Daar is tye in die lewe van 'n dissipel van Jesus wat die gebed van
Psalm 22 jou gebed word en die woorde eggo in jou hart asof jy dit self
neergepen het.
"My God, my
God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie
swyg nie." Psalms 22:2-3
Die eerste woorde van vers 2
is natuurlik die woorde wat Jesus uitroep aan die kruis in volle identifikasie
met die mens in sy diepe verlorenheid en onuitspreeklike wanhoop (Matt. 27:46). Maar al voel dit soms in onverstaanbare
omstandighede selfs vir die ware dissipel of God ver van hom is, kan hy rus in
'n opstanding aan die ander kant van die kruis.
Dit is juis hierdie kruis en opstanding wat ons die wete gee dat God wel
teenwoordig is en dat Hy ons, en ons omstandighede, ten diepste ken. Die gebed in 'n ander Psalm verwoord hierdie
werklikheid met verstommende insig en helderheid.
"HERE, U
deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al
my weë goed bekend." Psalms 139:1-3
Gaan lees Psalm 22 en Psalm
139 na mekaar en weet dan dat jy kan rus in die vaste wete dat God jou ken in
Christus selfs al voel dit soos 'n stikdonker tyd in jou lewe. Dit is by uitstek hierdie geloofsvertroue wat
weer die vrede van God in jou omstandighede bring.