en "gees" gebruik word in die Skrif nie ("paralysis by analysis"), maar die persoonlike toepassing van verlossing in die lewe van elke dissipel sien ons dat dit hier gaan oor meer as net woorde en terminologie.

Ek wil nie onnodig op tone trap nie, maar dit is ongelukkig waar dat in die meeste gevalle mense se reaksie op die lering en belydenis van die waarheid van "ons in Christus" en "Christus in ons" soortgelyk is aan die uitdrukking van 'n koei wat staar na 'n nuwe plaashek (hy weet nie wat dit is of wat om daarmee te maak nie).  Een van die hoofredes hiervoor is omdat mense instinktief weet dat die werk van God in hulle siel (hulle denke, emosies en wil) vir seker nie afgehandel is nie, so hoe kan hulle 'n INNERLIKE BELEWENIS (wat lei tot rus) van die afgehandelde werk van Christus en die diep geestelike waarheid van eenheid met Hom hê.  Hmmm...dit is presies die punt!  Dit is NIE in jou siel nie, dit is in jou gees!

Dit is gewoonlik eers wanneer jy begin besef dat jy 'n gees het (die menslike gees) wat dieper in lê (taal is beperk in die oordrag hiervan) dat die kosbare waarheid van jou eenheid met Christus en Sy werklike (nie simboliese) inwoning diep in jou binneste vir jou openbaring raak.  Kan dit wees dat daar 'n "dimensie" binne in my is wat werklik losstaan van my teologies verwarde denke, my op-en-af emosies en hierdie onbetroubare wil (wilskrag) van my?  Daar is!   Die dag wat jy dit sien en glo verander alles.